Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

‘Dit sou goed wees om hulle te skep’

Professor Anatoly P. Zilber, voorsitter van die Departement van Intensiewe Sorg en Narkose, van die Universiteit van Petrozawodsk en die Republikeinse Hospitaal van Karelië, Rusland, prys Jehovah se Getuies en sê: “Hulle misbruik nie alkohol nie, hulle rook nie, hulle is nie geldgierig nie, hulle breek nie hulle beloftes nie en hulle gee ook nie valse getuienis nie . . . Hulle is nie ’n geheimsinnige sekte nie, maar wetsgehoorsame burgers.” Hy voeg by: “[Hulle] is ordentlike, gelukkige mense wat in geskiedenis, literatuur, kuns en in alle aspekte van die lewe belangstel.” Nadat die professor dan al die positiewe veranderinge opgenoem het wat die Getuies in bloedlose chirurgie teweeggebring het, sê hy: “As ’n mens Voltaire se woorde ’n bietjie kan wysig, kan ons sê dat dit goed sou wees om Jehovah se Getuies te skep as hulle nie bestaan het nie.”

Hoog in die mode?

Platformskoene, “’n absolute moet vir modebewuste jongmense”, sowel as hoëhakskoene is elke jaar verantwoordelik vir ongeveer 10 000 beserings in Brittanje, sê The Times van Londen. Steve Tyler, ’n woordvoerder vir die Britse Instituut vir Standaarde, sê: “Die algemeenste beserings is verswikte en verstuite enkels en gebreekte bene, maar hierdie skoene kan ook rugprobleme veroorsaak, veral by jong meisies wie se liggame nog ontwikkel.” In Japan het platformskoene selfs in onlangse maande tot die dood van twee vroue bygedra. In een geval het ’n 25-jarige kleuterskoolwerker wat 13 sentimeter hoë platformsandale gedra het, gestruikel, skedelbreuk opgedoen en gesterf. ’n Ander jong vrou het gesterf toe die motor waarin sy gery het ’n betonpaal getref het omdat die bestuurder, wat 15 sentimeter hoë platformstewels gedra het, nie behoorlik kon rem nie. In ’n poging om hofsake te vermy, sit sommige vervaardigers nou waarskuwingsetikette op hulle skoene.

Takies vir kinders

“Die besige ouers van vandag is ’n bietjie laks om vir hulle kinders takies te gee waarmee hulle in die huis kan help”, sê The Toronto Star. Hoewel sulke takies “nooit ’n hoë prioriteit vir kinders sal wees nie”, sê Jane Nelsen, skryfster van Positive Discipline, bou dit “selfvertroue en eiewaarde” op. Volgens ’n studie wat in die tydskrif Child verskyn het, is ’n paar realistiese huistakies vir twee- tot driejariges om speelgoed op te tel sowel as om klere in die wasgoedmandjie te sit. Kinders tussen die ouderdomme van drie en vyf jaar kan die tafel dek, skottelgoed na die opwasbak neem en hulle speelplekke skoon hou. Die 5- tot 9-jariges kan hulle eie bed opmaak, blare ophark en onkruid uittrek, terwyl 9- tot 12-jariges takies kan doen soos om die skottelgoed te was en af te droog, die vullis uit te neem, die gras te sny en te stofsuig. Nelsen voeg by dat “dit goed is om te sê wanneer jy die takies gedoen wil hê”.

Jongmense en misdaad

’n Opname deur Scottish Executive toon dat 85 persent van die seuns en 67 persent van die meisies tussen die ouderdomme van 14 en 15 in Skotland sê dat hulle gedurende die afgelope jaar ’n misdaad gepleeg het. Die koerant The Herald van Glasgow berig dat slegs 12 persent van die 1 000 leerlinge van ses skole waarmee ’n onderhoud gevoer is, gesê het dat hulle nog nooit ’n misdaad gepleeg het nie. Van die misdade waarvoor die leerlinge skuld erken het, het 69 persent van die seuns en 56 persent van die meisies eiendom beskadig. Ongeveer 66 persent van die seuns en 53 persent van die meisies het iets by ’n winkel gesteel, en amper die helfte het iets by die skool gesteel. Party het eiendom aan die brand gesteek en ’n wapen gebruik om ander te beseer. Jongmense van hierdie ouderdomsgroep het gesê dat portuurdwang ’n vername oorsaak van hulle misdade was, terwyl diegene oor 15 waarskynlik hulle misdade gepleeg het om vir dwelms te betaal.

Ontwrigtende leerlinge

Japan het tot dusver nog baie min tieneropstandigheid gehad. Maar onderwysers regoor Japan sê nou dat dit al hoe moeiliker word om orde in die klas te handhaaf as gevolg van rustelose en ontwrigtende leerlinge. Die Tokio- metropolitaanse owerheid het 9-, 11- en 14-jarige leerlinge ondervra om vas te stel hoe hulle teenoor ander mense voel. Volgens The Daily Yomiuri het 65 persent gesê dat hulle geïrriteerd en ongelukkig is met hulle vriende, 60 persent het dit van hulle ouers gesê en 50 persent van hulle onderwysers. Veertig persent het gesê dat hulle nooit of selde hulle humeur kan beteuel. Een uit 5 leerlinge sê dat hulle dinge breek om aan hulle woede uiting te gee.

