Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan ek my verblyf in die buiteland suksesvol maak?

Hoe kan ek my verblyf in die buiteland suksesvol maak?

Jongmense vra . . .

Hoe kan ek my verblyf in die buiteland suksesvol maak?

“Toe ek by die lughawe aankom, wou ek net huis toe gaan! . . . Ek het al my avontuurlus verloor, asook my begeerte om nuwe dinge te sien. Kortom, ek het nog nooit so baie na die huis verlang nie.”—Uta.

DIT is ’n vreesaanjaende gevoel om alleen in ’n vreemde land te wees. Maar soos ’n vorige artikel in hierdie reeks getoon het, besluit baie jongmense om ’n tyd lank in die buiteland te gaan woon. Party gaan om verder te studeer of om spesiale opleiding te ontvang. Party wil ’n taal aanleer. Party wil eenvoudig geld verdien. Ander het egter in ander lande gaan woon omdat daar meer Koninkryksverkondigers nodig is.

Gestel jy bly in die buiteland om verstandige redes—redes wat jou geestelike behoeftes en doelwitte in ag neem *—wat kan jy doen om te verseker dat jou verblyf suksesvol sal wees?

Wees vasbeslote om aan te pas

Jy moet eerstens bereid wees om aanpassings te maak. Dit beteken nie dat jy Christelike beginsels of jou geestelike roetine moet prysgee nie. Maar dit kan beteken dat jy ’n smaak vir nuwe kossoorte sal moet aanleer, nuwe gedragsreëls sal moet leer of dinge op nuwe maniere sal moet probeer doen. Hierdie nuwe gewoontes verskil dalk baie van die manier waarop jy dinge by die huis gedoen het. Maar Jesus se bevel om ‘op te hou oordeel’, kan tereg hier toegepas word (Matteus 7:1). Geen ras of kultuur het in werklikheid die reg om te sê dat hulle beter as ander is nie (Handelinge 17:26). Net soos ouer mense nie kritiese vergelykings tussen die jongmense van die verlede en dié van vandag moet maak nie, moet jongmense in die buiteland ook nie kritiese vergelykings tussen ’n vreemde land en hulle eie maak nie (Prediker 7:10). Vestig jou aandag op die positiewe dinge wat hierdie nuwe land en kultuur bied. Hoe gouer jy ook die taal van hierdie land aanleer, hoe gouer sal jy tuis voel.

Die apostel Paulus het in sy werk as ’n sendeling suksesvol by verskillende kulture aangepas omdat hy bereid was om “alles vir alle soorte mense” te word (1 Korintiërs 9:22). ’n Soortgelyke gesindheid kan jou help om aanpassings te maak. Adrianne is ’n au pair in Duitsland wat in ruil vir losies huishoudelike werk vir ’n gesin doen. Sy verduidelik: “Ek moet baie buigsaam wees, want ek kan nie verwag dat ander by my moet aanpas nie.”

‘Ek verlang huis toe!’

Dit is nie ongewoon om gedurende die eerste paar weke hartseer te voel en huis toe te verlang nie. Die Bybel toon dat Jakob ‘erg verlang het na die huis van sy vader’, hoewel Jakob al meer as 20 jaar in ’n vreemde land was! (Genesis 31:30). Moet dus nie verbaas wees as jy soms baie huil nie. As jy natuurlik heeltyd tob oor wat jy agtergelaat het, sal jy net hartseerder voel (Numeri 11:4, 5). Die beste manier om neerslagtigheid te oorkom, is om so gou moontlik aan jou nuwe roetine en omgewing gewoond te raak. Hoewel dit goed is om deur briewe of telefoonoproepe met jou gesin in aanraking te bly, kan te veel oproepe huis toe dit moeilik maak om by jou nuwe tuiste aan te pas.

Baie Christenjongmense vind dat eensaamheid die beste teëgewerk word deur weer in hulle geestelike roetine te kom (Filippense 3:16). Amber sê oor haar eerste weke in die buiteland: “Dit was vir my moeilik in die aande, wanneer daar niks was om te doen nie, daarom het ek bykomende studiewerk probeer doen of ’n boek gelees.” Die jong Rachel, ’n Britse au pair in Duitsland, praat uit persoonlike ondervinding wanneer sy sê: “Raak onmiddellik betrokke. Begin dadelik die vergaderinge bywoon.” Jy sal dalk aanvanklik hulp nodig hê om by die vergaderinge te kom. Maar in die Christengemeente kan jy opbouende vriende vind wat soos “broers en susters en moeders” kan wees.—Markus 10:29, 30.

Om aan die Christelike evangelisasiewerk deel te neem, is ook ’n belangrike deel van ’n goeie geestelike roetine. Deelname aan die predikingswerk sal nie net tot jou geestelike voordeel strek nie, maar dit sal jou ook help om by die nuwe kultuur en taal aan te pas.

Bly ten slotte by jou roetine van gebed en persoonlike studie. Dit is noodsaaklik as jy geestelik gesond wil bly (Romeine 12:12; 1 Timoteus 4:15). Adrianne, wat vroeër genoem is, het om dié rede seker gemaak dat sy Bybellektuur in haar eie taal saamgebring het.

As jy by ’n gesin loseer

Party jong Christene het gereël om by gelowige gesinne te bly terwyl hulle in die buiteland is. Hoewel daar nie van so ’n gesin verwag kan word om die werk van ouers oor te neem nie, kan hulle goeie geselskap asook ’n bron van geestelike aanmoediging wees.—Spreuke 27:17.

