Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pornografie word op die Internet beskikbaar

Pornografie word op die Internet beskikbaar

Pornografie word op die Internet beskikbaar

OOR DIE HELE WÊRELD GEBRUIK MILJOENE MENSE elke dag die Internet. Baie mense skakel daarop in om sake te doen, om op hoogte van wêreldnuus te bly, om uit te vind wat die weervoorspelling is, om oor ander lande te leer, om reisinligting te bekom of om met familie en vriende in verskeie wêrelddele te kommunikeer. Maar party—getroude en ongetroude volwassenes, asook ’n verbasende aantal kinders—sal die Internet vir ’n heeltemal ander rede gebruik: OM NA PORNOGRAFIE TE KYK.

REKENAARPORNOGRAFIE, of kuberpornografie, is so gewild dat dit ’n multimiljoenrandbedryf geword het. The Wall Street Journal het gesê: “As jy ’n Webtuiste vind wat [winsgewend] is, is sy bedrywighede en inhoud heel waarskynlik pornografies van aard.”

Die Journal het verder verduidelik waarom mense op die Internet na pornografie kyk: “Klante kan na gewaagde materiaal kyk sonder om in ’n smerige boekwinkel in te sluip of selfs na die agterkamer van die plaaslike videowinkel te gaan. Klante kan in die privaatheid van die huis—of kantoor—na prikkelende materiaal kyk.”

Pornografie en kinders

Ongelukkig is baie van diegene wat na kuberpornografie kyk kinders. Kinders wat deur die wet verbied word om pornografiese lektuur te koop of pornografiese video’s te huur, kan in hulle eie huis met ’n paar klieke van die muis toegang hiertoe verkry. Die keuses is eindeloos.

Baie kinders besoek gereeld Internetruimtes sonder dat hulle ouers daarvan weet. Trouens, The Detroit News sê dat “meer as twee uit vyf kinders ingeteken het op ’n webtuiste of ander diens op die Internet, al het byna 85 persent van hulle ouers reëls daarteen”.

Hoewel die meeste kinders—asook volwassenes—versigtig is om die feit weg te steek dat hulle na pornografie kyk, dink nie almal dat dit nodig is nie. Party beskou die gebruik as ’n onskadelike vorm van ontspanning. Ander erken dat pornografie nie goed vir kinders is nie, maar redeneer dat volwassenes kan doen wat hulle wil wanneer hulle alleen is.

In party lande het die geskil oor pornografie in ’n volskaalse politieke stryd verander. Aan die een kant van die geskil is voorstanders van vryheid van spraak wat hulle ten gunste van pornografie beywer, en aan die ander kant probeer verdedigers van gesinswaardes druk op die owerhede uitoefen om pornografie te verbied.

Ontwaak! kies nie kant in politieke geskille nie. Die doel van hierdie reeks is om ons lesers in te lig oor die gevare van pornografie, om maniere voor te stel waarop hulle hulleself en hulle geliefdes kan beskerm en om Bybelse wenke te gee vir enigiemand wat deur pornografie verstrik is en hulle daarvan wil bevry.