“Raaiselagtige virus”

“’n Raaiselagtige virus besmet bloedvoorraad regoor die wêreld”, berig New Scientist. “Niemand weet of hierdie ‘TT’-virus gevaarlik is nie, maar party vrees dat dit lewersiekte kan veroorsaak.” Die virus, wat TT vernoem is na die voorletters van die Japannese pasiënt in wie se bloed dit heel eerste gevind is, is in “bloedskenkers gevind sowel as in pasiënte met lewerprobleme wat oortappings ontvang”. Trouens, ’n studie het getoon dat die virus in 8 van 102 Kaliforniese skenkers gevind is wie se bloed negatief getoets het vir virusse, onder meer HIV en hepatitis B en C. Na raming is die besmettingsyfer 2 persent in Brittanje, 4 tot 6 persent in Frankryk, 8 tot 10 persent in die Verenigde State en 13 persent in Japan. Wetenskaplikes “regoor die wêreld wat die TT-virus bestudeer, probeer hard om nie paniek te veroorsaak nie”, sê die artikel, maar probeer om “uit te vind of die virus enige gesondheidsgevaar inhou”.

Halsband beskerm skape

Veeboere in party gebiede in Suid-Afrika kon verwag dat jakkalse elke seisoen tot 40 persent van hulle pasgebore vee sou doodmaak. Dit het hulle nie net finansieel geknou nie, maar ook veroorsaak dat die jakkalsbevolking skerp toegeneem het. Pogings om van die jakkalse ontslae te raak, was onsuksesvol en selfs skadelik vir ander wilde diere. Maar in onlangse jare is ’n slim plan uitgedink. ’n Stywerige halsband vir skape is gemaak wat verstelbaar en herbruikbaar is en wat nie die skaap se beweging beperk of die jakkals beseer nie. Dit keer eenvoudig dat die jakkals die skaap doodbyt. Volgens die koerant Natal Witness het boere wat hierdie halsband gebruik, “gerapporteer dat daar ’n onmiddellike en permanente einde gemaak is aan die verliese wat die jakkalse veroorsaak”. En omdat die jakkalse nou net hulle natuurlike kos eet, naamlik insekte, knaagdiere en aas, neem hulle getalle af.

Wespe wat houtwerk doen

Die sluipwesp het ’n lêboor wat “met geïoniseerde mangaan of sink verhard is”, berig die National Geographic. Die wesp gebruik sy metaalboor om tot diep in die boomstam te boor en eiers op of in die liggaam van gasheerlarwes te lê. “Party kan tot drie duim [8 cm] diep in soliede hout boor”, sê Donald Quicke van Brittanje se Imperial College. Wanneer die wespe uitbroei, eet hulle die larwes wat in die hout boor en dan kou hulle vir hulle ’n pad uit die boom uit deur monddele te gebruik wat met minerale verhard is van die larwes wat hulle geëet het.

Indië se “stille bedreiging”

“Ondanks verbeteringe in gesondheid en welsyn in die afgelope paar jaar is ondervoeding nog steeds ’n ‘stille bedreiging’ in Indië”, berig The Times of India. Ondervoeding kos Indië meer as R1,4 miljard in gesondheidsorg en verlore produktiwiteit. Volgens die berig is meer as 50 persent van Indiese kinders onder vierjarige ouderdom ondervoed, 30 persent van pasgebore babas “aansienlik ondergewig” en ly 60 persent van vroue aan bloedarmoede. Meera Chatterjee, ’n senior maatskaplike ontwikkelingspesialis by die Wêreldbank, sê dat “ondervoeding nie net die lewe van individue en gesinne verwoes nie, maar ook die voordele van beleggings in opvoeding verminder en ’n groot hindernis tot maatskaplike en ekonomiese vooruitgang is”.

Ongelukkige priesters?

Gedurende die afgelope ses jaar is drie opnames oor die beeld van priesters in die Franse gemeenskap gedoen. Die jongste opname, wat in die Katolieke koerant La Croix gepubliseer is, toon dat 45 persent van Franse mense nie dink dat priesters gelukkig of tevrede is nie. Die meeste mense beskou die priester nog steeds as iemand wat na aan ander is en na ander luister. Maar die koerant sê dat “al hoe minder Franse mense hom as ’n noodsaaklike deel van die gemeenskap beskou” en dat slegs 56 persent hom as “’n getuie van God op die aarde” sien. Minder as 1 uit 3 van die algemene publiek en slegs 51 persent van gereelde kerkgangers sou hulle seun of ’n familielid aanmoedig om ’n priester te word.