Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom jy spiritisme moet vermy

Waarom jy spiritisme moet vermy

Waarom jy spiritisme moet vermy

AS JY geleer is dat party vorme van spiritisme ’n manier is om met goeie geeste in aanraking te kom, sal jy moontlik verbaas wees om uit te vind wat die Bybel oor spiritisme sê. Dit sê byvoorbeeld: “Julle moet julle nie tot die geestemediums wend nie, en moenie beroepsvoorspellers van gebeure raadpleeg, sodat julle deur hulle onrein word nie.”—Levitikus 19:31, NW; 20:6, 27NW.

Trouens, die Bybel beskryf mense wat spiritisme beoefen as “verfoeilik vir Jehovah” (Deuteronomium 18:11, 12, NW). Waarom? ’n Noukeurige ondersoek van wat die Bybel sê oor een vername vorm van spiritisme—die beweerde kommunikasie met die dooies—sal hierdie vraag beantwoord.

Lewe die dooies?

In teenstelling met wat baie mense dink, leer God se Woord, die Bybel, dat dit nie vir mense moontlik is om met afgestorwe dierbares te kommunikeer nie. Waarom nie? Wel, as enigeen met die dooies wil praat, moet die dooies lewendig wees. Daar moet ’n deel van hulle wees wat ná die dood voortleef. Party beweer dat die siel voortleef wanneer die liggaam sterf. Is dit so?

Die Bybelverslag van die mens se skepping sê: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Toon dit nie dat die persoon self ’n siel is nie en dat hy nie ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef nie? Trouens, die Skrif sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, . . . daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk”, die mensdom se gemeenskaplike graf nie.—Prediker 9:5, 10.

Volgens die Bybel is die siel dus nie iets wat ná die dood van die liggaam voortleef en waarmee lewende mense daarna kan kommunikeer nie. Hier is twee voorbeelde van gerespekteerde Bybelgeleerdes wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die siel sterf. Die Kanadese teoloog Clark H. Pinnock het gesê: “Hierdie idee [dat die mensesiel onsterflik is] beïnvloed teologie al baie, baie lank, maar dit is nie skriftuurlik nie. Die Bybel leer nie die inherente onsterflikheid van die siel nie.” Die Britse geleerde John R. W. Stott sê eweneens: “Die onsterflikheid—en derhalwe die onvernietigbaarheid—van die siel is ’n Griekse opvatting, nie ’n skriftuurlike lering nie.”

Nogtans ontvang mense boodskappe en hoor hulle stemme wat skynbaar van die dooies kom. Wie is dit dan wat praat?

Kommunikasie met wie?

Die Bybel sê dat ’n onsigbare geespersoon ’n slang gebruik het, soos ’n buikspreker ’n pop gebruik, om met die eerste vrou, Eva, te kommunikeer en haar te mislei om teen God in opstand te kom (Genesis 3:1-5). Die Bybel noem hierdie geespersoon, of engel, “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word, wat die hele bewoonde aarde mislei” (Openbaring 12:9). Hy, Satan, het dit reggekry om ander engele in opstand te bring (Judas 6). Hierdie bose engele word demone genoem en is vyande van God.

Die Bybel toon dat demone die mag het om mense te beïnvloed (Lukas 8:26-34). Dit is dus te verstane waarom God se Wet sê: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat . . . ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is verfoeilik vir Jehovah” (Deuteronomium 18:10-12, NW). Watter gevare hou dit in as ’n mens hierdie wet ignoreer?

’n Werklike ondervinding van koning Saul van eertydse Israel beantwoord hierdie vraag. Koning Saul het uit vrees vir sy vyande ’n geestemedium besoek. Hy het haar gevra om met die afgestorwe profeet Samuel in aanraking te kom. Toe hy die geestemedium se beskrywing van ’n ou man hoor, het Saul aangeneem dat hierdie gedaante Samuel was. En watter boodskap het Saul ontvang? Israel sou in die hand van hulle vyande gegee word, en Saul en sy seuns sou saam met “Samuel” wees, wat aangedui het dat hulle sou sterf (1 Samuel 28:4-19). Hoe het God gereageer op Saul se besluit om ’n geestemedium te raadpleeg? Die Skrif sê vir ons: “Saul het gesterwe weens ontrou . . . en ook omdat hy die gees van ’n afgestorwene om inligting gevra het” (1 Kronieke 10:13). Wat ’n hoë prys om te betaal!

