Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verander God?

Verander God?

Die Bybel se beskouing

Verander God?

DIE antropoloog George Dorsey het die God van die “Ou Testament” as “’n wrede God” beskryf. Hy het verder gesê: “Jahweh is . . . uiters onaantreklik. Hy is die God van plunderaars, van martelaars, van krygers, van verowering.” Ander het soortgelyke gevolgtrekkings aangaande die God van die “Ou Testament”—Jahweh, of Jehovah—gemaak. Party wonder gevolglik vandag of Jehovah wel ’n wrede God was wat sy karakter uiteindelik verander het en die liefdevolle en barmhartige God van die “Nuwe Testament” geword het.

Hierdie opvatting oor die God van die Bybel is niks nuuts nie. Dit is aanvanklik deur Marcion, ’n semi-Gnostikus van die tweede eeu G.J., voorgestaan. Marcion het die God van die “Ou Testament” verwerp. Hy het daardie God as wreed en wraaksugtig beskou, ’n tiran wat materiële belonings aan diegene voorhou wat hom aanbid. Aan die ander kant het Marcion die God van die “Nuwe Testament”—soos hy deur Jesus Christus geopenbaar is—as ’n volmaakte God beskryf, ’n God van opregte liefde en barmhartigheid, genadig en vergewensgesind.

Jehovah pas aan by veranderende omstandighede

God se naam, Jehovah, beteken “Hy laat word”. Dit impliseer dat Jehovah homself die Vervuller van al sy beloftes laat word. Toe Moses God gevra het wat sy naam is, het Jehovah die betekenis daarvan so verduidelik: “Ek sal blyk te wees wat ek sal blyk te wees” (Exodus 3:14, NW). Rotherham se vertaling stel dit so: “Ek sal word net wat my behaag.”

Jehovah word, of blyk te wees, dus wat ook al nodig is om sy regverdige voornemens en beloftes te vervul. ’n Bewys hiervan is die feit dat hy ’n wye reeks titels het en op baie maniere beskryf word: Jehovah van die leërs, Regter, Soewerein, Jaloers, Soewereine Heer, Skepper, Vader, Grootse Onderrigter, Herder, Hoorder van die gebed, Terugkoper, gelukkige God en baie ander. Hy het homself al hierdie dinge—en veel meer—laat word om sy liefdevolle voornemens uit te voer.—Exodus 34:14; Rigters 11:27; Psalm 23:1; 65:3; 73:28, NW; 89:27; Jesaja 8:13, NW; 30:20, NW; 40:28; 41:14, NW; 1 Timoteus 1:11.

Beteken dit dan dat God se persoonlikheid of standaarde verander? Nee. Jakobus 1:17 sê omtrent God: “By hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie.” Hoe kon God by veranderende omstandighede aanpas terwyl hy self onveranderd bly?

Die voorbeeld van liefdevolle ouers wat rolle ter wille van hulle kinders afwissel, lig toe hoe dit moontlik is. In die loop van net een dag kan ’n ouer ’n kok, ’n huishoudster, ’n elektrisiën, ’n verpleegster, ’n vriend, ’n raadgewer, ’n onderwyser, ’n tugmeester en veel meer wees. Die ouer verander nie van persoonlikheid wanneer hy of sy hierdie rolle vervul nie; hy pas hom eenvoudig by die jongste behoeftes aan. Dit is ook die geval met Jehovah, maar net op ’n baie groter skaal. Daar is geen beperking op wat hy homself kan laat word om sy voorneme te vervul en sy skepsele te bevoordeel nie.—Romeine 11:33.

Jehovah word byvoorbeeld as ’n God van liefde en barmhartigheid in die Hebreeuse sowel as die Christelike Griekse Geskrifte geopenbaar. Die profeet Miga van die agtste eeu v.G.J. het oor Jehovah gevra: “Wie is ’n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het ’n welbehae in goedertierenheid” (Miga 7:18). Die apostel Johannes het eweneens die bekende woorde geskryf: “God is liefde.”—1 Johannes 4:8.

Daarenteen word Jehovah in albei dele van die Bybel uitgebeeld as die regverdige Regter van dié wat sy wette herhaaldelik, gruwelik en onberouvol skend en ander mense skade berokken. “Hy [Jehovah] verdelg al die goddelose”, het die psalmis gesê (Psalm 145:20). Johannes 3:36 sê eweneens: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die gramskap van God bly op hom.”

Onveranderlike eienskappe

Jehovah se persoonlikheid en hoofeienskappe—liefde, wysheid, geregtigheid en krag—het nie verander nie. Hy het vir die nasie Israel gesê: “Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Dit was sowat 3 500 jaar nadat God die mens geskep het. Hierdie geïnspireerde stelling word waar bewys deur ’n noukeurige ondersoek van die hele Bybel, wat ’n God openbaar wie se standaarde en eienskappe onveranderlik is. Jehovah God se persoonlikheid het nie deur die eeue heen versag nie, aangesien geen versagting nodig was nie.

God se ferm standpunt vir regverdigheid, soos dit in die hele Bybel geopenbaar word, is geensins minder ferm of sy liefde enigsins meer as wat dit was aan die begin van sy handelinge met die mens in Eden nie. Die oënskynlike teenstrydighede in sy persoonlikheid wat in verskillende dele van die Bybel na vore kom, is in werklikheid verskillende aspekte van dieselfde onveranderlike persoonlikheid. Dit is as gevolg van die verskillende omstandighede en persone waarmee hy te doen gehad het, wat verskillende gesindhede of verhoudings vereis het.

Die Skrif toon dus duidelik dat God se persoonlikheid nie deur die eeue heen verander het nie en ook nie in die toekoms sal verander nie. Jehovah is die volmaakte beliggaming van bestendigheid en onveranderlikheid. Hy is ten alle tye betroubaar. Ons kan altyd op hom staatmaak.

[Prente op bladsy 16, 17]

Die God wat Sodom en Gomorra vernietig het, . . . 

. . . sal ook ’n regverdige nuwe wêreld tot stand bring