Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom soveel belangstelling in spiritisme?

Waarom soveel belangstelling in spiritisme?

Waarom soveel belangstelling in spiritisme?

Spiritisme is al gedefinieer as “die opvatting dat ’n geesdeel van mense ná die dood van die fisiese liggaam voortleef en met die lewendes kan kommunikeer, gewoonlik deur ’n persoon wat as ’n medium optree”.

IN 1998 het ’n boek wat verduidelik hoe ’n mens met die dooies in aanraking kan kom so gewild geword in die Verenigde State dat dit gou boaan die New York Times se lys van trefferboeke verskyn het.

’n Paar jaar gelede het spiritistiese mediums en séances baie gewild geword onder politici en sakemanne in Moskou, wat hoë pryse vir afsprake betaal het.

In Brasilië lok strooisages waarin spiritisme uitgebeeld word baie kykers.

Vir baie mense in Afrika en Asië is die beoefening van spiritisme net so alledaags soos om op die mark oor pryse te knibbel.

Waarom soveel hulle tot spiritisme wend

Baie wend hulle tot spiritisme om ná die dood van ’n geliefde vertroosting te vind. Hulle ontvang dalk deur geestemediums spesiale inligting wat skynbaar van die afgestorwene kom. Gevolglik is hierdie bedroefdes dikwels daarvan oortuig dat hulle afgestorwe dierbares nog lewe en dat dit hulle sal help om hulle verlies te verwerk as hulle met die afgestorwenes in aanraking kom.

Ander word tot spiritisme aangetrek omdat daar vir hulle gesê is dat die geeste hulle sal help om hulle siektes te genees, uit die greep van armoede te kom, suksesvol in romantiese verhoudings te wees, huweliksprobleme op te los of werk te vind. En baie ander raak bloot uit nuuskierigheid by spiritisme betrokke.

Maar nog ’n rede waarom miljoene mense hulle tot spiritisme gewend het, is dat hulle geleer is dat spiritisme, soos een kenner op hierdie gebied dit beskryf het, “’n aanvullende godsdiens” is wat “in harmonie met die Christelike godsdiens” is. Die godsdienssituasie in Brasilië is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Brasilië het die grootste Rooms-Katolieke bevolking ter wêreld, maar soos die skrywer Sol Biderman dit stel, “steek miljoene gelowiges kerse by meer as een altaar aan, en hulle meen [dat daar] hoegenaamd geen teenstrydigheid is nie”. Trouens, die Brasiliaanse weekblad Veja het berig dat 80 persent van diegene wat gereeld spiritistiese sentrums in Brasilië besoek gedoopte Katolieke is wat ook die mis bywoon. Wanneer ’n mens in ag neem dat party geestelikes ook aan spiritistiese samekomste deelneem, kan jy verstaan waarom talle gelowiges dink dat dit vir God aanneemlik is om met geeste in aanraking te kom vir vertroosting en leiding. Maar is dit so?

[Venster/Prente op bladsy 3]

Verskillende vorme van spiritisme

Spiritisme kan insluit dat iemand ’n geestemedium raadpleeg, met die dooies kommunikeer of na voortekens soek. ’n Gewilde vorm van spiritisme is waarsêery—’n poging om met behulp van geeste iets oor die toekoms of die onbekende uit te vind. Party vorme van waarsêery is astrologie, kristalkykery, die uitlegging van drome, handlesery en fortuinvertellery met behulp van tarotkaarte.