Is dit tyd vir ’n nuwe bed?
Is dit tyd vir ’n nuwe bed?
Deur Ontwaak!-medewerker in Brittanje
Slaap jy dikwels onrustig, lê jy en rondrol om in ’n gemaklike posisie te kom en word jy dan soggens styf en seer wakker? As dit so is, is die probleem moontlik jou bed.
HIERDIE meubelstuk kan jou vriend of jou vyand wees. As jy in ’n land woon waar mense op beddens slaap, sal jy waarskynlik ’n derde van jou lewe op een deurbring, maar jou bed sal nie vir ewig hou nie. Is die bed wat jy nou het nog goed genoeg?
Het jy ’n nuwe bed nodig?
’n Bed sal gewoonlik ongeveer tien jaar lank goeie diens doen. ’n Swaarder persoon se bed sal dalk nie so lank hou nie. Jy moet ook in gedagte hou dat jou behoeftes en voorkeure verander namate jy ouer word. Wanneer jy besluit of jy ’n nuwe bed nodig het of nie, vra jou hierdie vrae af: ‘Word ek met ’n stywe nek of rugpyn wakker? Is my bed te klein? Kan ek die vere of bulte voel? Hoor ek kraak- of knarsgeluide wanneer ek beweeg? Vind ek en my maat dat ons onbewustelik na mekaar toe rol? Is die onderstel ongelyk of sak dit in? Is die pote of wieletjies geslyt?’ Jou antwoorde op hierdie vrae kan jou help om te bepaal of dit tyd is om ’n nuwe bed te koop.
Wat is ’n goeie bed?
’n Goeie bed bied gerief en ondersteuning en voldoen aan jou besondere behoeftes en voorkeure. Die meeste beddens bestaan uit ’n matras en onderstel, maar die matras is die sleutel tot jou gerief. Dit is uit etlike dele saamgestel. Eers kry jy die oortreksel, wat alles bymekaar hou. Dan volg lae gewatteerde bekleedsel vir sagtheid en om liggaamsvog te laat verdamp. Die derde deel, wat die ondersteuning en die fermheid voorsien, bevat gewoonlik windings of vere van getemperde staal. Daar is verskillende vorme van interne ondersteuning, maar as ’n algemene reël kan ’n mens sê: hoe meer vere daar is en hoe dikker die draad is, hoe beter is die ondersteuning. Deesdae is ’n gewilde alternatief die poliuretaan- of lateksskuimrubbermatras; dit is ligter as ’n matras met staalvere.
Maar ’n goeie matras werk net goed as dit ’n goeie onderstel het, gewoonlik die een wat daarvoor ontwerp is. ’n Divanbed word dikwels as ’n eenheid verkoop, met ’n matras en ’n onderstel. Sy diep, boksvormige onderstel dien as ’n groot skokbreker, wat die matras laat asemhaal en sodoende sy lewensduur aansienlik verleng. ’n Ander opsie is die katel. Dit het gewoonlik ’n onderstel van latte en is oop na onder, wat goeie ventilasie van sy
matras moontlik maak. Soliede latte voorsien ’n stewige onderstel terwyl veerkragtige latte buigsamer is.Kies die regte bed
Wat moet jy in gedagte hou wanneer jy ’n bed koop? ’n Tweedehandse bed het ander mense se sweet en velskilfers geabsorbeer en is dalk vol stofmyte wat allergiese reaksies, asma of ekseem kan veroorsaak. Dit voldoen dalk ook nie aan gesondheids- of veiligheidstandaarde nie.
Voor jy ’n nuwe bed gaan koop, is dit goed as jy besluit wat vir jou die belangrikste is, byvoorbeeld prys, gesondheidsoorwegings of grootte. Probeer genoeg tyd opsy sit om winkels met ’n goeie reputasie te besoek en vra soveel inligting as moontlik oor elke bed of matras. Aangesien beddens dikwels duur is, moet jy nie toelaat dat jy gedwing word om oorhaastig te besluit nie.
Jy sal dit moontlik moeiliker vind om die regte keuse te maak as jy moeg is. Dra gemaklike klere. Moenie selfbewus voel wanneer jy ’n bed wil toets nie. Trek jou baadjie en skoene uit en lê ’n paar minute lank op elke bed. Probeer verskeie slaapposisies, en let veral op die ondersteuning wat dit jou skouers, heupe en onderrug bied.—Sien die venster hieronder.
Pas jou bed goed op
As jy jou bed goed oppas, sal dit beslis sy lewe verleng. Vra raad by die verkooppersoneel, en sorg dat jy die vervaardiger se instruksies lees. Wanneer jy jou nuwe bed huis toe bring, moet jy die poliëtileenomhulsel so gou moontlik afhaal. Dit sal help keer dat kondensasie plaasvind, wat klamheid, muf en verrotting
kan veroorsaak. Hier is nog ’n paar wenke.● Draai ’n nuwe binneveermatras elke week of twee gedurende die eerste paar maande in sy lengte en breedte om en doen dit daarna elke drie maande. Dit sal help dat daar nie holtes in die vulsel vorm nie en sal verseker dat die matras se oppervlak nie oneweredig word nie. As jy ’n rugprobleem het, kan jy gerus ’n skuimrubbermatras oorweeg, want dit hoef moontlik nie so gereeld omgedraai te word nie.
