Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kolletjies voor jou oë?

Kolletjies voor jou oë?

Kolletjies voor jou oë?

Jy het hulle waarskynlik al gesien—klein grys vlekkies net buite fokus wat lyk of hulle voor jou oë ronddryf. Jy merk hulle moontlik op terwyl jy lees of na ’n ligte muur of ’n wolklose hemel kyk.

AS JY al ooit op een van hierdie vlekkies probeer fokus het, weet jy dat dit onmoontlik is. Die kleinste beweging van jou oog laat hulle vinnig wegskiet, en selfs as een in jou gesigslyn afbeweeg, kan jy nog steeds nie uitmaak wat dit is nie.

Wat is hierdie vlekkies? Is hulle op die oppervlak van jou oogbol, of is hulle binne-in jou oog? Knip jou ooglede sonder om jou oë te beweeg. As die kolletjies se beweging verander of verdwyn, is hulle op die oppervlak en is hulle nie die onderwerp van hierdie artikel nie.

Maar as daar weinig of geen verandering is nie, is hulle binne-in die oog, drywend in die glasvog, die vloeistof wat die binneste ruimte van jou oogbol vul. Aangesien hulle agter die lens van die oog is, bly hulle onduidelik. En aangesien die glasvog ’n jellie is wat nie veel dikker as water is nie, kan hulle dryf en wegbeweeg wanneer jy probeer om direk na een te kyk. Dit is hiervan wat hulle mediese naam afgelei is—muscae volitantes, wat “vlieënde vlieë” beteken.

Waar kom hulle vandaan?

Maar presies waar kom hierdie kolletjies vandaan? Party is oorblyfsels van prosesse wat voor jou geboorte plaasgevind het. Vroeg in ’n baba se ontwikkeling is die binnekant van die oog nogal veselagtig. Teen die tyd wat die baba gebore word, het hierdie vesels en ander selle verander om die glasvog te vorm. Party selle en veseldeeltjies kan egter agterbly, en hulle dryf vry rond. Daar is ook ’n kanaal tussen die oogsenuwee en die lens waarin daar in die ongebore baba ’n aar is wat na die lens loop om dit te voed. Die aar kwyn weg en word gewoonlik voor geboorte geabsorbeer, maar klein deeltjies daarvan kan agterbly.

Daar is egter ander bronne. Selfs in ’n volwassene bestaan die glasvog nie net uit jel nie. Dit word deur die delikate glasvogvlies omring. Dit is vasgedruk teenaan die retina, die skerm van liggevoelige weefsel wat die grootste deel van die binnekant van jou oog uitvoer en vasvang wat jy sien. Die glasvogvlies is al om die voorkant van die retina vas. Van hierdie lasplek af straal klein veseltjies dwarsdeur die glasvog.

Namate ons ouer word, begin hierdie veseltjies krimp. Dit laat party van hulle afbreek. Die glasvog word ook vloeibaarder, met die gevolg dat veselstukkies wat afgebreek het makliker daarin kan ronddryf. Die glasvog self krimp ook baie effentjies en begin wegtrek van die retina, wat ander selafval kan agterlaat. Soos jy ouer word, sal jy dus meer van hierdie “vlieënde vlieë” in jou gesigsveld sien ronddryf.

Nog ’n bron van drywende deeltjies is moontlik die bloedvate van die retina. ’n Hou teen die kop of te veel druk op die oogbol kan veroorsaak dat ’n klein vaatjie ’n string rooi bloedselle vrystel. Rooi selle is klewerig en is dus geneig om ’n tros of ’n ketting te vorm. Enkele selle of trosse kan in die glasvog inbeweeg, en as hulle naby die retina bly, kan hulle sigbaar wees. Die liggaam kan rooi selle absorbeer, met die gevolg dat hulle uiteindelik verdwyn. Tegnies gesproke is hulle nie muscae volitantes nie omdat hulle die gevolg van ’n klein besering is.

Dui die teenwoordigheid van muscae volitantes aan dat iets verkeerd is? Gewoonlik nie. Mense met normale oë, selfs jongmense, sien dit, en hulle leer mettertyd om dit te ignoreer. Maar sekere toestande kan ’n aanduiding van iets ernstigs wees.

