Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Dwelms Die reeks “Neem dwelms die wêreld oor?” (8 November 1999) was goed nagevors. Ek werk as ’n proefbeampte in ’n gebied waar daar talle jong dwelmverslaafdes is. Hierdie tydskrif sal baie mense help om die dwelmgewoonte te oorkom.

J. T., Duitsland

Ek het die verhaal van Pedro en sy vrou Ana baie aanmoedigend gevind. Dwelms het ses jaar lank my lewe verwoes. Deur die Bybel te bestudeer en met ander oor die dinge te praat wat ek leer, het ek die geestelike krag gekry om met die dwelmgewoonte te breek.

D. J., Verenigde State

Ek gee al 15 jaar lank gesondheidsleerklasse op skool. Hierdie nommer van die Ontwaak! het op net die regte tyd gekom, aangesien ons tans alkohol, dwelms en motorbestuur bespreek. Ek gaan beslis die inligting in hierdie tydskrif gebruik!

C. J., Verenigde State

Ivoorneut Ek het sedert 1954 nog elke nommer van julle tydskrif gelees, en ek is altyd verstom oor die artikels wat die veelsydige gebruike van dinge beskryf wat Jehovah geskep het. “Die ivoorneut—Kan hy olifante red?” (8 November 1999) was so ’n artikel. Dankie dat julle ons help om die wonderlike wysheid van ons God al hoe meer te waardeer.

D. H., Verenigde State

Heksery Baie dankie vir die artikel “Wat sit agter heksery?” (8 November 1999). Baie mense het altyd gedink dat hekse oud en lelik is. Maar die Wiccans-beweging lok nou talle jong mans en vroue. My eie dogter het ook belangstelling daarin begin toon. Sy wou egter ook haar eie intekening op die Ontwaak! hê, en die eerste nommer wat sy ontvang het, het hierdie artikel bevat! Dit het op die regte tyd gekom.

B. H., Verenigde State

Engele Geluk met julle openhartige reeks artikels “Wat is die waarheid oor engele?” (22 November 1999). Dit is hoog tyd dat iemand die moed gehad het om die gevare van verdraaide opvattings oor engele op ’n mooi maar eerlike manier uiteen te sit. Ek het veral die prent op bladsy 9 waardeer, wat toon dat die engele self die lof en eer verwerp wat vandag aan hulle gegee word.

J.L.A.H., Brasilië

Mediese beproewing Die verhaal van die Major-gesin in die artikel “Ons het geleer om in teëspoed op God te vertrou” (22 November 1999) het my bemoedig. Ons seun het ’n aantal ernstige hartprobleme gehad wat operasies vereis het. Die dokters het vir ons gesê: ‘Julle seun gaan sterf as hy nie ’n bloedoortapping kry nie!’ Die dokters het my en my man selfs apart gespreek sodat hulle groter druk op ons kon uitoefen om tot ’n bloedoortapping in te stem. Maar soos die Major-gesin het ons vir krag en moed gebid. Ons seun het die operasies oorleef en is nou gesond. Hy het gesê dat hy graag as een van Jehovah se Getuies gedoop wil word.

B. C., Verenigde State

My man was in die hospitaal, en die dokters het gesê dat hy moontlik maande daar sal wees. Ek het baie moeg begin word om na drie kinders te probeer omsien terwyl ek ook nog my man elke dag besoek het. My Christenbroers en -susters het onskatbare hulp verleen met die kinders. Net toe dit vir my gevoel het dat dit eenvoudig te veel word, het my man huis toe gekom. Toe ek hierdie bemoedigende artikel gelees het, kon ek nie anders as om trane van opregte empatie en hartseer te stort vir alles wat die Major-gesin verduur het nie. Hoe bly was ek tog om te sien hoeveel hulle op Jehovah vertrou het!

J. A., Verenigde State