Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Patmos—die eiland van die Apokalips

Patmos—die eiland van die Apokalips

Patmos—die eiland van die Apokalips

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN GRIEKELAND

VAN tyd tot tyd kyk die mense van Patmos oor die Egeïese See na ’n lig wat oor die hange van ’n berg op die nabygeleë eiland Samos flikker. Party sê dat die geheimsinnige lig statiese elektrisiteit is, maar godsdienstige inwoners van Patmos dring daarop aan dat hulle van beter weet. Hulle hardloop om vir hulle bure te vertel dat hulle nog ’n teken ontvang het van die eiland se bekendste voormalige inwoner, wat byna 1 900 jaar gelede na hierdie klein Griekse eiland naby die kus van Klein-Asië verban is.

Daardie bekende persoon is waarskynlik deur die Romeinse keiser Domitianus na Patmos verban “omdat [hy] oor God gepraat en van Jesus getuig het”. Daar het hy God se stem, “soos dié van ’n trompet”, gehoor wat gesê het: “Ek is die Alfa en die Omega . . . Skryf wat jy sien in ’n boekrol.”—Openbaring 1:8-11.

Die boekrol, of boek, is die slot van die grootste suksesboek van alle tye. Party het dit al beskryf as een van die onverstaanbaarste werke wat nog geskryf is—die Bybelboek met die naam Openbaring, of Apokalips, die laaste boek van die Bybel. Die skrywer was Johannes, Jesus se apostel. Lesers stel al eeue lank belang in die visioene wat Johannes ontvang het oor die finale vernietiging van die goddelose wêreld. *

Patmos vandag

Baie besoekers sal saamstem dat Patmos—die noordelikste van die Dodekanesos-eilande—die ideale agtergrond vir hierdie boek is. Hoë vulkaniese berge en diep, donker klowe grens aan groen terrasheuwels en blombedekte weivelde wat onder die skroeiende Egeïese son bak.

Om te sien hoe Patmos vandag lyk, het ek van Piraeus af, Griekeland se vernaamste hawe, gevaar. Ná middernag, terwyl die veerboot in die fjordvormige hawe Skála invaar—Patmos se hawe en grootste dorp—het die wolke oopgetrek en kon die eiland in die lig van ’n volmaan gesien word.

Die volgende oggend, terwyl ek bitter Griekse koffie gedrink het, het ek voorberei om die eiland te begin verken. In die vroeë oggendlig het ek oumas gesien wat van kop tot tone in swart geklee was en by skarrelende kindertjies probeer bybly het. ’n Visserman met ’n snor wat daar naby sit, slaan sy middagete—’n seekat wat hy so pas uit die water getrek het—teen die sementkaai om dit sag te maak.

Ek gaan egter nie aan boord nie, maar besluit om die berghang agter Skála te klim om ’n uitsig oor die hele eiland te kry. Die uitsig was merkwaardig. Die eiland het uitgesprei gelê soos ’n groot reliëfkaart wat in die see dryf. Patmos is soos drie eilandjies in een—landhoofde wat deur lae landengtes verbind word. Een van hierdie nou stroke land is by Skála geleë. Die ander is naby die onbewoonde suidelike punt van die eiland geleë, by Diakofti, wat ’n gepaste naam is, want dit beteken “gekloof”. Patmos is beswaarlik 13 kilometer lank en, by een punt, net ’n klipgooi in breedte.

Deur stormagtige tye

Patmos is as heilig beskou amper sedert die tyd toe die eerste nedersetters ongeveer 4 000 jaar gelede van Klein-Asië af daar aangekom het. Daardie vroeë inwoners het die tweede hoogste punt op die eiland as die plek gekies om hulle tempel vir Artemis, die godin van die jag, te bou.

Ongeveer 96 G.J., toe die apostel Johannes blykbaar na Patmos verban is, was dit onder beheer van die keiserlike Romeinse Ryk. In die vierde eeu het die eiland ’n deel geword van die “verchristelike” Bisantynse Ryk. Daarna, tussen die sewende en tiende eeu, is dit deur Islam oorheers.

Mettertyd het Patmos verlate en dor geword. Laat in die 11de eeu het ’n Grieks-Ortodokse monnik toe die versterkte klooster van “sint” Johannes begin bou op die plek waar die heidense tempel van Artemis gestaan het. Nedersetters het geleidelik teruggekeer en talle wit kubusvormige huise by Hora gebou, die dorpie wat nog steeds teen die klooster se beskermende mure lê.

Die eiland het ’n ruk lank gedurende die laat 1800’s ’n glorietydperk beleef, toe party van sy burgers een van die rykste handelsvlote in die Middellandse See besit het. Daardie vloot was indirek vir ’n nuwe instroming verantwoordelik. In die 1970’s het verskeie van die wêreld se rykes die prag en goedkoop vaste eiendom van daardie amper vergete eiland ontdek. Hulle het baie van die seehandelaars se ou herehuise opgeknap, en dít tesame met nuwe hawefasiliteite het gehelp om Patmos ’n toeristeaantreklikheid te maak.

