Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glimlag—Dit is goed vir jou!

Glimlag—Dit is goed vir jou!

Glimlag—Dit is goed vir jou!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN JAPAN

WANNEER dit opreg is, kan dit ysige agterdog laat wegsmelt. Dit ruim vooroordeel uit die weg wat oor jare opgebou is. Dit kan harte versag wat deur ongeloof en wantroue verhard is. Dit bring verligting en vreugde vir baie. Dit sê: “Ek verstaan. Moenie bekommerd wees nie.” Dit rig die versoek: “Ek hoop ons kan vriende wees.” En wat is hierdie kragtige instrument? Dit is ’n glimlag. Dit kan JOU glimlag wees.

Wat is ’n glimlag? ’n Glimlag word oor die algemeen in woordeboeke beskryf as ‘’n gesigsuitdrukking waarin die mondhoeke effens opwaarts beweeg as uiting van plesier, goedkeuring of vreugde’. Hierin lê die geheim van ’n vriendelike glimlag. Met ’n glimlag kan ’n mens sonder woorde jou gevoelens of emosies teenoor ander toon. ’n Glimlag kan natuurlik ook ’n blyk van minagting wees, maar dit is ’n ander onderwerp.

Maak ’n glimlag werklik ’n verskil? Wel, kan jy onthou toe iemand se glimlag jou verlig laat voel of laat ontspan het? Of wanneer die afwesigheid van ’n glimlag jou senuweeagtig of selfs verworpe laat voel het? Ja, ’n glimlag maak wel ’n verskil. Dit het ’n uitwerking op die persoon wat glimlag, asook op die een vir wie geglimlag word. Die Bybelkarakter Job het van sy teenstanders gesê: “Ek het vir hulle geglimlag—hulle het dit nie geglo nie—en hulle het die lig van my gesig nie verdonker nie” (Job 29:24, NW). “Die lig” van Job se gesig verwys moontlik na sy opgeruimdheid of blymoedigheid.

Dit kan tot vandag toe dieselfde positiewe uitwerking hê. ’n Vriendelike glimlag kan spanning wat opgebou het, help verlig. Dit kan soos ’n veiligheidsklep op ’n drukpot wees. Wanneer ons gespanne of gefrustreerd voel, kan ’n glimlag ons help om daardie spanning te verlig en ons frustrasie te verwerk. Tomoko het byvoorbeeld dikwels opgelet dat ander mense na haar kyk. Sy het aangeneem dat hulle krities teenoor haar is, aangesien hulle vinnig weggekyk het wanneer sy hulle gesien het. Tomoko het eensaam en ongelukkig gevoel. Eendag het ’n vriendin voorgestel dat sy vir mense glimlag wanneer hulle oogkontak maak. Tomoko het dit twee weke lank probeer en was verbaas toe almal terugglimlag! Die spanning is verlig. “My lewe het werklik genotvol geword”, sê sy. Ja, ’n glimlag kan ons meer op ons gemak by ander laat voel en ons help om vriendeliker te word.

Die goeie uitwerking wat dit op jou en ander het

Om te glimlag, kan iemand emosioneel beïnvloed. Dit help om ’n mens in ’n goeie gemoedstemming te plaas. Dit is ook goed vir jou gesondheid. Trouens, mediese gesaghebbendes sê dat ’n mens se gemoedstemming baie met jou fisiese toestand te doen het. Baie studies toon dat langdurige stres, negatiewe emosies, en so meer ons immuunstelsel verswak. Daarenteen kan ’n glimlag ons goed laat voel, en wanneer ons lag, word ons immuunstelsel selfs versterk.

’n Glimlag het ’n groot uitwerking op ander. Gestel jy ontvang raad of teregwysing. Watter soort gesigsuitdrukking sal jy graag op die raadgewer se gesig wil sien? ’n Onvriendelike of stroewe uitdrukking kan woede, irritasie, verwerping of selfs vyandigheid aandui. Maar sal ’n vriendelike glimlag op die raadgewer se gesig jou nie moontlik gemakliker laat voel en ontvankliker vir die raad maak nie? ’n Glimlag help beslis om misverstande in gespanne situasies te verminder.

