Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer chemiese stowwe jou siek maak

Wanneer chemiese stowwe jou siek maak

Wanneer chemiese stowwe jou siek maak

BAIE aspekte van veelvuldige chemiese sensitiwiteit (VCS) is verwarrend. Dit is te verstane dat daar in die mediese gemeenskap aansienlike meningsverskille oor die aard van die toestand is. Party dokters meen dat VCS ’n fisiese oorsaak het, ander dink dat dit ’n sielkundige oorsaak het, en daar is dié wat dit aan fisiese sowel as sielkundige faktore toeskryf. Party dokters sê dat VCS selfs ’n klas van verskeie siektes kan verteenwoordig. *

Baie pasiënte met VCS sê dat hulle toestand aanvanklik veroorsaak is toe hulle aan ’n groot hoeveelheid gifstof soos ’n plaagdoder blootgestel is; ander skryf dit toe aan herhaalde of langdurige blootstelling aan laer vlakke van gifstowwe. Wanneer mense eers VCS het, kry hulle verskeie simptome weens ’n verskeidenheid skynbaar onverwante chemiese stowwe wat hulle nie voorheen aangetas het nie, soos parfuums en skoonmaakmiddels. Daarom word dit “veelvuldige chemiese sensitiwiteit” genoem. Neem byvoorbeeld die geval van Joyce.

Joyce het kopluise gekry terwyl sy op skool was. Haar kop is toe met ’n plaagdoder gespuit. Joyce se gesondheid het agteruitgegaan, en sy het sensitief geword vir baie chemiese stowwe wat haar nie voorheen aangetas het nie. Dit sluit huishoudelike skoonmaakmiddels, lugverfrissers, parfuums, sjampoes en petrol in. “My oë swel toe”, sê Joyce, “en ek kry sinusinfeksie, wat sulke kwaai hoofpyne veroorsaak en my so naar maak dat ek dae lank siek is. . . . Ek het al soveel keer longontsteking gehad dat my longe net so erg beskadig is soos dié van iemand wat 40 jaar lank gerook het—en ek het nog nooit gerook nie!”

Langdurige blootstelling aan laer vlakke van gifstowwe, wat ook vermoedelik ’n faktor by VCS is, kan buitenshuis of binnenshuis plaasvind. Trouens, die skerp toename van siektes in onlangse dekades weens binnenshuise lugbesoedeling het daartoe gelei dat die woord “siekgebousindroom” geskep is.

Siekgebousindroom

Siekgebousindroom het in die 1970’s ontstaan toe talle huise, skole en kantore wat van natuurlike ventilasie gebruik gemaak het, deur lugdigte geboue met lugversorging vervang is om energie te bespaar. Isolering, behandelde hout, vlugtige hegmiddels en sintetiese materiaal en matte is dikwels in hierdie geboue en hulle meublement gebruik.

Veral wanneer dit nog nuut is, stel baie van hierdie produkte lae vlakke van potensieel gevaarlike chemiese stowwe, soos formaldehied, in die lug vry wat gehersirkuleer word. Matte dra tot die probleem by deur verskeie skoonmaakmiddels en oplosmiddels te absorbeer en hulle dan oor ’n lang tydperk vry te stel. “Dampe van verskillende oplosmiddels is die algemeenste binnenshuise lugbesoedelstowwe”, sê die boek Chemical Exposures—Low Levels and High Stakes. Verder is “oplosmiddels onder die chemiese stowwe wat pasiënte wat sensitief vir chemiese stowwe is die meeste vir hulle toestand blameer”, sê die boek.

Hoewel die meeste mense blykbaar nie deur die omgewing in sulke geboue aangetas word nie, ontwikkel party simptome wat wissel van asma en ander asemhalingskanaalprobleme tot hoofpyn en lusteloosheid. Hierdie simptome verdwyn gewoonlik wanneer die aangetaste persoon daardie omgewing verlaat. Maar in sommige gevalle “kan pasiënte veelvuldige chemiese sensitiwiteit ontwikkel”, sê die Britse mediese tydskrif The Lancet. Waarom word party egter siek van chemiese stowwe en ander nie? Dit is ’n belangrike vraag, want party wat blykbaar nie daardeur aangetas word nie, vind dit dalk moeilik om begrip te hê vir diegene wat siek word.

Ons is almal verskillend

Dit is goed om te onthou dat ons almal verskillend reageer op verskillende agense, hetsy dit chemiese stowwe, kieme of virusse is. Van die dinge wat reaksies beïnvloed, is ons genetiese samestelling, ouderdom, geslag, gesondheid, medikasie wat ons gebruik, siektes waaraan ons reeds ly en sekere aspekte van ons lewenswyse, soos die gebruik van alkohol, tabak en dwelms.

Met geneesmiddels bepaal jou uniekheid byvoorbeeld “of ’n geneesmiddel sal werk en watter newe-effekte dit sal hê”, sê die tydskrif New Scientist. Party van hierdie newe-effekte kan ernstig wees en selfs tot die dood lei. Gewoonlik verwyder proteïene wat ensieme genoem word vreemde chemiese stowwe uit ons liggaam, soos die chemiese stowwe in geneesmiddels en die besoedelstowwe wat ons in ons daaglikse aktiwiteite absorbeer. Maar as hierdie ensieme wat “huishou” nie reg werk nie, miskien as gevolg van oorerflikheid, vroeëre skade deur gifstowwe of ’n swak dieet, kan vreemde chemiese stowwe tot gevaarlike vlakke opbou. *

VCS is al met ’n groep ensiemverwante bloedsiektes vergelyk wat porfirie genoem word. Die manier waarop mense met sekere tipes porfirie op chemiese stowwe reageer, wat wissel van motoruitlaatgasse tot parfuum, is soortgelyk aan die manier waarop mense met VCS reageer.