Vandag stel diegene wat by spiritisme betrokke is hulle ook aan groot gevaar bloot. Die Bybel waarsku dat “dié wat spiritisme beoefen” “die tweede [of ewige] dood” sal ondergaan (Openbaring 21:8; 22:15). Daarom is dit beslis die verstandige en lewensreddende weg om spiritisme in al sy vorme te vermy.

Hoe om bose geeste te weerstaan

Sê nou jy het reeds by spiritisme betrokke geraak? Dan sal dit goed wees as jy onmiddellik stappe neem om jou en jou gesin teen bose geeste te beskerm. Watter stappe? Ter toeligting: Hoe beskerm iemand sy huis en gesin teen kakkerlakke? Nadat hy van al die kakkerlakke in sy huis ontslae geraak het, verwyder hy alles in sy huis wat hulle lok. Hy maak krake toe en versterk die mure om die kakkerlakke te keer, en as die probleem met die kakkerlakke voortduur, sal hy moontlik deskundige hulp inroep om die probleem op te los.

’n Soortgelyke benadering kan jou help om bose geeste te weerstaan en van hulle los te breek. Beskou die voorbeeld van eerste-eeuse Christene in Efese wat spiritisme beoefen het voordat hulle Christene geword het. Nadat hulle besluit het om van spiritisme los te breek, het hulle drie stappe geneem om hulle teen die gevaarlike aanvalle van bose geeste te beskerm. Wat het hulle gedoen?

Die eerste stap

Die Bybel verduidelik: “Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand” (Handelinge 19:19). Deur hulle boeke oor waarsêery te vernietig, het daardie nuwe Christene ’n voorbeeld gestel vir almal wat vandag bose geeste wil weerstaan. Raak ontslae van alle voorwerpe wat met spiritisme verband hou. Dit sluit alle boeke, tydskrifte, strokiesverhale, video’s, plakkate, materiaal van elektroniese bronne en musiekopnames in wat ’n spiritistiese inslag het, sowel as gelukbringers of ander items wat vir “beskerming” gedra word.—Deuteronomium 7:25, 26; 1 Korintiërs 10:21.

’n Man in Suid-Amerika wat dekades lank diep betrokke was by spiritisme het hierdie skriftuurlike raad ter harte geneem. “Eendag”, vertel hy, “het ek al my spiritistiese voorwerpe voor my huis bymekaargemaak, ’n byl geneem en dit stukkend geslaan.” Toe het hy alles verbrand totdat niks oorgebly het nie. Daarna het hy goeie geestelike vordering gemaak en weldra ’n ywerige bedienaar in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies geword.

Maar daardie eerste stap is nie genoeg nie. Waarom nie? Wel, selfs baie jare nadat daardie Christene in Efese hulle boeke oor die toorkuns vernietig het, het die apostel Paulus geskryf: “Ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte” (Efesiërs 6:12). Die demone het nie opgegee nie. Hulle het nog steeds ’n invloed probeer uitoefen. Wat anders moes daardie Christene doen?

Die tweede stap

Paulus het die eerste-eeuse Efesiërs aangespoor: “Trek die volledige wapenrusting aan wat van God kom, sodat julle kan vasstaan teen die listige dade van die Duiwel” (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Daardie raad geld vandag nog. Net soos iemand wat kakkerlakke uit sy huis probeer hou, moet die Christen sy verdedigingsmiddele wat soos ’n muur is, versterk sodat hy buite die bereik van bose geeste kan bly. Wat sluit hierdie tweede stap in?

“Neem bowenal die groot skild van geloof op,” beklemtoon Paulus, “waarmee julle al die brandende projektiele van die bose sal kan blus” (Efesiërs 6:16). Hierdie skild is onontbeerlik. Hoe sterker jou geloof is, hoe sterker sal jou weerstand teen bose geesmagte wees.—Matteus 17:20.