Wanneer dit ernstig is

As jy skielik baie meer spikkels as tevore sien, kan dit beteken dat iets abnormaals besig is om te gebeur. Dit is veral waar as jy klein ligflitse binne-in jou oog sien. Hierdie verskynsel kom van die retina, waar lig in senu-impulse omgesit word. Die vloed van drywende deeltjies en die ligflitse is gewoonlik die gevolg van die een of ander vorm van retinaloslating. Hoe gebeur dit?

Die retina se digtheid en dikte is soortgelyk aan dié van ’n stukkie klam sneespapier en is omtrent net so delikaat. Die liggevoelige laag is vasgeanker aan die laag agter dit, aan die glasvog net by die voorkant, by die oogsenuwee en lossies by die brandpunt. Die glasliggaam help om die res van die retina op sy plek te hou. Die oog is so elasties dat selfs ’n hou teen die kop of oog nie gewoonlik veroorsaak dat die retina skeur of losraak van sy basis nie.

’n Hou kan egter skade aanrig wat die retina op ’n sekere plek verswak of ’n klein skeurtjie of gaatjie veroorsaak. So ’n gaatjie kan ook ontstaan as die glasvog en die retina vergroei: ’n Skielike beweging of ’n besering laat die glasvog aan die retina ruk, wat ’n klein skeurtjie tot gevolg het. Vloeistof van die glasliggaamholte kan dan agter die retina inlek, wat dit van sy basis lig. Hierdie versteuring veroorsaak dat die liggevoelige senuselle prikkels afgee, en dit word as flitse waargeneem.

Bloeding, min of baie, gaan soms met die skeur gepaard, want die binneoppervlak van die retina het sy eie netwerk van bloedvate. Bloedselle ontsnap in die glasvog in, en dit word gesien as ’n skielike vloed van drywende deeltjies. Kort hierna, namate die retina loskom, sak ’n sluier, of gordyn, van blindheid voor die gesigsveld.

As jy dus ooit ’n vermeerdering sien in die aantal vlekkies, veral wanneer dit met flitse gepaardgaan, moet jy onmiddellik na ’n oogarts of ’n hospitaal gaan! Dit kan retinaloslating wees. Regstellende maatreëls sal dalk onmoontlik wees as die retina eers te ver losgekom het.

Sien jy al jare lank kolletjies voor jou oë, maar sonder ligflitse? Dit is waarskynlik nie nodig om bekommerd te wees nie. Omtrent alle ander mense sien ook hierdie kolletjies. As jy hulle ignoreer, sal hulle nie weggaan nie, maar die brein leer om die beelde te onderdruk terwyl jy met jou daaglikse bedrywighede aangaan. Die feit dat hulle daar kan wees sonder enige werklike belemmering van ons visie getuig van die elastiese ontwerp van die oog en die aanpasbaarheid van die brein.

Maar voor hulle met sekerheid kan sê dat dit nie nodig is om bekommerd te wees nie, moet mense met drywende deeltjies deur ’n oogarts of gesigkundige ondersoek word.

[Venster/Prent op bladsy 25]

Oorsprong van moderne refraktiewe regstelling

As jy ’n voorskrifbril of -kontaklense dra, is jy dit in ’n sin aan muscae volitantes te danke. Dit was nuuskierigheid hieroor wat Frans Cornelis Donders, ’n vooraanstaande 19de-eeuse Nederlandse geneesheer, beweeg het om die fisiologie en patologie van die oog wetenskaplik te ondersoek. Benewens die identifisering van party van die bronne van muscae volitantes het hy ontdek dat versiendheid die gevolg is van die verkorting van die oogbol en dat die dowwe visie van astigmatisme veroorsaak word deur die ongelykheid van die oppervlaktes van die kornea en die lens. Sy studies het die ontwikkeling van voorskrifbrille moontlik gemaak.

[Prent]

Donders

[Erkenning]

Met vergunning van: National Library of Medicine

[Diagram op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Retina wat losgekom het

Rooi selle

Skeur in retina

Glasvogvlies

Lens

Pupil

Iris

Straalliggaam

Glasvog

Bloedvate

Oogsenuwee wat na die brein lei