Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n “Lyk” word lewendig

’n “Lyk” word lewendig

’n “Lyk” word lewendig

Deur Ontwaak!-medewerker in INDONESIË

OP 17 Julie 1997 is ’n ongewone aankondiging landwyd oor die aandnuus in Indonesië gedoen. Een van die grootste blomplante in die wêreld het geblom. Waarom is die blote feit dat ’n plant geblom het oor die aandnuus gemeld? Omdat hierdie plant anders is—dit sal moontlik slegs twee of drie dae vir drie of vier keer in sy 40 jaar lange lewensduur blom. Ná die aankondiging het die aantal besoekers aan die Bogor- Botaniese Tuin, waar die plant gehou word, met 50 persent toegeneem. Trouens, die plant het meer as 20 000 besoekers in net een dag gehad!

Die plant se volle botaniese naam is Amorphophallus titanum. Party noem dit kortweg titan arum, maar die meeste Indonesiërs noem dit die lykblom omdat die reuk wat dit afgee wanneer dit blom hulle aan verrottende vis of ’n ontbinde muis laat dink. Die stank is vir bye, wat die plant bestuif, ’n teken dat die plant blom.

Behalwe die titan arum se kenmerkende reuk, maak sy grootte hom ook uniek. Die volwasse plant toring bo almal behalwe die heel langste mense uit. Een plant in die Bogor- Botaniese Tuin het 2,5 meter hoog geword en het uit ’n groot vaasvormige, geplooide blomskede van 2,6 meter in deursnee gegroei. Hierdie reuseblom het uit ’n bol gegroei wat byna 100 kilogram geweeg het!

Ten spyte van die titan arum se enorme blom bring dit nie die wêreld se grootste blom voort nie, aangesien die plant eintlik uit ’n hele paar kleiner blomme bestaan, nie net een blom nie.

Die titan arum is net nog ’n voorbeeld wat die waarheid van die psalmis se woorde toelig: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke . . . Niemand kan met u vergelyk word nie.”—Psalm 40:5, NW.