Hoe kan jy dan jou verdedigingsmiddele versterk? Deur voort te gaan om die Bybel te bestudeer. Watter verband is daar tussen Bybelstudie en geloof? Wel, net soos die stewigheid van ’n muur baie afhang van hoe sterk sy fondament is, so hang die standvastigheid van ’n mens se geloof grootliks af van hoe sterk die fondament daarvan is. Wat is hierdie fondament?

Juiste kennis van God se Woord. Die apostel Paulus verduidelik: “Geloof volg dus op wat gehoor word. En wat gehoor word, is deur die woord oor Christus” (Romeine 10:17). Jy word genooi om een van Jehovah se Getuies te nader en vir ’n gratis Bybelstudie te vra, op ’n tyd en plek wat vir jou geleë is. So ’n studie sal jou geloof versterk (Romeine 1:11, 12; Kolossense 2:6, 7). Wat sal die gevolg wees? Jou geloof sal gou ’n verskansing word wat as ’n skild teen die invloede van bose geeste sal dien.—Psalm 91:4, NW; 1 Johannes 5:5.

Wat was die derde stap wat daardie Christene in Efese moes neem?

Die derde stap

Destyds in Efese het daardie nuwe gelowiges stappe geneem om bose geeste te weerstaan, maar daardie Christene het nog steeds in ’n stad gewoon waar demonisme baie algemeen was. Hulle het verdere beskerming nodig gehad. Toe die apostel Paulus aan medegelowiges geskryf het, het hy derhalwe vir hulle gesê wat hulle moes doen: “Julle [moet] met elke vorm van gebed en smeking aanhou om by elke geleentheid in gees te bid. En bly met dié doel wakker met alle standvastigheid en met smeking ten behoewe van al die heiliges.”—Efesiërs 6:18.

Om opreg en voortdurend te bid vir Jehovah se beskerming was, en is beslis nog steeds, ’n positiewe stap wat nodig is om teen bose geeste beskerm te word. En dit is vertroostend om te weet dat Jehovah jou opregte smekinge sal verhoor deur jou te beskerm, wat die ondersteuning van sy engele insluit (Psalm 34:8; 91:2, 3, 11, 14; 145:19). Dit is dus baie belangrik om in gebed tot God te volhard: “Verlos ons van die bose.”—Matteus 6:13; 1 Johannes 5:18, 19.

Antônio, ’n voormalige geestemedium in Brasilië, het die waarde van gebed geleer. Nadat hy ’n Bybelstudie aanvaar het en God se naam, Jehovah, geleer het, het hy vurig tot Jehovah God vir hulp begin bid om van spiritisme los te breek. Wanneer hy terugkyk, sê hy: “Gebed tot Jehovah is ’n beskerming vir my en baie ander wat in die verlede onder die mag van bose geeste was.”—Spreuke 18:10.

Jy kan suksesvol wees

Nadat jy Jehovah leer ken het, is dit noodsaaklik dat jy hom ten volle vertrou, jou aan sy gesag onderwerp en sy gebooie gehoorsaam. As jy dit doen, sal hy jou beskerm wanneer jy tot hom roep om hulp en sy persoonlike naam gebruik. Antônio het sulke beskerming ontvang. Vandag is hy ’n Christen- ouer man in een van die gemeentes van Jehovah se Getuies in Sao Paulo, en hy is dankbaar dat hy die waarheid gevind het wat hom vrygemaak het.—Johannes 8:32.

Soos Antônio en duisende ander voormalige spiritiste wat Jehovah God nou dien, kan jy ook van spiritisme losbreek. Raak dus ontslae van voorwerpe wat met spiritisme verband hou, versterk jou geloof deur Bybelstudie en bid vir Jehovah se beskerming. Neem hierdie stappe—jou lewe hang daarvan af!

[Lokteks op bladsy 5]

Volgens die Bybel kan die lewendes nie met die dooies kommunikeer nie

[Prent op bladsy 6]

1. Raak ontslae van alle voorwerpe wat met spiritisme verband hou

[Prent op bladsy 7]

2. Gaan voort om die Bybel te bestudeer

[Prent op bladsy 8]

3. Bid opreg en dikwels