Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is ’n bedienaar?

Wie is ’n bedienaar?

Die Bybel se beskouing

Wie is ’n bedienaar?

OP DIE vooraand van Jesus se offerdood het sy intiemste vriende in ’n hewige rusie betrokke geraak. Volgens Lukas 22:24 het daar “’n driftige woordewisseling onder hulle ontstaan oor wie van hulle blykbaar die grootste was”. Dit was nie die eerste keer dat so ’n stryery onder Jesus se apostels uitgebreek het nie. By ten minste twee vorige geleenthede moes Jesus hulle denke regstel.

Hoe jammer is dit tog dat Jesus hulle op hierdie kritieke nag weer moes herinner aan wat ’n Christenbedienaar werklik moet wees. Hy het gesê: “Laat hy wat die grootste onder julle is, soos die jongste word, en die een wat as die vernaamste optree, soos die een wat dien.”—Lukas 22:26.

Dit moet ons nie verbaas dat die apostels ’n verkeerde idee van die belangrikheid van status en vernaamheid gehad het nie. Voor Jesus was hulle vernaamste voorbeeld wat godsdiensleierskap betref die skrifgeleerdes en Fariseërs. Pleks van mense geestelike leiding en riglyne te gee, het hierdie valse bedienaars onbuigsame tradisies en reëls voorgestaan wat ‘die koninkryk van die hemele voor die mense toegesluit het’. Hulle was mense wat net op status ingestel was, vernaamheid gesoek het, egosentries was en wat hulle werke gedoen het “om deur die mense gesien te word”.—Matteus 23:4, 5, 13.

’n Nuwe soort bedienaar

Jesus het sy dissipels egter ’n nuwe konsep geleer wat geestelike bedienaarskap betref. Hy het vir hulle gesê: “Moet julle nie Rabbi laat noem nie, want een is julle leermeester, terwyl julle almal broers is. Wat meer is, moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel. . . . Maar die grootste onder julle moet julle dienaar wees” (Matteus 23:8-11). Jesus se dissipels moes nie die godsdiensleiers van hulle dag navolg nie. As hulle ware bedienaars wou wees, moes hulle Jesus navolg. Watter soort voorbeeld het hy gestel?

Die Bybel gebruik dikwels die Griekse woord di·aʹko·nos vir “(be)dienaar”. The Encyclopedia of Religion verduidelik dat hierdie woord “nie status [verteenwoordig] nie, maar die diensbaarheid van die dienaar teenoor die een wat bedien word: om die voorbeeld van Christus na te volg . . . , is die grondslag van die Christelike begrip van bedienaarskap”.

In ooreenstemming met die korrekte definisie van die woord “bedienaar” het Jesus alles in sy vermoë gedoen om ander te dien. “Die Seun van die mens [het] gekom”, het hy geduldig verduidelik, “nie om gedien te word nie, maar om te dien en om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Jesus het sy tyd, energie en vermoë op ’n onselfsugtige wyse gebruik om ander fisies en geestelik te help. Waarom? Omdat hy medelye gevoel het vir die geestelik verwaarloosde skare wat saamgedrom het om hom te sien. Hy wou hulle help. Oorvloedige liefde was die dryfveer van sy bediening, en hy wou hê dat sy dissipels dieselfde vrygewige gesindheid moes openbaar.—Matteus 9:36.

Deur sy lewenswyse het Jesus ’n voorbeeld vir toekomstige bedienaars gestel. “Die oes is groot”, het hy gesê, “maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matteus 9:37, 38). Ja, Christus se bedienaars moes werkers wees in die grootste werk wat hierdie wêreld nog gesien het—die werk om geestelike vertroosting vir die hele mensdom te voorsien deur die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en ander daarvan te leer.—Matteus 28:19, 20.

Dit is hierdie vrygewige gesindheid en begeerte om in die behoeftes van ander te voorsien wat Christus se benadering tot die bediening so kenmerkend gemaak het. Hy het sy bedienaars geleer om werkers te wees, geestelike vissermanne en herders, nie mistici en akademici in spesiale kleredrag en ampsierade nie.—Matteus 4:19; 23:5; Johannes 21:15-17.

Die Bybelse beskouing

Ongelukkig is hierdie verhewe, onselfsugtige konsep van bedienaars as selfopofferende predikers en onderrigters deur die eeue heen verdraai. Wat as die Christelike bediening begin het, het tot ’n formele, hiërargiese instelling ontwikkel. Ordes en range is gevorm, en hulle het aansien en mag ontvang en het dikwels groot rykdom opgegaar. Dit het tot ’n skeiding gelei. ’n Geestelikeklas het ontwikkel wat hulle hoofsaaklik daaraan gewy het om godsdienstige sakramente te bedien en sondaars te betig. Die eerste-eeuse Christelike godsdiens het in die eeue daarna van ’n aktiewe godsdiens waarin almal bedienaars was, verander na ’n passiewe godsdiens waarin net ’n handjie vol spesiaal opgeleide en gemagtigde persone kon preek en onderrig.

Die Bybel identifiseer egter nie ’n Christenbedienaar aan onderskeidende kleredrag, uitvoerige rituele, ’n salaris of goedkeuring deur die staat nie, maar aan sy onselfsugtige werke. Die apostel Paulus het die gesindheid uiteengesit wat Christenbedienaars aan die dag moet lê. Hy het hulle aangemoedig om ‘niks uit egotisme te doen nie, maar met ootmoed’.—Filippense 2:3.

Paulus se dade het beslis met sy woorde ooreengestem. Hy het Christus se voorbeeld noukeurig nagevolg en nooit sy “eie voordeel [gesoek] nie, maar dié van die meerderheid, sodat hulle gered kan word”. Hy was terdeë bewus van sy verantwoordelikheid om “die goeie nuus kosteloos [te] verskaf”, soos hy gesê het, “sodat ek my reg in verband met die goeie nuus nie misbruik nie”. Hy het nie “heerlikheid van mense gesoek” nie.—1 Korintiërs 9:16-18; 10:33; 1 Tessalonisense 2:6.

Wat ’n uitstekende voorbeeld van ’n ware Christenbedienaar! Diegene wat sy uitstekende voorbeeld navolg sowel as die onselfsugtige voorbeeld wat Jesus Christus gestel het deur vryelik van hulleself te gee om geestelike hulp en die vertroosting van die goeie nuus aan ander te voorsien, toon dat hulle ware bedienaars van God is.—1 Petrus 2:21.