Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Globale handel Ek wil julle baie bedank vir die duidelike inligting in die artikel “Globale handel—Hoe dit jou raak” (8 September 1999). Ek verstaan nou beter waarom daar ’n kloof tussen ryk en arm lande is.

M. Z., Italië

Ek studeer ekonomie op kollege en het so pas hierdie onderwerp oor internasionale handel voltooi. Julle artikel het punte behandel wat ons nie in die klas bespreek het nie. Ek sal dit volgende maand in my eksamen gebruik.

H. N., Zimbabwe

Verkeerde laser? Die berig “Pynlose tandartsbehandeling?” in “Ons beskou die wêreld” (22 Oktober 1999) het van die “erbium:YAG-laser vir gebruik deur tandartse” gepraat. Moes dit nie “neodimium:YAG” gewees het nie?

D. B., Kanada

Hoewel die Akademie vir Lasertandheelkunde sê dat die neodimium:YAG-laser “die gebruiklikste golflengte in tandheelkunde is”, meld ’n artikel in “The Journal of the American Dental Association” (Augustus 1997, Volume 128, bladsye 1080-7) die gebruik van die erbium:YAG-laser soos “FDA Consumer” beskryf het.—RED.

Blokkiesraaisel Kan julle nie die antwoorde vir die blokkiesraaisels in die volgende nommer druk nie? Ek lees altyd eers die tydskrif en doen dan die blokkiesraaisel later, en dit is moeilik om die bladsy te lees waarop die antwoorde verskyn sonder om daarna te kyk.

J. L., Verenigde State

Ons waardeer die voorstel. Maar aangesien die “Ontwaak!” van deur tot deur versprei word, ontvang baie van ons lesers nie opeenvolgende nommers nie. Daarom voel ons dat dit beter is om die antwoorde in dieselfde nommer te hou. Probeer om nie vooraf daarna te kyk nie!—RED.

Heksery Ek is 13 jaar oud, en ek het ’n meisie by die skool ontmoet wat in heksery glo. Eendag het sy my gevra wat ek daarvan dink. Ek het vir haar gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is en dat ek nie daarin glo om van okkulte magte gebruik te maak nie. Sy was ontsteld en het die saak sedertdien dikwels opgehaal. Ek het tot Jehovah om hulp gebid, en dit het in die vorm van die artikel “Die Bybelse beskouing: Wat sit agter heksery?” (8 November 1999) gekom. Ek het die artikel vir haar gegee, en vandat sy dit gelees het, het sy opgehou om my mening oor die onderwerp te kritiseer.

K. E., Verenigde State

Stinkende lekkerny Dankie vir die artikel “Surströmming—’n stinkende lekkerny” (8 Julie 1999). Ons het nog nooit daarvan gehoor nie, en daarom het ons met ’n medegelowige gepraat wat van Swede af kom. Sy het vir ons beskryf hoe besonder lekker dit is en ons ’n ruk later verras deur vir ons twee blikkies daarvan te gee. ’n Paar van ons in die plaaslike gemeente het besluit om dit saam te geniet. Ons het ag geslaan op die waarskuwing in die artikel en die blikkies buite in die tuin oopgemaak. Ook maar goed dat ons dit daar gedoen het. Die reuk het selfs ons ergste verwagtinge oortref! Dit was onmoontlik vir ons om onbevooroordeeld daaraan te proe! Maar dankie vir die artikel, waarsonder ons nooit so ’n onvergeetlike ondervinding sou gehad het nie.

C. B., Duitsland

RSD Dit het my twee jaar geneem om te skryf om dankie te sê vir die artikel “RSD—’n raaiselagtige, pynlike steurnis” (8 September 1997). Ek het nog nooit van die steurnis gehoor nie, totdat ek uitgevind het dat ek dit in my linkerarm het. My fisioterapeut het gesê dat sy meer uit die artikel geleer het as uit haar studies op universiteit. In elk geval, dankie vir die artikel. Dit het my werklik gehelp.

L.M.K., Verenigde State