Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer koeie met vakansie gaan!

Wanneer koeie met vakansie gaan!

Wanneer koeie met vakansie gaan!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWITSERLAND

HET jy geweet dat duisende koeie in Switserland elke jaar met vakansie gaan? Jy moet net sien hoeveel hulle dit geniet!

Gedurende Switserland se koue wintermaande wanneer dit sneeu, word melkkoeie in stalle gehou. Dit is ’n welkome verligting wanneer die lente aanbreek en die koeie buitentoe kan gaan en in groen weivelde kan wei wat met helder geel perdeblomme oordek is. Wanneer hulle nou en dan in die lug spring, lyk dit of hulle uiting wil gee aan hulle uitbundige vreugde oor die verandering van omgewing en seisoen.

Teen Mei of vroeg in Junie word nog weivelde beskikbaar wanneer die sneeu smelt en die weivelde op hoër liggings nie meer met sneeu bedek is nie. Dit is tyd om die beeste vir die somer berge toe te neem.

’n Land met waterryke weivelde

In Switserland is daar ongeveer 10 000 weivelde op hoër liggings, wat sowat 10 000 vierkante kilometer beslaan. Dit is ’n kwart van die totale landoppervlakte. Groot sorg word dus aan die dag gelê om hierdie waardevolle hulpbron te beskerm.

Mens en dier werk saam om te keer dat die onkruid en bossies nie te ruig op die hoogliggende weivelde groei nie. Om hierdie rede word ongeveer 500 000 beeste aan die sorg van professionele veewagters toevertrou. Melkkoeie en verse word per vragmotor of trein vir ’n somervakansie na die berge geneem om te wei.

Omdat die paaie en treinspore nie hoog genoeg opgaan nie, moet die laaste deel van die reis te voet afgelê word. Die troppe beweeg hoër op namate dit later in die somer word. Daar vind die beeste soet alpegras en pragtige veelkleurige blomme, soms in weivelde tussen 2 000 en 2 200 meter bo seevlak. Daar is baie bergstrome, gevolglik is daar glad nie ’n tekort aan drinkwater nie.

Die lekker melk van die koeie word soms berg af vervoer vir verbruik of verwerking. Maar in die meeste gevalle word botter of kaas reg daar in die berghutte gemaak. Namate die somerdae korter word, word die troppe na laerliggende weivelde geneem. Die dag breek uiteindelik aan—dit is gewoonlik teen die einde van September, na gelang van die weer—waarop die troppe na hulle winterwonings terugkeer. Ja, hulle somervakansie is so te sê verby! Maar eers word ’n spesiale optog gehou.

Die groot dag!

Produksieverslae is gehou, en die beste koeie word versier volgens die hoeveelheid melk wat hulle gelewer het. Die beste melkkoei lei die trop op die tog huis toe. Die koeie se koppe word met kleurvolle papierblomme, linte en takkies van klein dennebome versier. Baie dra ’n metaalklok om die nek, wat hulle aankoms van ver af aankondig.

Die veewagters vier hierdie spesiale geleentheid deur wit hemde en geborduurde swart fluweelbaadjies te dra. Intussen kom die plaasmense onder in die vallei langs die pad bymekaar om die optog met ’n gejuig te verwelkom.

Wanneer die beeste die laagland bereik, word hulle vir nog ’n winter aan hulle onderskeie eienaars terugbesorg. Dit sal egter nie lank wees voor dit weer tyd is vir nog ’n vakansie in die berge nie! Wat ’n lewe!

[Volbladillustrasie op bladsy 18]