Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moet ’n mens uiting gee aan droefheid?

Moet ’n mens uiting gee aan droefheid?

Moet ’n mens uiting gee aan droefheid?

IN HAAR boek On Children and Death, sê dr. Elisabeth Kübler-Ross: “Baie, baie volwassenes kry swaar omdat hulle nooit smart uit hulle kinderjare verwerk het nie. Kinders moet dus toegelaat word om te treur sonder om ’n tjankbalie of ’n sissie genoem te word, of om die belaglike woorde ‘Groot seuns huil nie’ te hoor.”

Hierdie benadering is in stryd met die filosofie in party lande wat vereis dat ’n mens geen emosie moet toon nie.

’n Begrafnisondernemer se waarnemings

Hierdie teenstelling word toegelig deur die woorde van Robert Gallagher, ’n begrafnisondernemer van New York met wie Ontwaak! ’n onderhoud gevoer het. Hy is gevra of hy enige verskil opgemerk het in die manier waarop mense wat in Amerika gebore is en immigrante uit Latynse lande aan droefheid uiting gee.

“Baie beslis. Toe ek destyds in die 1950’s met hierdie beroep begin het, het ons baie gesinne in ons buurt gehad wat uit Italië geïmmigreer het. Hulle was baie emosioneel. Nou kry ons by begrafnisse met hulle kinders en kleinkinders te doen, en baie van die emosie is nie meer daar nie. Hulle gee nie meer soveel uiting aan hulle emosies nie.”

In Bybeltye het Hebreërs uiting gegee aan hulle droefheid en emosies. Kyk hoe beskryf die Bybel Jakob se reaksie toe hy onder die indruk gebring is dat sy seun Josef deur ’n wilde dier opgeëet is: “Toe skeur Jakob sy klere en trek ’n roukleed om sy heupe, en hy het oor sy seun gerou, baie dae lank. En al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: Nee, treurende sal ek na my seun in die doderyk afdaal! So het sy vader hom dan beween.” (Genesis 37:34, 35; ons kursiveer.) Ja, Jakob was nie skaam om oor sy afgestorwe seun te huil nie.

Verskillende kulture, verskillende reaksies

Kulture verskil natuurlik. Hoewel gesinne in groot dele van Nigerië baie kinders het en die dood iets algemeens is weens verskeie siektes, “is daar ’n uitstorting van droefheid wanneer ’n kind sterf, veral as dit die eerste kind is en nog meer wanneer dit ’n seun is”, het ’n skrywer met 20 jaar se ondervinding in Afrika, gesê. “Die verskil is dat droefheid in Nigerië kort en intens is. Dit hou nie maande en jare lank aan nie.”

In Mediterreense of Latyns-Amerikaanse lande word mense in ’n omgewing groot waar spontane reaksies as normaal beskou word. Daar gee hulle in die openbaar uiting aan vreugde en droefheid. ’n Groet is nie net ’n handdruk nie; dit sluit ’n hartlike omhelsing in. Net so word daar gewoonlik openlik aan droefheid uiting gegee deur trane en weeklagte.

Die skryfster Katherine Fair Donnelly sê dat ’n bedroefde vader “nie net die sielkundige slag van die verlies van sy kind moet verduur nie, maar ook die vrees dat hy sy manlike identiteit sal verloor as hy in die openbaar uiting gee aan sy smart”. Maar, sê sy, “die verlies van ’n mens se kind ignoreer die grense van aanvaarbare en onaanvaarbare emosionele gedrag. Die eerlike innerlike emosie wanneer die siel met die trane van droefheid gereinig word, is soos om ’n wond oop te sny om die infeksie te laat dreineer.”

Wat droefheid betref, is dit dus in party lande algemener om daaraan uiting te gee as in ander. Maar dit moet glad nie as ’n teken van swakheid beskou word as ’n mens bedroef is en huil nie. Selfs Jesus Christus “het trane begin stort” oor die dood van sy vriend Lasarus, al het Jesus geweet dat hy hom kort daarna sou opwek.—Johannes 11:35.

[Lokteks op bladsy 14]

Jakob was nie skaam om oor sy afgestorwe seun te huil nie