Patmos het tot dusver die toeristestormloop vrygespring wat ander Griekse eilande byna verwoes het. Dit is hoofsaaklik omdat daar nie ’n lughawe is nie en omdat die monnike daarop aandring dat dit ’n heilige gebied bly.

Mengsel van geskiedenis en tradisie

My kelner het my gehelp om my ekspedisie van die eiland te beplan deur my na die 400 jaar oue keisteenstraat agter die dorpie Skála te stuur, wat oploop deur ’n geurige dennewoud na wat vermoedelik Johannes se grot is, asook na die klooster van “sint” Johannes. In die buitewyke van die dorp het ek onheilspellende graffiti in vars rooi verf op ’n klipmuur gesien: “Ohi sto 666” (Wees op die uitkyk na 666), een van die simbole van Openbaring wat dikwels verkeerd verstaan word.

Die Klooster van die Apokalips, wat die klein kapel van “sint” Anne bevat, is in 1090 gebou om die ingang van die grot te omsluit waar Johannes volgens tradisie sy visioene ontvang het. Ek het gekyk hoe ’n vrou kniel en ’n tama (offer) aan die ikon van “sint” Johannes heg. Die Ortodokse gelowiges, wat glo dat die ikon wonderwerke kan doen, offer tamata daar—klein metaal afbeeldings van mense, liggaamsdele, huise en selfs motors en bote. Ek onthou dat ek gesien het hoe soortgelyke kleioffers naby Korinte in die tempel van die eertydse Griekse god-geneesheer Asklepios gemaak is. Was dit blote toeval?

Kulturele relieke en manuskripte

Toe ek in die voorhof van die klooster van “sint” Johannes ingaan, het ’n vriendelike figuur uit die donker doolhof van gange verskyn. “Papa Nikos” (vader Nico) het met trots vir my en verskeie ander toeriste die klooster se skatte gewys. Die klooster, wat ’n groot deel van Patmos besit, is een van die rykste en invloedrykste in Griekeland.

Ons het deur ’n koel kapel geloop waarvan die mure al swart van die kersrook was en waar die oorskot van die klooster se stigter lê en daarna deur die Kapel van die Maagd, wat deels van die klippe van die tempel van Artemis gebou is. In die museum het ons genoeg goud en juwele vir ’n koning se skathuis gesien wat deur die tsaars geskenk is; asook die monnike se 11de-eeuse titelbewys van die eiland, geteken deur die Bisantynse keiser Alexius I Comnenus, en ’n pragtige 6de-eeuse fragment van die Evangelie van Markus, wat op pers perkament met silwer in plaas van ink geskryf is. Benewens hierdie fragment het die klooster ook ’n groot versameling Bybel- en teologiese manuskripte.

Besienswaardighede op die eiland

Die eiland bied ook natuurlike skoonheid. ’n Paar kilometers suid van Skála is ’n ongerepte strand wat met ’n boog al langs ’n beskutte inham loop. Die strand is gelyk en oop, met die uitsondering van Kalikatsou, wat “kormorant” beteken, ’n rots in die middel van die strand, wat vyf of ses verdiepings hoog en vol grotte is, wat dit soos ’n enorme Switserse kaas laat lyk.

Die beste manier om Patmos te geniet, is om eenvoudig oral rond te loop. Jy sal dalk in die warm son tussen die ongeskonde ruïnes van die antieke akropolis by Kastelli wil sit en na die skaapklokke en die herder se skerp gefluit in die verte wil luister. Of jy kan een middag, wanneer die Egeïese See sy dynserige mis oor die hemel uitsprei, die strande dophou waar bote wat in die verdampende mis uitvaar, lyk asof hulle in die hemel opklim.

Op my laaste dag daar het ’n pragtige rooi sonsondergang die dorpie ver onder my groter laat lyk as wat dit eintlik is. In die baai het lampvissermanne klein motorlose bote gereedgemaak wat gri-gri, eendjies, genoem word omdat hulle in ’n ry agter ’n moederskip getrek word.

Dit het gelyk of die hele eiland gloei. ’n Koue wind en hoë golwe het die gri-gri gevaarlik rondgegooi. ’n Paar uur later het ek weer die bote gesien, van die dek van die veerboot af op pad terug na Piraeus omtrent ’n kilometer van die kus af toe dit vinnig verby hulle visgrond gevaar het. Die mans het die verblindende helder ligte aangesit wat hulle gebruik om die vis te lok. Daardie aand het die beeld van ’n verbanne Johannes wat sy visioene op Patmos opteken in my verstand gebly totdat hulle en die eiland agter hulle verdwyn het.

[Voetnoot]

^ par. 5 Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir ’n breedvoerige verduideliking.

[Prent op bladsy 27]

Die klooster van “sint” Johannes

[Foto-erkenning op bladsy 26]

© Miranda 2000