● Moet nooit ’n matras buig, oprol of platdruk nie. Gebruik die handvatsels alleenlik om die matras te skuif, nooit om sy volle gewig te dra nie, want dit sal die materiaal beskadig.
● Gooi jou komberse elke oggend vir ten minste 20 minute terug sodat jou bed lug kan kry en liggaamsvog kan verdamp.
● Hou jou matras skoon deur ’n wasbare oortreksel te gebruik. Stofsuig die matras sowel as die onderstel gereeld om dons en stof te verwyder en vee vlekke en enigiets wat op die matras gemors het gou met sagte seep en koel water af.
● Probeer om nie altyd op dieselfde plek op die kant van die matras te sit nie. Moenie kinders of enigiemand anders toelaat om op die bed te spring nie.
Jy belê baie meer as net geld in ’n bed. Dit is ’n belegging in ’n derde van jou lewe—wat ’n merkbare uitwerking op die ander twee derdes kan hê. As jy jou bed wyslik kies en dit goed oppas, sal jy goeie diens daaruit kry.
[Venster op bladsy 22]
Watter bed is reg vir jou?
Gerief en ondersteuning. ’n Matras hoef nie so hard soos ’n plank te wees om goed vir jou te wees nie. Trouens, ’n bed wat te ferm is, kan vermoedelik rugprobleme vererger. Laat jou liggaam vir jou sê wat die beste voel. Gaan lê op jou rug. As jy jou hand in die holte van jou rug kan inskuif sodat dit styf pas en as jy maklik kan omdraai, is die matras omtrent hard genoeg vir jou. ’n Ondersteunende matras moet jou ruggraat in ’n reguit lyn laat bly wanneer jy op jou sy lê. ’n Swaarder persoon sal ’n harder bed nodig hê.
Grootte. Kies ’n bed wat jou vryheid van beweging gee. As twee mense op die bed gaan slaap, moet jy onthou dat twee volwassenes wat op ’n standaarddubbelbed slaap elkeen omtrent soveel spasie soos ’n baba in ’n kinderbedjie sal hê.
Stelle wat bymekaar pas. Koop indien moontlik ’n matras en onderstel wat bymekaar pas en ontwerp is om saam te werk vir jou gerief en ondersteuning. ’n Ou onderstel kan ’n nuwe matras beskadig en ook ’n uitwerking op die waarborg hê.
Waarde. Jy kry dikwels waarvoor jy betaal; koop dus die beste gehalte wat jy kan bekostig.
Ruimte. As ruimte ’n probleem is, is dit dalk die moeite werd om ’n Murphy-bed, of ’n muurbed, wat in ’n kas opslaan, te oorweeg. ’n Ander moontlikheid is ’n futon, ’n kussing wat van lae gepluisde katoen gemaak is en wat snags vinnig op die vloer uitgerol kan word. Futons kan ook as bedbanke met opvoubare houtrame verkoop word.
Gesondheidsprobleme. As jy ongemaklik is in ’n gewone bed, kan ’n verstelbare bed ’n verskeidenheid slaapposisies bied. ’n Waterbed ondersteun en versprei die liggaamsgewig eweredig, en dit kan mense help wat ongerief het weens drukpunte.
Allergielyers. As jy allergies is vir stof of natuurlike stowwe, is ’n matras wat sintetiese vesels bevat moontlik ’n goeie keuse. Dit is ook interessant dat stowwe wat allergieë veroorsaak nie maklik in ’n katel met ’n onderstel van latte of in ’n waterbed saampak nie.
Bejaardes. Sorg dat jou voetsole die grond kan raak as jy op die kant van jou bed sit. ’n Onderstel met ’n stewige rand sal dit vir jou makliker maak om uit hierdie sittende posisie in en uit die bed te klim.
[Venster op bladsy 23]
Veiligheidswenke
▪ Dra brandtrae slaapklere.
▪ Sorg dat beddegoed ver van ’n kaggel en verwarmer is.
▪ Gaan ’n elektriese kombers gereeld na en sorg dat daar geen uitgerafelde materiaal, diep voue of skroeimerke is nie en dat die elektriese koord nie verslyt is nie. Moet nooit die kombers gebruik wanneer dit nat is nie, maar laat dit vanself uitdroog. Moenie swaar voorwerpe op die bed sit wanneer die kombers aangeskakel is nie.
▪ Moenie ’n warmwatersak vol kookwater maak nie, en moet dit ook nie saam met ’n elektriese kombers gebruik nie. Haal dit uit die bed voor ’n kind in die bed klim.
[Diagram op bladsy 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Oortreksel
Diep diamant-deurstikwerk
Mikrodeurstikwerk
Deurknoopwerk
Lae gewatteerde bekleedsel
Binnevering
Skuimrubber
Deurlopende vere
Oop vere
Vere in lapomhulsel
[Erkenning]
Reproduced by courtesy of the Sleep Council
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Reproduced by courtesy of the Sleep Council