Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp aan jongmense om weg te breek van die “doodskultuur”

Hulp aan jongmense om weg te breek van die “doodskultuur”

Hulp aan jongmense om weg te breek van die “doodskultuur”

Waarom is daar so ’n groot belangstelling in die dood onder vandag se jongmense? Henry Hyde, ’n verteenwoordiger van die staat Illinois, VSA, het gesê: “Daar is ’n geestelike leemte in hierdie jongmense wat deur die kultuur van dood en geweld gevul word.”

’NLESER van Time het geskryf: “Dit is lui ouers, gewelddadige vermaak en ’n gebrek aan ’n sedelike en geestelike grondslag wat verantwoordelik is vir die subkultuur van dood onder vandag se jongmense.”

Eensaamheid is nog ’n groot probleem wat jeugdiges vandag teister. Party woon in huise waar albei ouers werk en die grootste deel van die dag afwesig is; ander het net een ouer. Volgens een bron bring jeugdiges in die Verenigde State elke dag ongeveer 3,5 uur alleen deur en bestee hulle elke week 11 uur minder saam met hulle ouers as jongmense in die 1960’s. Trouens, party jongmense sien hulle ouers nooit of ontvang hoegenaamd geen emosionele ondersteuning van hulle ouers nie.

Wat ouers kan doen

Hoe belangrik is die rol van die ouers in die lig van die “geestelike leemte” waarmee jongmense te kampe het? Verstandige ouers verstaan dat hulle kinders aan die een kant gesonde vermaak en aan die ander kant gereelde persoonlike ondersteuning nodig het. Ouers wat deur liefdevolle belangstelling beweeg word, kan met hulle praat oor hulle keuse van musiek, televisieprogramme, video’s, boeke, videospeletjies en rolprente. Hoewel jongmense dit dalk nie sê nie, hunker baie van hulle na die toegeneentheid en liefdevolle leiding van hulle ouers. Hulle het reguit antwoorde nodig omdat hulle in ’n wêreld vol onsekerhede lewe. Volwassenes moet verstaan dat kinders in ’n baie ingewikkelder wêreld lewe as toe húlle jonk was.

Ouers wat hulle kinders wil beskerm, sal gereeld met hulle gesels, werklik na hulle luister en hulle waarsku teen die gevare wat die moderne kultuur inhou. Wanneer ouers besliste beperkings stel en konsekwent en redelik asook liefdevol met hulle kinders is, sal hulle gewoonlik goeie resultate hê.—Matteus 5:37.

Ouers wat Jehovah se Getuies is, probeer gereelde besprekings met hulle kinders hê deur van die Bybel en Bybelpublikasies en -video’s gebruik te maak. * Hulle gebruik sulke geleenthede, nie om hulle kinders te bestraf nie, maar eerder om onderwerpe te bespreek wat geestelik opbouend is. Tydens hierdie gesinsbesprekings luister hulle na probleme of uitdagings wat elkeen van hulle kinders raak sodat die kinders persoonlike aandag kan kry.

Jongmense wat geen geestelike leiding van hulle ouers kry nie, kan krag put uit Psalm 27:10, wat sê: “My vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem.” Hoe help Jehovah, die Vader van tere barmhartighede, jongmense? Die gemeentes van Jehovah se Getuies is ’n toevlug waar baie die liefde van ander mense gevind het en waar hulle twyfelgedagtes weggeneem is. Josías, ’n jong man wat die waarheid hiervan ondervind het, sê: “Jehovah se organisasie vervul ’n noodsaaklike rol. Ek het gevoel dat die lewe nie die moeite werd is nie. Ek het doelloos en sonder hoop gelewe. Die wete dat ’n mens nie alleen is nie, het my lewe heeltemal verander. Die broers in die gemeente het vir my die gesin geword wat ek verloor het. Die ouer manne en gesinne in die gemeente is in emosionele sin soos ’n anker.”

Trouens, baie jongmense en volwassenes geniet beter verstandelike en geestelike gesondheid omdat hulle die gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies gereeld bywoon. Die antropoloog Patricia Fortuny het oor hierdie positiewe uitwerking in haar verhandeling Los Testigos de Jehová: una alternativa religiosa para enfrentar el fin del milenio (Jehovah se Getuies: ’n Godsdienstige alternatief om die einde van die millennium tegemoet te gaan) gesê: “Jehovah se Getuies bied ’n duidelike en bepaalde stelsel van orde om in ’n mens se daaglikse lewe toe te pas, ’n presiese kode wat as ’n gids vir jou denke en gedrag dien.” Die “stelsel van orde” en die “kode” waarna hier verwys word, is op die Bybel gebaseer. Hoewel Jehovah se Getuies dus dieselfde probleme en druk as hulle medemens ondervind, word hulle versterk deur die unieke wysheid van hierdie ou boek. Ja, die duidelike leerstellings en beginsels in die Bybel dien as ’n toevlug vir die Getuies.

Wanneer ‘die dood nie meer daar sal wees nie’

Die onderrigting wat in die Koninkryksale van Jehovah se Getuies gegee word, beklemtoon keer op keer God se belofte van ’n nuwe wêreld wat binnekort gaan kom, waarin ‘regverdigheid sal woon’ en waarin ‘niemand sal wees wat hulle laat bewe nie’ (2 Petrus 3:13; Miga 4:4, NW). Wat meer is, die profeet Jesaja sê dat God dan “die dood vir ewig [sal] vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee”. Die mensdom word deur die dood geteister as gevolg van die oortreding van die eerste mens, Adam, maar God se belofte is dat ‘die dood binnekort nie meer daar sal wees nie’.—Jesaja 25:8; Openbaring 21:3, 4; Romeine 5:12.

As jy ’n jong persoon is wat hulp soek, nooi ons jou om deur die bladsye van die Bybel hoop te vind, asook ’n rede om te lewe. Met die hulp van Jehovah se Getuies kan jy die hoop hê dat die beste tye nog voorlê in die nuwe wêreld wat God belowe.

[Voetnoot]

^ par. 8 Die video, Young People Ask—How Can I Make Real Friends?, word deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. vervaardig. Dit is tans in Engels en voorsien praktiese hulp vir jongmense.

[Prent op bladsy 9]

Ouers moet die tyd neem om werklik na hulle kinders te luister en hulle probleme te verstaan

[Prente op bladsy 10]

“Jehovah se Getuies bied ’n duidelike en bepaalde stelsel van orde om in ’n mens se daaglikse lewe toe te pas”