Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet ek in die buiteland gaan woon?

Moet ek in die buiteland gaan woon?

Jongmense vra . . .

Moet ek in die buiteland gaan woon?

“Ek wou iewers anders woon.”—Sam.

“Ek was doodeenvoudig nuuskierig. Ek wou iets nuuts sien.”—Maren.

“’n Goeie vriend het vir my gesê dat dit goed vir my sou wees om ’n bietjie van die huis af weg te breek.”—Andreas.

“Ek was op soek na avontuur.”—Hagen.

DROOM jy ooit daarvan om in die buiteland te gaan woon—miskien selfs net tydelik? Duisende jongmense kry elke jaar die geleentheid om juis dit te doen. Andreas sê van sy buitelandse ondervinding: “Ek sal dit graag weer wil doen.”

Party jongmense verhuis tydelik omdat hulle geld wil verdien of ’n ander taal wil leer. In baie lande is au pair-programme nogal gewild. Hierdie programme maak dit vir jong buitelanders moontlik om huishoudelike werk vir ’n gesin te doen in ruil vir losies, en hulle kan hulle vrye tyd gebruik om die plaaslike taal te leer. Dan is daar jongmense wat na die buiteland gaan om verder te studeer. Ander verhuis om werk te kry sodat hulle hulle gesin geldelik kan help. Dan is daar ook dié wat verhuis omdat hulle nie seker is wat hulle ná skool wil doen nie, en hulle wil ’n rukkie in die buiteland gaan vakansie hou.

Interessant genoeg, party jong Christene het na lande verhuis waar daar ’n tekort aan evangeliedienaars is sodat hulle hulle bediening kan uitbrei. Wanneer jy in ’n ander land gaan woon, kan jy, ongeag waarom jy wou verhuis het, waardevolle lesse leer oor wat onafhanklikheid as ’n volwassene beteken. Dit kan jou kulturele horisonne verruim. Jy kan selfs ’n ander taal bemeester—iets wat jou vooruitsigte in die arbeidsmark kan verbeter.

Dit is nietemin nie altyd ’n positiewe ondervinding om in die buiteland te woon nie. Susanne was byvoorbeeld ’n jaar lank ’n uitruilstudent. Sy sê: “Ek was seker dat dit van begin tot einde absoluut fantasties sou wees. Dit was nie.” Party jongmense is selfs uitgebuit of het ernstige probleme ondervind. Voordat jy jou koffers begin pak, sal dit dus verstandig wees om te gaan sit en die voordele en nadele te oorweeg.

Ontleed jou beweegredes

Om die voordele en nadele te oorweeg, sal beslis insluit dat jy jou beweegredes om na die buiteland te gaan, moet ondersoek. Dit is een ding om te reis om geestelike belange na te streef of om na gesinsverantwoordelikhede om te sien. Maar soos die jongmense wat aan die begin aangehaal is, wil baie verhuis net omdat hulle avontuur soek of omdat hulle groter vryheid of meer plesier wil hê. Dit is nie noodwendig verkeerd nie. Prediker 11:9 moedig jongmense immers aan om ‘hulle te verbly in hulle jeug’. Maar vers 10 waarsku: “Weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale [“rampspoed”, NW] weg van jou liggaam.”

As jy na ’n ander land wil verhuis om ouerlike beperkings te vermy, is jy dalk besig om “rampspoed” te soek. Onthou jy Jesus se gelykenis van die verlore seun? Dit handel oor ’n jong man wat om selfsugtige redes na die buiteland gereis het, blykbaar om meer vryheid te kry. Maar kort voor lank is hy deur rampspoed getref en was hy honger, arm en geestelik siek.—Lukas 15:11-16.

Dan is daar diegene wat wil verhuis omdat hulle van probleme by die huis wil wegkom. Maar, soos Heike Berg in haar boek What’s Up skryf, “as jy wil weggaan net omdat jy ongelukkig is . . . en jy glo dat alles beter sal wees op ’n ander plek—vergeet dit!” Om die waarheid te sê, dit is beter om werk te maak van jou probleme. Dit baat ’n mens niks as jy weghardloop van situasies wat nie na jou sin is nie.

Ander gevaarlike beweegredes is hebsug en materialisme. ’n Begeerte na rykdom gee baie jongmense wonderlike, onrealistiese idees van die lewe in nywerheidslande. Party dink dat alle Westerlinge ryk is. Maar dit is beslis nie die waarheid nie. Nadat hulle verhuis het, bevind baie jongmense hulle in ’n vreemde land waar hulle ’n harde stryd moet voer om uit die greep van armoede los te breek. * Die Bybel waarsku: “Die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:10.

Is jy gereed?

