Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die waarheid was 50 jaar lank verberg—Waarom?

Die waarheid was 50 jaar lank verberg—Waarom?

Die waarheid was 50 jaar lank verberg—Waarom?

Rum is ’n klein eilandjie van die Binne-Hebride, naby die weskus van Skotland. Sowat 70 jaar gelede het die eienaar van die eiland toestemming gegee dat die plantkundige John Heslop Harrison, ’n universiteitsprofessor en lid van Brittanje se hoogaangeskrewe Royal Society, die plantlewe daarop bestudeer.

Gedurende die daaropvolgende jare het Harrison gesê dat hy talle seldsame spesies daar gevind het, plante wat nog net honderde kilometers verder suid gesien is. Harrison is geesdriftig toegejuig en sy prestasies het al hoe meer tot sy reputasie bygedra. Maar namate sy lys langer geword het, het ander plantkundiges al hoe agterdogtiger geword.

In 1948 het John Raven, ’n Cambridge-dosent in klassieke tale en geesdriftige amateurplantkundige, die uitdaging aangeneem om ondersoek in te stel. Maar sy verslag is nooit gepubliseer nie. Dit is eerder weggesteek, en die inhoud daarvan is eers in 1999 geopenbaar. Waarom? Omdat Raven bewys het dat Harrison bedrog gepleeg het. Die tydskrif New Scientist het berig dat die plante elders gekweek en in die geheim op Rum oorgeplant is.

Raven het ’n natuurlike aanvoeling vir plante in hulle habitat gehad en het gou tussen die wortels van etlike van Harrison se “ontdekkings” onkruid raakgesien wat algemeen in Engeland, maar skaars op Rum was. Ander plante was besmet met ’n muggie wat volgens berigte net op twee plekke in Brittanje gevind is—en een daarvan was Harrison se tuin in Engeland. Verdere bewyse het van die wortels van ’n plant gekom waaraan kwartsdeeltjies vasgesit het—ver van enige natuurlike kwarts op Rum.

Maar dit was nie al nie. Dit was bekend dat Harrison se bewerings oor die eiland se skoenlappers en kewers onwaar was. The Sunday Telegraph Magazine het gesê dat een inwoner van Rum erken het: “Die professor het altyd iets in die mou gehou—’n skoenlapper of ’n plant—sodat hy elke jaar iets kon ontdek.” Waarom is Harrison dan nooit aan die kaak gestel nie?

Die navorser Karl Sabbagh kom tot die slotsom dat die besluit om nie op te tree nie, geneem is as ’n goedhartige gebaar om Harrison se gesin te beskerm, maar die feit dat Harrison ’n magtige man was en dat dit gevaarlik was om hom teë te staan, moet ook in aanmerking geneem word. Sabbagh noem ook dat dit “die hele plantkundewêreld ’n slegte naam sou gee” as hy aan die kaak gestel is.