Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Veelvuldige chemiese sensitiwiteit—’n raaiselagtige siekte

Veelvuldige chemiese sensitiwiteit—’n raaiselagtige siekte

Veelvuldige chemiese sensitiwiteit—’n raaiselagtige siekte

Pam se huis was in ’n woongebied wat deur katoenlande omring is. Vliegtuie het die lande gereeld met onkruid- en plaagdoders besproei; en die wind het dikwels van hierdie chemiese stowwe na nabygeleë huise gewaai, onder andere Pam se huis.

PAM het kwaai hoofpyn begin kry en baie naar begin word en haar gesondheid het agteruitgegaan. Mettertyd het stowwe wat skynbaar niks met plaagdoders te doen gehad het nie haar aangetas: parfuums, reukweermiddels, lyfroom, skoonmaakmiddels, verf, nuwe matte, tabakrook, lugverfrissers en ander stowwe. Pam het van die simptome ondervind wat gewoonlik aan ’n raaiselagtige siekte toegeskryf word wat veelvuldige chemiese sensitiwiteit (VCS) genoem word. *

“Wanneer ek aan alledaagse chemiese stowwe blootgestel word, begin ek baie moeg, gedisoriënteerd, duiselig en naar voel”, het Pam aan Ontwaak! verduidelik. “My liggaam swel op, en soms word ek kortasem, kry ek paniekaanvalle wat gepaardgaan met onbeheerste huilery, hartkloppings, ’n verhoogde polsslag en die opbou van vloeistof in my longe. Dit het selfs al tot longontsteking gelei.”

Hoewel die simptome van persoon tot persoon verskil, kan die simptome by VCS die volgende insluit: hoofpyn, uiterste moegheid, spierpyn, gewrigspyn, ekseem, veluitslae, griepagtige simptome, asma, sinusprobleme, beangstheid, depressie, vergeetagtigheid, konsentrasieprobleme, slaaploosheid, onreëlmatige hartklop, swelling, naarheid, vomering, ingewandsprobleme en stuipe. Baie van hierdie simptome kan natuurlik ook deur ander siektes veroorsaak word.

VCS’n groeiende probleem

Opnames onder verskillende groepe van die bevolking in die Verenigde State toon dat tussen 15 en 37 persent van die bevolking dink dat hulle baie sensitief of allergies is vir alledaagse chemiese stowwe en chemiese reuke, soos motoruitlaatgas, tabakrook, vars verf, nuwe matte en parfuums. Maar hoogstens 5 persent, afhangende van die ouderdomsgroep wat ondervra is, het gesê dat VCS gediagnoseer is. Ongeveer driekwart van hulle was vroue.

Baie VCS-lyers sê dat plaagdoders en oplosmiddels hulle toestand veroorsaak. Albei produkte kom algemeen in die omgewing voor, veral oplosmiddels. Oplosmiddels is vlugtige stowwe (dit verdamp vinnig) wat ander stowwe opbreek of oplos. Dit kom voor in verf, vernis, kleefstof, plaagdoders en skoonmaakmiddels.

In die volgende artikels sal ons VCS van naderby ondersoek, bespreek watter hulp beskikbaar is vir mense wat aan hierdie toestand ly en sien hoe lyers en diegene wat nie daaraan ly nie, kan saamwerk om die lewe vir VCS-lyers aangenamer te maak.

[Voetnoot]

^ par. 3 Ons gebruik die uitdrukking “veelvuldige chemiese sensitiwiteit” omdat dit so algemeen gebruik word. Daar is egter baie ander uitdrukkings, soos “omgewingsiekte” en “chemiese hipersensitiwiteitsindroom”. “Sensitiwiteit” beteken hier dat ’n mens deur hoeveelhede chemiese stowwe aangetas word wat die meeste mense blykbaar nie aantas nie.