Positiewe gedagtes maak dit makliker om te glimlag

Die meeste van ons is natuurlik nie soos toneelspelers wat op enige oomblik breed kan glimlag nie; en ons wil ook nie so wees nie. Ons wil hê dat ons glimlagte natuurlik en opreg moet wees. ’n Instruktrise by ’n kommunikasieskool het gesê: ‘Dit is belangrik om te ontspan en opreg te glimlag, want anders kan jou glimlag aangeplak lyk.’ Hoe kan ons uit ons hart glimlag? Hier kan die Bybel ons help. Van ons spraak sê dit in Matteus 12:34, 35: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond. Die goeie mens bring uit sy goeie skat goeie dinge te voorskyn, terwyl die goddelose mens uit sy goddelose skat goddelose dinge te voorskyn bring.”

Onthou dat ’n mens jou gevoelens sonder woorde in ’n glimlag kan uitdruk. As ons in gedagte hou dat ons “uit die oorvloed van die hart” spreek en dat “goeie dinge” uit ’n “goeie skat” kom, word dit duidelik dat die sleutel tot ’n opregte glimlag in ons gedagtes en emosies lê. Ja, wat in ons hart is, sal ongetwyfeld vroeër of later uitkom, nie alleen deur ons woorde en dade nie, maar ook deur ons gesigsuitdrukkings. Ons moet ons dus aanhoudend daarop toelê om oor positiewe gedagtes te dink. Ons gesigsuitdrukking word grootliks beïnvloed deur wat ons van ander dink. Laat ons dus konsentreer op die goeie eienskappe van gesinslede, mense in ons buurt en ons goeie vriende. Ons sal dit baie makliker vind om vir hulle te glimlag. Dit sal ’n opregte glimlag wees, want dit sal gemotiveer word deur ’n hart vol goedheid, barmhartigheid en welwillendheid. Ons oë sal straal, en ander sal weet dat ons dit werklik bedoel.

’n Mens moet egter toegee dat dit vir party mense moeiliker as ander is om te glimlag weens hulle agtergrond. Selfs as hulle goedgesind teenoor hulle naaste is, is hulle net nie daaraan gewoond om vir hulle te glimlag nie. Daar word byvoorbeeld tradisioneel van Japannese mans verwag om volmaakte selfbeheersing aan die dag te lê en te alle tye stil te bly. Gevolglik is baie van hulle nie daaraan gewoond om vir mense te glimlag wat hulle as vreemdelinge beskou nie. Dieselfde is moontlik ook waar van ander kulture. Of party mense is dalk van nature skaam en vind dit nie maklik om vir ander te glimlag nie. Gevolglik moet ons ander nie oordeel volgens die grootte van hulle glimlag of hoe dikwels hulle glimlag nie. Mense verskil, en dit geld ook vir hulle karaktertrekke en die maniere waarop hulle met ander kommunikeer.

As jy dit nietemin moeilik vind om vir ander te glimlag, kan jy jou gerus daarop toelê. Die Bybel raai ons aan: ‘Laat ons nie ophou om te doen wat voortreflik is nie. Laat ons aan almal goed doen’ (Galasiërs 6:9, 10). Een manier waarop ons “wat voortreflik is” aan ander kan doen, is om vir hulle te glimlag—en dit is binne ons vermoë! Neem dus die inisiatief om ander te groet en met ’n glimlag ’n woord van aanmoediging te gee. Dit sal hoog op prys gestel word. Jy sal ook ontdek dat dit baie makliker word om te glimlag namate jy die gewoonte aankweek.

[Venster op bladsy 12]

’n Woord van waarskuwing

Dit is ongelukkig waar dat nie elke glimlag wat ons sien opreg is nie. Bedrieërs, swendelaars, gewetenlose verkoopsmense en ander glimlag dalk breed. Hulle weet dat ’n glimlag wantroue afbreek en mense minder agterdogtig maak. Mense met twyfelagtige sedes of onrein beweegredes kan ook op ’n verleidelike wyse glimlag. Maar hulle glimlagte is leeg; dit is bedrieglik (Prediker 7:6). Hoewel ons dus nie te agterdogtig teenoor ander wil wees nie, moet ons besef dat ons “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” moet wees, soos Jesus self aanbeveel het, aangesien ons in “die laaste dae” lewe wat moeilik is om deur te kom.—2 Timoteus 3:1; Matteus 10:16.

[Prent op bladsy 13]

Neem die inisiatief om ander met ’n glimlag te groet