Nietemin is openhartige kommunikasie met die gesin noodsaaklik om ’n goeie verhouding te behou (Spreuke 15:22; 20:5; 25:11). Amber sê: “Jy moet ’n goeie idee hê van wat jy sal moet doen. Jy moet weet wat die gesin van jou verwag. En hulle moet weet wat jou verwagtinge is.” Vind uit wat die gesin se huisreëls is en tot watter mate jy met die huiswerk moet help. Sulke sake moet goed bespreek word.

Jou situasie sal veral ’n uitdaging wees as jy byvoorbeeld vir ’n gesin werk wat nie dieselfde geloofsoortuiging as jy het nie. Aangesien die gesin dalk nie jou standpunt oor Bybelbeginsels sal verstaan nie, kan jy jou in situasies bevind waar jy jou beginsels in gevaar stel (Spreuke 13:20). Die eise wat aan jou gestel word om jou werk in die huis klaar te maak, kan inmeng met geestelike verpligtinge, soos die bywoning van Christelike vergaderinge. As onvermydelike omstandighede jou dus dwing om by ’n gesin te bly wat nie dieselfde geloofsoortuiging as jy het nie, moet jy verskeie voorsorgmaatreëls tref.

Rachel stel voor: “Maak seker dat hulle weet jy is ’n Christen. Dit is die beste om van die begin af eerlik met hulle hieroor te wees.” As jy jou godsdienstige en sedelike beginsels verduidelik, kan dit as ’n beskerming dien. Jy moet dit ook duidelik aan jou werkgewer stel hoe belangrik Christelike vergaderinge en die predikingswerk vir jou is. Ten slotte is dit verstandig om seker te maak dat belangrike sake soos werksure, verlof en betaling op skrif gestel word voor jy begin. Dit kan later frustrasie voorkom.

Hoe om probleme op te los

Al doen jy jou bes, kan probleme nog steeds ontstaan. Gestel byvoorbeeld die gesin eis dat jy hulle huis verlaat. Dit kan nogal verpletterend wees. As die een of ander misverstand ontstaan, moet jy dit op ’n kalm en redelike manier met hulle probeer bespreek (Spreuke 15:1). Wees bereid om enige foute te erken wat jy dalk gemaak het. Miskien sal hulle van gedagte verander. Indien nie, sal jy ander verblyf moet kry.

Ander probleme sal moontlik vereis dat jy iemand se hulp moet vra. Jy kan byvoorbeeld finansiële probleme begin ondervind of siek word. Omdat jy bang is dat jou ouers dalk sal kom om jou huis toe te neem, is jy miskien huiwerig om hulle te laat weet wat aangaan. Bowendien is hulle kilometers daarvandaan en sal hulle moontlik nie weet hoe om so ’n situasie in ’n ander land te hanteer nie. Maar die plaaslike gemeentelike ouer manne weet dalk uit ondervinding hoe om sulke probleme te hanteer en sal moontlik praktiese hulp kan gee. Hulle sal jou ook kan help besluit of dit ’n saak is wat onder jou ouers se aandag moet kom.

Wanneer jy weer by die huis is

Ten spyte van probleme en uitdagings kan dit ’n lonende ondervinding wees om tyd in die buiteland deur te bring, veral as jy om geestelike redes daarheen gaan. Die tyd sal natuurlik aanbreek wanneer jy terug huis toe sal moet gaan. Andreas sê: “Met soveel positiewe herinneringe—negatiewes raak gou vergete—was dit baie moeilik vir my om weg te gaan.” Maar moenie verwag dat jou vriende of gesin by die huis skielik die manier waarop hulle dinge doen, gaan verander noudat jy teruggekom het met nuwe gesindhede wat jy in die buiteland geleer het nie. Jy moet hulle ook nie irriteer deur hulle voortdurend te herinner aan hoe dinge elders gedoen word nie. Jy sal natuurlik vir almal van jou ondervindinge wil vertel, maar moenie gefrustreerd voel as nie almal so opgewonde soos jy is nie.

Dit is duidelik dat die besluit om ’n tyd lank in die buiteland te woon een is wat ernstig opgeneem moet word. As jy, nadat jy die saak met jou ouers bespreek het, besluit dat daar goeie redes is om te verhuis, moet jy gereed wees om die uitdagings wat daarmee gepaardgaan die hoof te bied. Soos met enige groot besluit wat ’n mens in die lewe moet maak, is dit verstandig om eers die koste te bereken.—Lukas 14:28-30.

[Voetnoot]

^ par. 5 Sien die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek in die buiteland gaan woon?” in die nommer van 22 Junie 2000.

[Venster/Prent op bladsy 27]

Veiligheidswenke

● Hou jou paspoort, geld en retoerkaartjie op ’n veilige plek.

● Maak afskrifte van jou paspoort, asook jou toegangspermit en/of visum, jou retoerkaartjie en ander belangrike dokumente. Hou een stel van hierdie afskrifte by jou en stuur een stel aan jou ouers of vriende by die huis.

● Dra altyd die telefoonnommers van jou ouers of vriende by die huis en van die gesin waar jy bly by jou.

● Gedra jou altyd kuis wanneer jy saam met lede van die ander geslag is, hetsy hulle lede van die gesin is waar jy bly, of by die skool, by die werk of op ander plekke is.

● Leer ten minste ’n paar basiese woorde en uitdrukkings in die taal van die land.

● Gaan vir ’n mediese ondersoek voor jy vertrek. Maak seker dat jy genoeg van die medisyne het wat jy nodig het.

[Prent op bladsy 26]

As misverstande ontstaan met die gesin waar jy bly, moet jy dit op ’n kalm manier met hulle bespreek