Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Propaganda kan dodelik wees

Propaganda kan dodelik wees

Propaganda kan dodelik wees

“’n Leuen kan al halfpad om die wêreld wees terwyl die waarheid nog sy skoene aantrek.”—Toegeskryf aan MARK TWAIN.

“JOU ellendige Jood!” het die onderwyseres haar sewejarige leerling toegesnou toe sy hom klap. Toe het sy die klas aangesê om verby hom te loop en in sy gesig te spoeg.

Die leerling sowel as die onderwyseres—sy tante—het goed geweet dat die seun en sy ouers nie van Joodse afkoms was nie. Hulle het ook nie aan die Joodse godsdiens behoort nie. Trouens, hulle was Jehovah se Getuies. Die onderwyseres het die algemene vooroordeel teen Jode gebruik om haat teen haar leerling te verwek. Die onderwyseres en haar klas is jare lank deur hulle priester vertel dat Jehovah se Getuies veragtelik is. Die seun se ouers is Kommuniste sowel as agente van die CIA (die Amerikaanse geheime diens) genoem. Die seun se klasmaats het dus nader gestaan, gretig om in die gesig van ’n “ellendige Jood” te spoeg.

Hierdie seun het die ondervinding oorleef en kon sy verhaal vertel. Sesmiljoen Jode wat 60 jaar gelede in Duitsland en nabygeleë lande gewoon het, was nie so gelukkig nie. Kwaadwillige propaganda het tot die uitwissing van daardie Jode in Nazi-gaskamers en -konsentrasiekampe bygedra. Wydverspreide, diepgewortelde, onbetwiste en venynige anti-Semitisme het gemaak dat baie mense die Jode as vyande beskou het wie se uitwissing nie alleen nodig nie maar ook geregverdig was. In hierdie geval is propaganda as ’n wapen vir massauitwissing gebruik.

Ja, propaganda kan openlik vertoon word deur die gebruik van simbole van haat soos die swastika of op subtiele wyse deur ’n onsmaaklike grap te vertel. Die oorredingstegnieke daarvan word gereeld deur diktators, politici, geestelikes, adverteerders, bemarkers, joernaliste, radio- en TV-persoonlikhede, reklamebeamptes en ander gebruik wat daarin belangstel om mense se gedagtes en gedrag te beïnvloed.

Propagandistiese boodskappe kan natuurlik gebruik word om positiewe maatskaplike doelwitte te bereik, soos in veldtogte om dronkbestuur te verminder. Maar propaganda kan ook gebruik word om haat teen etniese of godsdiensminderhede te verwek of om mense te probeer oorreed om sigarette te koop. “Elke dag word ons met die een oorredende boodskap na die ander gebombardeer”, sê die navorsers Anthony Pratkanis en Elliot Aronson. “Hierdie boodskappe oorreed ons nie deur die uitruil van gedagtes soos in ’n redenasie of debat nie, maar deurdat dit simbole en ons diepste menslike emosies manipuleer. Hoe dit ook al sy, ons lewe in ’n tyd waarin propaganda hoogty vier.”

Hoe is propaganda deur die eeue heen gebruik om die denke en optrede van mense te beïnvloed? Wat kan jy doen om jou teen gevaarlike propaganda te beskerm? Is daar ’n bron van betroubare inligting? Hierdie en ander vrae sal in die volgende artikels bespreek word.

[Prent op bladsy 3]

Propaganda is tydens die Slagting gebruik om die Jode die skyf van vervolging te maak