Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe word die “doodskultuur” bevorder?

Hoe word die “doodskultuur” bevorder?

Hoe word die “doodskultuur” bevorder?

“Daar lê duisende myle tussen die getraumatiseerde jong vlugtelinge van Kosowo en Amerikaanse kinders wat aan geweld en ander pynlike ondervindinge blootgestel word, maar die emosionele afstand tussen hulle is dalk nie so groot nie.”—Marc Kaufman, The Washington Post.

Of ons nou daarvan hou of nie, ons almal word direk of indirek deur die dood geraak. Dit geld ongeag waar ons woon—in ’n land wat deur gewelddadige konflikte geteister word of in een wat relatiewe stabiliteit geniet.

DIE “doodskultuur” word vandag geopenbaar in die hoë voorkomssyfer van depressie, angs, dwelmverslawing, aborsie, selfvernietigende gedrag, selfmoord en massamoorde. Professor Michael Kearl, van die Departement van Sosiologie en Antropologie aan die Trinity-universiteit in San Antonio, Texas, VSA, het in verband met die manier waarop die dood as onderwerp gemanipuleer word, verduidelik: “Vanuit ons oogpunt aan die einde van die twintigste eeu [1999] vind ons dat . . . die dood erken word as die sentrale dryfkrag wat onderliggend aan die lewe, lewenskrag en struktuur van die sosiale orde is. Die dood is die inspirasie vir ons godsdienste, filosofieë, politieke ideologieë, kuns en mediese tegnologie. Dit verkoop koerante en versekeringspolisse, maak die intrige van ons televisieprogramme interessanter en . . . is selfs die dryfkrag agter ons nywerhede.” Kom ons kyk na party voorbeelde van hoe hierdie verskynsel, wat die doodskultuur genoem word, hom in ons tye geopenbaar het.

Die verkoop van wapens

Die “doodskultuur” word daagliks geopenbaar in die verkoop van wapens. Wapentuig word gebruik om soldate dood te maak, maar dit maak hoofsaaklik burgerlikes, onder meer onskuldige vroue en kinders, dood. In oorloë, hetsy burgeroorloë of andersins, is lewe altyd goedkoop. Hoeveel kos die koeël van ’n sluipmoordenaar of skerpskutter?

Die maklike toegang wat die publiek in party lande tot wapens het, het tot ’n skrikwekkende en konstante toename in die sterfte van individue sowel as groepe mense gelei. Ná die tragedie van die skietery by die hoërskool in Littleton, Colorado, het mense begin protesteer teen die wydverspreide verkope van wapens en die maklike toegang wat minderjariges daartoe het. Die aantal jongmense in die Verenigde State wat gewelddadig sterf, is onrusbarend—volgens die tydskrif Newsweek, ’n gemiddelde van 40 per week. Hiervan is amper 90 persent slagoffers van skietvoorvalle. Dit is gelyk aan 150 slagtings soos dié by Littleton elke jaar!

Die vermaaklikheidswêreld

Rolprente beeld dikwels die dood uit. Byvoorbeeld, die intrige van ’n rolprent verheerlik dalk onsedelikheid, geweld, die dwelmhandel of georganiseerde misdaad en toon sodoende minagting vir die waarde van lewe en sedelike beginsels. Daar is rolprente waarin die dood selfs geromantiseer word—waarin die mite van lewe ná die dood uitgebeeld word, asook die veronderstelde terugkeer van party om die lewendes te besoek—wat die dood nie so erg laat lyk nie.

Dieselfde geld vir televisieprogramme en musiek. Volgens nuusberigte was die jong moordenaars van Littleton vurige bewonderaars van ’n rocksanger, wat gewild geword het weens sy “tweeslagtige voorkoms, uitbeelding van sataniese temas” en liedjies wat “oor rebelsheid en die dood handel”.

In die Verenigde State is die manier waarop televisieprogramme geklassifiseer word, gewysig om jongmense te beskerm teen materiaal wat hulle nadelig kan beïnvloed. Dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Jonathan Alter skryf in Newsweek dat dit “moontlik ’n groter begeerte na die verbode vrugte by kinders wek”. Hy het bygevoeg dat dié wat daarvoor verantwoordelik is, alleenlik skaam genoeg gemaak en verplig kan word om geweld in die media te verminder as president Clinton “die name in die openbaar voorlees van al die groot maatskappye (en hulle hoof- uitvoerende beamptes)” wat nie alleen rolprente van mesgevegte en opnames van “gangsta”-rap maak nie, maar ook rekenaarspeletjies vervaardig wat kinders toelaat om “mense in die virtuele wêreld dood te maak”.

