Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Help diegene met VCS

Help diegene met VCS

Help diegene met VCS

’N SENSITIWITEIT vir alledaagse stowwe, hetsy reukwater of skoonmaakmiddels, skep vir lyers meer as net ’n mediese probleem; dit skep ook vir hulle ’n sosiale probleem. Mense is gesellig van aard, maar veelvuldige chemiese sensitiwiteit (VCS) dwing baie mense wat andersins hartlik en uitgaande is om ’n eensame lewe te lei. “Ek het al in die verlede ander gesondheidsprobleme gehad”, sê Shelly, ’n VCS-lyer, “maar hierdie probleem is die ergste. Die afsondering is die moeilikste.”

Ongelukkig word VCS-lyers soms as eienaardig beskou. Een rede hiervoor is natuurlik dat VCS ’n komplekse verskynsel is wat die wêreld nog nie aanvaar het nie. Maar ’n gebrek aan kennis oor VCS is nie ’n rede om mense wat dit het met agterdog te behandel nie. Die tydskrif American Family Physician sê: “Hierdie pasiënte ly werklik as gevolg van hulle simptome.”

’n Verstandige persoon sal nie mense met VCS met agterdog behandel omdat hulle aan ’n raaiselagtige siekte ly wat nie goed verstaan word nie, maar sal eerder deur die beginsel in Spreuke 18:13 gelei word: “Hy wat antwoord gee voordat hy gehoor het, vir hom sal dit ’n sotheid en ’n skande wees.” Hoeveel beter is dit tog om aan almal wat siek is Christelike liefde sonder partydigheid te betoon! Ons sal nooit spyt wees dat ons sulke liefde betoon het nie, ongeag wat die mediese wetenskap in die toekoms ontdek.

Betoon Christelike liefde

Christelike liefde is soos ’n diamant met pragtige fasette vir elke geleentheid of behoefte. Wanneer ’n vriend VCS het, behoort ons Christelike liefde met empatie te skitter, wat dit vir ons moontlik sal maak om ons in sy of haar plek te stel. Die liefde ‘soek ook nie sy eie belang nie’—of ons kan sê, sy eie regte nie. Dit stel die welsyn van ander eerste. Dit help ons om ‘lankmoedig te wees, om alles te verdra, alles te glo en alles te verduur’. Sulke liefde “faal nooit nie”.—1 Korintiërs 13:4-8.

Mary het nie VCS nie, maar sommige van haar vriende het dit wel. “Ek hou baie van parfuum”, skryf Mary, “maar ek gebruik dit nie wanneer ek my vriende wat VCS het, besoek nie.” Op haar eie manier, in navolging van Jesus, sê Mary in werklikheid: “Ek wil help” (Markus 1:41). Trevor het VCS ontwikkel toe hy ’n baba was. Sy moeder sê: “Mense met wie ek gewerk het, het uit hulle pad uit gegaan om my seun in ag te neem.” Joy, een van Jehovah se Getuies wat in Australië woon en baie ly weens VCS, sê dat vriende en familielede wat haar gereeld besoek en wys dat hulle haar probleme verstaan haar aanmoedig.

Aan die ander kant moet mense met VCS geduldig probeer wees met diegene wat wel parfuum in hulle teenwoordigheid aanhet. Ernest, wat in die vorige artikel aangehaal is, het vir Ontwaak! gesê: “Ons siekte is óns probleem. Ander mense het hulle eie probleme, daarom waardeer ons dit wanneer hulle ons met ons s’n help.” Ja, dit is altyd die beste beleid om mense beleef te vra om hulle samewerking te gee en hulle nie te dwing om dit te doen nie. “Wanneer iemand wat parfuum of reukwater gebruik my vra waarom ek siek lyk”, vertel Lorraine, “sê ek vir hom of haar: ‘Ek het ’n probleem met parfuum, en dit lyk my dit is vanaand erger.’ Vir bedagsame mense is dit dikwels voldoende.” As jy VCS het, beteken dit natuurlik nie dat jy jou vriende nie op ’n mooi manier daaraan kan herinner dat jy hulle hulp nodig het nie.