Daar is nog ’n faktor om in aanmerking te neem: Is jy werklik volwasse genoeg om die ontberinge, probleme en konflikte wat daar in ’n ander land sal wees die hoof te bied? Jy sal waarskynlik saam met ’n kamermaat of ’n gesin moet woon en by hulle roetine moet aanpas. Hoe gaan dit nou met jou by die huis? Kla jou ouers dat jy onbedagsaam is en net aan jouself dink? Is jy geneig om kieskeurig te wees oor wat jy eet? Hoe gewillig is jy om jou deel van die huiswerk te doen? As dit nou reeds vir jou probleme skep, kan jy jou voorstel hoeveel groter jou probleme kan wees as jy in ’n ander land is!

As jy ’n Christen is, sal jy jou geestelikheid kan handhaaf? Of moet jou ouers jou voortdurend herinner om nie jou Bybelstudie, Christelike vergaderinge en die predikingswerk af te skeep nie? Sal jy geestelik sterk genoeg wees om in ’n ander land druk en versoekings te weerstaan waarmee jy dalk nie in jou eie land te kampe het nie? Een jong Christen, ’n uitruilstudent, is op die eerste dag van sy kursus in ’n ander land vertel waar hy dwelms kan kry. Later het een van die meisies hom gevra om saam met haar uit te gaan. In sy land sou ’n meisie nooit haar belangstelling so direk uitspreek nie. ’n Jong man van Afrika wat in Europa gaan woon het, sê ook: “In ons land sien jy nooit onsedelike prente in die openbaar nie. Maar hier sien jy dit oral.” As jy nie “vas in die geloof” is nie, kan jy geestelik skipbreuk ly as jy in die buiteland gaan woon.—1 Petrus 5:9.

Kry die feite!

Voordat jy verhuis, moet jy al die feite kry. Moenie op hoorsê staatmaak nie. As jy byvoorbeeld ’n uitruilstudenteprogram oorweeg, hoeveel sal dit kos? Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat dit dikwels duisende rande kos. Jy moet ook uitvind of die onderrigting wat jy in die buiteland ontvang in julle land erken sal word. Probeer ook soveel inligting as moontlik oor die land kry—die wette, kultuur en gebruike. Watter koste is daarby betrokke om daar te woon? Watter belastings sal jy moet betaal? Is daar gesondheidsgevare wat jy in ag moet neem? Jy sal dit moontlik nuttig vind om met mense te praat wat self daar gewoon het.

Dan is daar die kwessie van verblyf. Die gashere van uitruilstudente verwag gewoonlik nie enige betaling nie. Maar dit kan groot druk en spanning veroorsaak as jy by mense woon wat nie respek vir Bybelbeginsels het nie. ’n Ander opsie is dalk om by vriende of familie te bly. Maar wees versigtig dat jy nie ’n las vir hulle word nie—selfs al dring hulle daarop aan dat jy bly. Dit kan jou verhouding met hulle bederf of selfs beëindig.—Spreuke 25:17.

As jy beplan om geld te verdien terwyl jy in die buiteland is, moet jy nie jou Christelike verpligting vergeet om die sekulêre owerhede te gehoorsaam nie (Romeine 13:1-7). Laat die wet jou toe om in daardie land te werk? Indien wel, onder watter voorwaardes? As jy onwettig werk, kan jy jou posisie as ’n eerlike Christen in gevaar stel en sonder basiese beskerming, soos ongevalleversekering, wees. Al is dit wettig om te werk, sal jy versigtig en verstandig moet wees (Spreuke 14:15, NAV). Gewetenlose werkgewers maak dikwels misbruik van buitelanders.

Wanneer jy besluit

Dit is dus duidelik dat dit ’n groot besluit is om na ’n ander land te verhuis—een wat nie ligtelik opgeneem moet word nie. Gaan sit saam met jou ouers en oorweeg versigtig die moontlike voordele en die moontlike gevare. Probeer om nie toe te laat dat jou entoesiasme jou onderskeidingsvermoë oorheers nie. Wees eerlik wanneer jy jou beweegredes ontleed. Luister mooi na jou ouers. Hulle sal immers steeds verantwoordelik vir jou voel, selfs al is jy honderde kilometers van hulle af weg. Jy sal waarskynlik hulle geldelike ondersteuning nodig hê om aan die lewe te bly.

Alles in aanmerking geneem, sal jy dalk vind dat dit onverstandig is om te verhuis—ten minste op die oomblik. Dit sal dalk teleurstellend wees, maar daar is baie ander opwindende dinge wat jy kan doen. Het jy byvoorbeeld die moontlikheid oorweeg om interessante plekke in jou eie land te besoek? Of begin solank ’n ander taal leer. Miskien sal jy later die geleentheid kry om in die buiteland te reis.

Maar sê nou jy besluit om te verhuis? ’n Toekomstige artikel sal bespreek hoe jy jou verblyf in die buiteland suksesvol kan maak.

[Voetnoot]

^ par. 15 Sien die artikel “Bereken die koste voor jy na ’n welvarende land verhuis”, in Die Wagtoring van 1 April 1991, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania.

[Prent op bladsy 13]

Party jongmense verhuis om die Koninkrykspredikingswerk te bevorder

[Prent op bladsy 14]

Praat met jou ouers oor die voordele en gevare daarvan om te verhuis