Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie ’n slagoffer van propaganda wees nie!

Moenie ’n slagoffer van propaganda wees nie!

Moenie ’n slagoffer van propaganda wees nie!

“’n Dwaas sal enigiets glo.”—SPREUKE 14:15, TODAY’S ENGLISH VERSION.

DAAR is ’n verskil—’n groot verskil—tussen opvoeding en propaganda. Opvoeding leer jou hoe om te dink. Propaganda sê vir jou wat om te dink. Goeie opvoeders stel alle kante van ’n saak en moedig bespreking aan. Propagandiste dwing ’n mens genadeloos om hulle sienswyse te hoor en ontmoedig bespreking. Dikwels is hulle ware motiewe nie duidelik nie. Hulle sif die feite en gebruik die nuttiges, maar verberg die ander. Hulle verdraai ook die feite en spesialiseer in leuens en halwe waarhede. Jou emosies is hulle teiken, nie jou logiese denkvermoë nie.

Die propagandis maak seker dat sy boodskap reg en sedelik lyk en dat dit jou belangrik en ’n deel van die groep laat voel as jy dit volg. Jy is een van die slimmes, jy is nie alleen nie, jy voel gerus en veilig—so sê hulle.

Hoe kan jy jou teen die soort mense beskerm wat die Bybel “onsinpraters en bedrieërs van die verstand” noem? (Titus 1:10). As jy met hulle taktiek vertroud is, sal jy in ’n beter posisie wees om enige boodskap of inligting wat jy ontvang te beoordeel. Hier volg van die maniere waarop jy dit kan doen.

Wees selektief: ’n Verstand wat vir alles ontvanklik is, kan vergelyk word met ’n pyp wat alles daardeur laat vloei—selfs riool. Niemand wil ’n verstand hê wat vergiftig is nie. Salomo, ’n koning en opvoeder in die ou tyd, het gewaarsku: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Ons moet dus selektief wees. Ons moet alles wat vir ons aangebied word noukeurig ontleed en besluit wat om te aanvaar en wat om te verwerp.

Ons wil egter nie so bekrompe wees dat ons weier om feite te oorweeg wat ons denkvermoë kan verbeter nie. Hoe kan ons die regte balans vind? Deur ’n standaard vas te stel waarvolgens nuwe inligting beoordeel kan word. Hier het ’n Christen ’n bron van groot wysheid. Hy het die Bybel as ’n betroubare gids vir sy denke. Aan die een kant is sy verstand ontvanklik vir nuwe inligting. Hy weeg sulke nuwe inligting deeglik op teen die Bybel se standaard en pas wat waar is by sy denkpatroon in. Aan die ander kant sien sy verstand die gevaar verbonde aan inligting wat heeltemal teenstrydig met sy Bybelse waardes is.

Gebruik onderskeidingsvermoë: Onderskeidingsvermoë is “skerp oordeelsvermoë”. Dit is “die krag of vermoë van die verstand waardeur dit dinge van mekaar onderskei”. ’n Persoon met onderskeidingsvermoë bespeur onderliggende idees of dinge en lê goeie oordeel aan die dag.

As ons onderskeidingsvermoë aan die dag lê, sal ons diegene kan herken wat “mooipraatjies en vleitaal” bloot gebruik om ‘die harte van onskuldiges te verlei’ (Romeine 16:18). Onderskeidingsvermoë stel ’n mens in staat om ontoepaslike inligting of misleidende feite te verwerp en die kern van ’n saak te onderskei. Maar hoe kan jy onderskei wanneer iets misleidend is?

Stel die inligting op die proef: “Geliefdes”, het Johannes, ’n eerste-eeuse Christenonderrigter gesê, “moenie elke geïnspireerde uiting glo nie, maar stel die geïnspireerde uitinge op die proef” (1 Johannes 4:1). Party mense van vandag is soos sponse; hulle absorbeer alles wat hulle teëkom. Dit is baie maklik om alles wat om ons is te absorbeer.

Maar dit is baie beter vir elke individu om self te besluit waarmee hy sy verstand wil vul. Daar word gesê dat ons is wat ons eet, en dit kan geld vir voedsel vir die liggaam sowel as die verstand. Ongeag wat jy lees of waarna jy kyk of luister, stel dit op die proef om te sien of dit ’n propagandistiese inslag het of geloofwaardig is.

Bowendien, as ons billik wil wees, moet ons bereid wees om ons eie sienings voortdurend op die proef te stel wanneer ons nuwe inligting inneem. Ons moet besef dat dit op die ou end net sienings is. Die betroubaarheid daarvan hang af van die geldigheid van ons feite, van die gehalte van ons redenasie en van die standaarde of waardes wat ons besluit om toe te pas.

Vra vrae: Soos ons gesien het, is daar vandag baie mense wat ons ‘met oorredende argumente wil mislei’ (Kolossense 2:4). Wanneer ons dus voor oorredende argumente te staan kom, moet ons vrae vra.

Ondersoek eerstens of daar enige teken van vooroordeel is. Wat is die motief vir die boodskap? As die boodskap vol skelname en gelaaide woorde is, wat is die rede daarvoor? Behalwe vir die gelaaide taal, wat is die meriete van die boodskap self? Probeer, indien moontlik, die reputasie nagaan van dié wat aan die woord is. Is hulle daarvoor bekend dat hulle die waarheid praat? As “gesaghebbendes” aangehaal word, wie of wat is hulle? Waarom moet jy hierdie persoon—of organisasie of publikasie—beskou as ’n deskundige of ’n bron van betroubare inligting oor die onderwerp onder bespreking? As jy voel dat dit op jou emosies gerig is, vra jou af: ‘Wanneer dit nugter beskou word, wat is die meriete van die boodskap?’

Moenie net die stroom volg nie: As jy besef dat wat almal dink nie noodwendig reg is nie, kan jy die krag vind om anders te dink. Beteken die feit dat alle ander mense blykbaar dieselfde dink dat jy ook moet? Die openbare mening is nie ’n betroubare aanduiding van die waarheid nie. Deur die eeue heen het allerhande idees gewild geword, maar is later verkeerd bewys. Tog is die neiging steeds daar om die stroom te volg. Die gebod in Exodus 23:2 is ’n goeie beginsel om te volg: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.”

Ware kennis versus propaganda

Ons het vroeër genoem dat die Bybel ’n betroubare gids vir helder denke is. Jehovah se Getuies is dit geheel en al eens met wat Jesus vir God gesê het: “U woord is waarheid” (Johannes 17:17). Dit is so omdat God, die Outeur van die Bybel, “die God van waarheid” is.—Psalm 31:5NW.

Ja, in hierdie tyd van gesofistikeerde propaganda kan ons met vertroue na Jehovah se Woord as die bron van waarheid kyk. Dit is eintlik al wat ons sal beskerm teen diegene wat ‘ons met vals woorde wil uitbuit’.—2 Petrus 2:3.

[Prent op bladsy 9]

Onderskeidingsvermoë help ’n mens om ontoepaslike of misleidende inligting te verwerp

[Prente op bladsy 10]

Stel dit wat jy lees of waarna jy luister of kyk op die proef om te sien of dit waar is

[Prent op bladsy 11]

Die openbare mening is nie altyd betroubaar nie

[Prent op bladsy 11]

Ons kan met vertroue na God se Woord as die bron van waarheid kyk