Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet ek elke dag aspirien gebruik?

Moet ek elke dag aspirien gebruik?

Moet ek elke dag aspirien gebruik?

Die volgende is ’n werklike geval wat deur ’n dokter beskryf is. Dit weerspieël ’n probleem wat alte dikwels opduik.

DIE hele gesin was bekommerd. Toe het selfs die dokter bekommerd geraak. “As hy nie gou ophou bloei nie”, het die dokter gesê, “sal ons dalk ’n bloedoortapping moet oorweeg.”

Die man het etlike weke lank stadigaan bloed deur sy ingewande verloor, en die probleem is as maagontsteking, of gastritis, gediagnoseer. “Is jy seker jy gebruik geen medisyne nie?” het die gefrustreerde dokter gevra.

“Nee. Net hierdie natuurlike toonbankmedisyne vir my gewrigsontsteking”, het die man gesê.

Skielik het die dokter aandagtig geluister. “Wys dit vir my asseblief.” Hy het noukeurig na die etiket op die botteltjie gekyk en gevind waarna hy gesoek het. Asetielsalisielsuur! Probleem opgelos. Toe die pasiënt opgehou het om die aspirienbevattende medisyne te neem en yster en maagmedisyne gegee is, het die bloeding opgehou en het sy bloedtelling stadigaan weer normaal geword.

Bloeding weens medisyne

Gastroïntestinale bloeding wat deur medisyne veroorsaak word, is vandag ’n ernstige mediese probleem. Hoewel baie soorte medisyne die probleem kan veroorsaak, is die meeste van hierdie probleme te wyte aan medisyne wat vir gewrigsontsteking en pyn gebruik word. Dit sluit medisyne in wat niesteroïediese anti-inflammatoriese middels, of NSAIDS, genoem word. Name verskil dalk van land tot land.

Baie toonbankmedisyne bevat aspirien, en in baie lande het die daaglikse gebruik van aspirien deur individue in onlangse jare toegeneem. Waarom?

Entoesiasme vir aspirien

In 1995 het die Harvard Health Letter berig dat “die gereelde gebruik van aspirien lewens red”. Navorsers het verskeie wêreldwye studies aangehaal, wat sedertdien al baie keer herhaal is, en na aanleiding daarvan gesê: “Amper almal wat al ’n hartaanval of beroerte gehad het, aan angina ly of ’n koronêre hartvatomleidingsoperasie gehad het, moet ’n halwe of hele aspirientablet daagliks neem, tensy hulle allergies daarvoor is.” *

Ander navorsers beweer dat daaglikse aspiriengebruik voordele inhou vir mans bo 50 wat die risiko loop om ’n hartaanval te kry sowel as vir vroue wat dié risiko loop. Verder is daar studies wat toon dat daaglikse aspiriengebruik die gevaar van dikdermkanker kan verminder en dat groot dosisse oor ’n lang tydperk bloedsuikervlakke by diabete kan help verlaag.

Wat doen aspirien om hierdie voordele moontlik te maak? Hoewel alles nog nie verstaan word nie, toon die getuienis dat aspirien bloedplaatjies minder klewerig maak, wat sodoende die vorming van bloedklonte teëwerk. Dit help vermoedelik om te keer dat klein slagare na die hart en brein verstop word, en voorkom so skade aan lewensbelangrike organe.

Waarom gebruik almal dan nie aspirien as dit vermoedelik soveel voordele inhou nie? Om maar een ding te noem, daar is nog heelwat wat nie bekend is nie. Selfs die ideale dosis is onbekend. Aanbevelings wissel van een standaardtablet per dag tot net een baba-aspirien elke tweede dag. Moet die dosis vir vroue verskil van dié vir mans? Dokters is nie seker nie. Hoewel maagsuurvaste aspirien as effens voordelig beskou kan word, is die voordele van gebufferde aspirien steeds betwisbaar.

Redes om versigtig te wees

Hoewel aspirien tegnies gesproke ’n natuurlike middel is—Indiane het komponente van aspirien van die bas van ’n wilgerboom gekry—het dit baie newe-effekte. Behalwe dat dit probleme met bloeding by sommige mense veroorsaak, kan aspirien baie ander komplikasies veroorsaak, onder andere allergiese reaksies by mense wat sensitief is vir aspirien. Dit is duidelik dat daaglikse aspiriengebruik nie vir almal bedoel is nie.

Maar iemand wat die risiko loop om ’n hartaanval of ’n beroerte te kry of ernstige risikofaktore het, sal moontlik sy of haar dokter oor die gevare en voordele van daaglikse aspiriengebruik wil vra. Die pasiënt sal beslis seker wil maak dat hy of sy nie bloedingprobleme, aspirienonverdraagsaamheid en maag- of gastroïntestinale probleme het nie. Ander moontlike probleme of wisselwerking met ander medisyne moet met die geneesheer bespreek word voordat daar met behandeling begin word.

Soos vroeër gesê is, hou aspirien en aspirienverwante medisyne die ernstige gevaar van bloeding in. En hierdie bloeding kan ongemerk plaasvind sodat dit nie onmiddellik waarneembaar is nie en kan geleidelik vererger. Ander medisyne, veral ander anti-inflammatoriese middels, moet ook versigtig oorweeg word. Sê vir jou dokter as jy enige van hierdie medisyne gebruik. In die meeste gevalle is dit verstandig om nie die medisyne ’n tydjie voor ’n operasie te gebruik nie. Miskien sal dit selfs goed wees om jou bloedtelling gereeld deur ’n laboratorium te laat monitor.

As ons ons teen toekomstige probleme wil beskerm, sal ons ag slaan op die Bybelspreuk: “’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor” (Spreuke 22:3, NAV). Mag ons, wat hierdie mediese saak betref, een van die verstandiges wees sodat ons nie met ons gesondheid boet nie.

[Voetnoot]

^ par. 11 Ontwaak! beveel nie enige spesifieke soort mediese behandeling aan nie.

[Venster/Prent op bladsy 20, 21]

Wie kan dit oorweeg om daagliks aspirien te gebruik

● Mense met koronêre hartsiekte of vernoude nekslagare.

● Mense wat ’n trombotiese beroerte (wat deur klonte veroorsaak word) of ’n vlietende isgemieaanval (’n kort voorval soortgelyk aan ’n beroerte) gehad het.

● Mans bo 50 met een of meer van die volgende risikofaktore wat tot hart- en vaatsiektes kan lei: rook, hoë bloeddruk, suikersiekte, hoë totale cholesterolvlak, lae HDL-cholesterol, ernstige swaarlywigheid, hoë alkoholinname, familiegeskiedenis van vroeë kroonvaatsiekte (hartaanval voor 55-jarige ouderdom) of van beroerte en ’n onaktiewe lewenswyse.

● Vroue bo 50 met twee of meer van hierdie risikofaktore.

Jy sal dalk jou dokter wil spreek voordat jy enige besluite hieroor neem.

[Erkenning]

Bron: Consumer Reports on Health