Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vlieënde wesens in die dieptes

Vlieënde wesens in die dieptes

Vlieënde wesens in die dieptes

HULLE sweef sierlik in kuswaters en om eilande van die see. Hulle word in die dieptes van die oseaan aangetref, hetsy dit koud of warm is, en selfs in party mere en riviere. Wat is hulle? Hulle is lede van die rogfamilie, bewoners van die waterdieptes wat lyk asof hulle vlieg!

Jy hoef nie ’n diepseeduiker of ’n visserman te wees om die vlieënde skoonheid van die rog te geniet nie, en jy hoef nie eers in die water te wees nie. Soos Bart, ’n marinebioloog, sê, kan mense op die strand dikwels sien hoe gevleuelde rôe uit die water spring.

Daar is ’n paar honderd rogsoorte, wat in grootte wissel van ’n paar sentimeter tot etlike meters. Jy kan die ooreenkoms tussen hulle en hulle familielid die haai sien. Rogeiers, anders as dié van die meeste ander visse, word binne-in die wyfie se liggaam bevrug. Party lede van die rogfamilie lê die bevrugte eiers, terwyl ander rôe se eiers binne-in die wyfie uitbroei en die kleintjies lewend gebore word—miniature van hulle ouers.

Onder die bekendstes is die pylsterte, met ’n kraakbeenskelet en ’n vin aan elke kant wat van die kop strek tot waar die stert begin. Pylsterte kan diamantvormig of rond wees, of hulle lyk soms soos ’n vlieër met ’n stert. Hulle afgeplatte liggame bied baie min weerstand in die water. Golfbewegings van hulle vinne gee hulle die vermoë om deur die see te sweef asof hulle sonder enige moeite vlieg. Wanneer hulle nie swem nie, lê pylsterte op die sanderige bodem versteek.

Pylsterte se oë is bo-op hulle kop, terwyl hulle mond aan die onderkant is. Hulle het harde tande en ’n sterk kaak, wat hulle in staat stel om skulpe te breek. Daarom is hulle nie juis welkom naby ’n oesterbed nie, want skulpvisse is hulle geliefkoosde kos. Mense kan pylsterte eet, en hulle word soms as ’n plaasvervanger vir kammossels in resepte gebruik.

Hulle onderskeidende naam pylsterte kom van die giftige stekels bo-op hulle lang stert. Die stert kan ’n pynlike, giftige wond veroorsaak as daar op die pylstert getrap word, as hy verkeerd hanteer word of deur vyande bedreig word. Die stekels breek dikwels diep in die wond af, wat dit moeilik maak om hulle te verwyder, en hulle kan ernstige ontsteking veroorsaak as die wond nie reg behandel word nie. As jy ooit deur ’n pylstert gesteek word, moet jy die steekplek goed met water was—met seewater as dit moet. Week die wond so gou moontlik in warm water, so warm as wat jy dit kan verduur. Warm water vernietig die gif en verlig die pyn. Gaan dan onmiddellik dokter toe.

Hoewel hulle stekelrige sterte nogal skrikwekkend lyk, is pylsterte oor die algemeen nie aggressief nie en gebruik hulle hulle sterte eintlik net wanneer hulle bedreig word. Bart, wat aan die begin van die artikel genoem is, het gevind dat pylsterte nogal vriendelik is toe hy en sy vrou in die Kaaimanseilande saam met hulle geswem het by ’n plek waar vriendelike pylsterte gewoonlik kom eet. Hy vertel: “Ons het op die bodem gekniel, in omtrent 15 voet [5 m] water. Toe ons die pylsterte begin voer het, het hulle op ons toegesak! Daar was seker 30 of 40 pylsterte van alle groottes om ons groepie. Die pylsterte het na kos gesoek en by ons knieë begin en voor en agter teen ons opbeweeg en bo-oor ons koppe gegaan terwyl hulle stadig verby ons geswem en ons liggies gestamp het om selfs die kleinste stukkie kos te kry. Dit was ongelooflik hoe mak hierdie pragtige visse was. Hulle het ons selfs toegelaat om hulle mae te vryf wanneer hulle bo-oor ons geswem het.” Bart het gesê dat hierdie pylsterte so mak geword het dat daar nog nooit iemand aangeval is in al die jare dat mense daar saam met hulle swem nie.

Dié van ons wat nie ervare duikers is nie, kan die rôe in vlakker water of in akwariums in baie wêrelddele te sien kry. Baie akwariums het tenks waar ’n mens aan die pylsterte kan raak, maar hulle stekels is veiligheidshalwe verwyder. Ron Hardy, die eienaar van Gulf World, in Panama City, Florida, sê: “Een van die beste voorbeelde van hoe doeltreffend dit kan wees om lewende diere ten toon te stel, is ons tenk waar mense die pylsterte kan aanraak. Mense het blykbaar ’n vrees vir pylsterte—amper ’n fobie—maar jy moet sien hoe hulle mening verander wanneer hulle uit ons vertelling die feite leer! Nadat hulle een aangeraak het, begin hulle die grasie en skoonheid van die pylstert bewonder. Om die waarheid te sê, party loop die dolfynvertoning mis, wat net daarna volg, net sodat hulle nog by die pylsterte kan bly.”

Noudat jy iets van die rôe geleer het, is jy moontlik ook nie meer so bang vir hulle nie. Maar onthou dat hulle hulle dikwels op die sanderige bodem in vlak, warm water versteek. Wanneer jy dus op sulke plekke in die water loop, moet jy jou voete sleep pleks van dit op te lig. Sodoende sal jy die pylsterte waarsku dat jy op pad is en nie op ’n rog trap en moontlik gesteek word deur hierdie pragtige vlieënde wese van die dieptes nie.

[Prent op bladsy 16]

Pylstert

[Prent op bladsy 16]

Mense is bang vir pylsterte, maar hulle gesindheid verander wanneer hulle die feite oor hulle leer

[Prent op bladsy 17]

Mantarog

[Erkenning]

© Francois Gohier/ Photo Researchers