Die dood in videospeletjies en op die Internet

In Robert Waring se boek The Deathmatch Manifesto ontleed hy die gewildheid van so genoemde deathmatch-speletjies onder jeugdiges. * Mnr. Waring glo dat ’n ondergrondse gemeenskap van spelers as gevolg van hierdie verskynsel ontstaan het. Hierdie speletjies het nie ’n opvoedkundige uitwerking nie, maar dit leer die spelers hoe om dood te maak. “Om met ’n lewendige teenstander in enige plek in die wêreld te speel en jou slag te probeer wys, is ’n kragtige ondervinding. Dit is werklik maklik om daardeur meegevoer te word”, sê Waring. Jeugdiges word vasgevang deur die mag van die driedimensionele tonele wat as agtergrond vir die bloedige gevegte ontwerp is. Aangesien party nie deur die Internet toegang hiertoe het nie, koop sommige videospeletjiepakkette om op die televisie by die huis te gebruik. Ander het die gewoonte om na openbare plekke te gaan waar hulle videospeletjiemasjiene huur en ‘virtuele’ gevegte tot die dood toe met ander teenstanders het.

Hoewel deathmatch-speletjies volgens die ouderdom van die speler geklassifiseer word, is daar in werklikheid baie min beheer. Die 14-jarige Eddie van die Verenigde State het gesê: “Mense sê gewoonlik vir jou dat jy nie oud genoeg is nie, maar hulle keer jou nie om [die speletjie] te koop nie.” Hy geniet een waarin die deelnemers dit met vuurwapens uitveg. Hoewel sy ouers hiervan bewus is en nie daarvan hou nie, kyk hulle selde of hy die speletjie speel. Een tiener het hierdie gevolgtrekking gemaak: “Ons geslag is baie ongevoeliger vir geweld as enige ander geslag. TV’s speel nou ’n groter rol in die grootmaak van kinders as ouers, en televisie bevredig kinders se gewelddadige fantasieë.” John Leland het in Newsweek gesê: “Aangesien daar tot 11 miljoen tieners is wat nou [in die Verenigde State] toegang tot die Internet het, vind al hoe meer van die jeugdige se lewe in ’n landskap plaas wat ontoeganklik vir baie ouers is.”

Lewenswyses wat tot die dood lei

Wat van gedrag buite die wêreld van deathmatch-speletjies en gewelddadige rolprente? Hoewel ons nie in die regte lewe ’n stryd op lewe en dood teen gedrogte hoef te voer nie, sluit die lewenswyse van baie mense selfvernietigende gedrag in. Rook en dwelmmisbruik neem byvoorbeeld toe, ondanks die invloed van die gesin, gesondheidsdienste en ander owerhede wat teen die gevaar daarvan waarsku. In baie gevalle lei dit tot ’n ontydige dood. Om hulle onwettige wins te verhoog, gaan groot sakeondernemings en dwelmhandelaars voort om misbruik te maak van die angs, hopeloosheid en geestelike armoede van mense.

Wie sit agter dit alles?

Word die dood in die Bybel as ’n gepaste onderwerp vir vermaak uitgebeeld? Word die lewenswyses wat tot ons dood kan lei, geregverdig? Nee. Vir ware Christene, soos die apostel Paulus, is die dood niks anders as ’n “vyand” nie (1 Korintiërs 15:26). Christene beskou nie die dood as iets wat aantreklik en pret is nie, maar eerder as iets onnatuurliks, ’n regstreekse gevolg van sonde en opstand teen God (Romeine 5:12; 6:23). Die dood was nooit deel van God se oorspronklike voorneme met die mens nie.

Daar word gesê dat Satan “die vermoë het om die dood te veroorsaak”. Hy word “’n mensemoordenaar” genoem, nie noodwendig omdat hy mense se dood regstreeks veroorsaak nie, maar omdat hy dit doen deur hulle te mislei, deur mense tot sonde te verlok, deur gedrag te bevorder wat tot verdorwenheid en die dood lei en deur moorddadige gesindhede in die gedagtes van mans, vroue en selfs kinders te kweek (Hebreërs 2:14, 15; Johannes 8:44; 2 Korintiërs 11:3; Jakobus 4:1, 2). Maar waarom is jongmense die hoofteiken? Wat kan ons doen om hulle te help?

[Voetnoot]

^ par. 13 In Deathmatch-speletjies, sê hierdie boek, word “spelers gedryf om mekaar dood te maak in driedimensionele netwerkspeletjies”.

[Prent op bladsy 7]

“Ons geslag is baie ongevoeliger vir geweld as enige ander geslag”