Pam wat vroeër aangehaal is, skryf op ’n positiewe noot: “Alles wat ons nou verduur, is slegs tydelik.” Waarom het Pam “slegs tydelik” gesê? Omdat sy die Bybelse hoop het dat God se Koninkryk die aarde binnekort van alle lyding sal bevry. Dit sal selfs die dood wegneem—iets waarvoor selfs die gesondste persoon uiteindelik te staan kom.—Daniël 2:44; Openbaring 21:3, 4.

Intussen kan almal wat ’n siekte moet verduur waarvoor daar nie tans ’n genesing is nie, uitsien na die tyd onder God se Koninkryk wanneer ‘niemand sal sê: Ek is siek nie’ (Jesaja 33:24). Laat ons almal soos Jesus probeer wees en ons aandag gevestig hou op die beloning wat vir ons voorgehou word, terwyl ons alle beproewinge verduur wat in hierdie huidige stelsel van dinge oor ons kom.—Hebreërs 12:2; Jakobus 1:2-4.

[Venster/Prent op bladsy 9]

Betoon liefde aan mekaar

Die volgende Bybelbeginsels kan jou help as ’n vriend of ’n familielid veelvuldige chemiese sensitiwiteit (VCS) het of as jy dit self het:

“Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”Matteus 7:12.

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”Matteus 22:39.

“Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Ons almal het geestelike aanmoediging nodig, veral wanneer ons siek is. Dit is prysenswaardig dat baie Christene met VCS die moeite doen om gemeentelike vergaderinge by te woon; ander wat meer ly, woon die vergaderinge deur middel van ’n telefoonverbinding by. In ander gevalle is reukvrye areas in die Koninkryksaal vir mense met VCS opsy gesit. Maar dit is nie altyd moontlik of prakties nie.

‘Moet nie vergeet om goed te doen nie, want sulke offerandes is vir God welbehaaglik’ (Hebreërs 13:16). Let op dat dit dikwels persoonlike opofferings verg om goed te doen. Is jy bereid om opofferings te maak om iemand met VCS te help? Daarenteen moet mense met VCS ­redelik wees wat hulle verwagtinge van ander betref. Christen- ouer manne kan byvoorbeeld nie reëls maak oor die gebruik van parfuums en reukwater nie, en hulle sal ook nie altyd aankondigings daaroor kan maak nie. Daarbenewens kom nuwe belangstellendes en besoekers wat reukweermiddels en parfuums gebruik na gemeentelike vergaderinge—en ons verwelkom hulle. Ons sal hulle beslis nie in die verleentheid wil stel of hulle ongemaklik laat voel omdat hulle reukweermiddels of parfuum gebruik nie.

‘Soek vrede en streef dit na’ (1 Petrus 3:11). Gesondheidskwessies moet Christene natuurlik nie van hulle vrede beroof nie. “Die wysheid van bo is . . . vredeliewend, redelik, . . . vol barmhartigheid”, sê Jakobus 3:17. Vredeliewende mense, hetsy hulle VCS het of nie, sal nie onredelik of veeleisend wees in verband met die gebruik of vermyding van chemiese produkte nie. So ook sal redelike mense wat “vol barmhartigheid” is nie op hulle reg aandring om parfuum te gebruik as hulle besef dat dit die gesondheid van iemand anders sal aantas nie. Op hierdie manier toon hulle dat hulle ook “vreedsame toestande” nastreef en “vrede maak”.—Jakobus 3:18.

Aan die ander kant is ’n onbuigsame, onredelike gesindheid, hetsy dit deur die VCS-lyer of ’n ander persoon geopenbaar word, soos ’n wig wat mense uitmekaar uit dryf. So ’n gesindheid bevoordeel niemand nie en kan selfs ’n mens se verhouding met God benadeel.—1 Johannes 4:20.

Christene het natuurlik ’n groot hulp—Jehovah se gees. Wanneer hulle Jehovah gereeld vir sy gees vra, kweek hulle die wonderlike vrugte daarvan aan, veral liefde—“’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Terselfdertyd laat hulle geduldig toe dat daardie gees Christelike eienskappe in ander kweek.—Galasiërs 5:22, 23.

[Prent op bladsy 10]

Mense met VCS het vriende net so nodig soos ander mense