Die verstand word ook aangetas

Een VCS-lyer het vir Ontwaak! gesê dat sekere alledaagse chemiese stowwe haar bedwelmd laat voel. Sy het gesê: “Ek het persoonlikheidsveranderinge ondervind—ek het kwaad, ontsteld, geïrriteerd, angstig, lusteloos geword. . . . Hierdie simptome kan ’n paar uur tot etlike dae voortduur.” Agterna voel haar kop dik en ly sy aan verskillende grade van depressie.

Hierdie simptome is nie ongewoon vir mense met VCS nie. Dr. Claudia Miller sê “meer as twaalf lande het sielkundige probleme gerapporteer ná goed bevestigde gevalle van chemiese blootstelling, hetsy dit blootstelling aan insekdoders of siekgebou[sindroom] was. . . . Ons weet dat werkers wat aan oplosmiddels blootgestel word ’n groter risiko loop om paniekaanvalle en depressie te kry. . . . Ons moet dus baie versigtig wees en onthou dat die brein, van al die organe in die liggaam, moontlik die sensitiefste vir blootstelling aan chemiese stowwe is.”

Hoewel blootstelling aan chemiese stowwe sielkundige probleme kan veroorsaak, glo baie dokters dat die teenoorgestelde ook waar is—sielkundige probleme kan tot die ontwikkeling van chemiese sensitiwiteit bydra. Dr. Miller, wat hierbo genoem is, en dr. Nicholas Ashford, wat albei vas glo in die fisiese oorsake van VCS, erken dat “psigososiale gebeure, soos die dood van ’n huweliksmaat of egskeiding, die werking van die immuunstelsel kan onderdruk en sommige mense sensitiewer kan maak vir lae vlakke van chemiese stowwe. Die verband tussen sielkundige en fisiologiese stelsels is beslis kompleks.” Dr. Sherry Rogers, wat ook in die fisiese oorsake van VCS glo, sê dat “spanning ’n mens sensitiewer vir chemiese stowwe maak”.

Is daar enigiets wat VCS-lyers kan doen om hulle gesondheid te verbeter of ten minste hulle simptome te verlig?

Hulp vir diegene met VCS

Hoewel daar geen bekende genesing vir VCS is nie, is baie lyers in staat om hulle simptome te verlig, en ander kan ’n redelik normale lewe hervat. Wat het hulle gehelp om hulle situasie die hoof te bied? Sommige sê dat hulle gehelp is deurdat hulle hulle dokter se aanbeveling gevolg het om chemiese stowwe wat tot hulle simptome aanleiding gee so ver as moontlik te vermy. * Judy, ’n VCS-lyer, vind dat vermyding goed vir haar werk. Terwyl Judy van die Epstein-Barr-virus herstel het, is sy aan te veel plaagdoder blootgestel wat in haar huis gebruik is en het sy as gevolg daarvan VCS ontwikkel.

Soos baie met VCS word Judy deur ’n wye reeks huishoudelike chemiese stowwe aangetas. Daarom doen sy al haar skoonmaakwerk en wasgoed met suiwer seep en koeksoda. Sy vind dat asyn die beste werk as ’n wasgoedversagmiddel. Alles in haar klerekas en slaapkamer is van natuurlike stowwe gemaak. Haar man sit nie sy klere wat droogskoongemaak is in hulle klerekas voordat dit nie weke lank in ’n goed verlugte plek gehang het nie.

Natuurlik sal dit in vandag se wêreld dalk nie vir VCS-lyers moontlik wees om alle kontak met chemiese stowwe te vermy waarvoor hulle sensitief is nie. American Family Physician sê: “Die groot probleem met VCS is dat die pasiënte hulle dikwels afsonder en onttrek om blootstelling aan chemiese stowwe te probeer vermy.” Die artikel stel voor dat pasiënte onder mediese toesig moet werk en met mense moet omgaan, terwyl hulle geleidelik meer doen. Terselfdertyd moet hulle probeer om paniekaanvalle en hartkloppings onder beheer te hou deur ontspannings- en asemhalingstegnieke te leer. Die doel is om pasiënte te help om eerder geleidelik aan blootstelling aan chemiese stowwe gewoond te raak as om chemiese stowwe heeltemal uit hulle lewe uit te skakel.

Nog ’n belangrike terapie is ’n goeie nagrus. David, ’n VCS-lyer wat nou feitlik simptoomvry is, skryf sy herstel gedeeltelik toe aan die feit dat hy in ’n kamer slaap waar hy baie vars lug kry. Ernest en sy vrou, Lorraine, wat albei aan VCS ly, vind ook dat “’n goeie nagrus [hulle] baie help om met onvermydelike blootstelling aan chemiese stowwe gedurende die dag saam te leef”.

’n Gesonde dieet is natuurlik altyd belangrik om gesond te bly of gesond te word. Trouens, dit is al “die allerbelangrikste element van voorkomende gesondheidsorg” genoem. Dit is vanselfsprekend dat die liggaam se stelsels goed moet funksioneer om, ten minste sover as wat dit moontlik is, gesond te word. Dieetaanvullings kan ook nuttig wees.

Oefening dra ook tot goeie gesondheid by. Daarbenewens help jy jou liggaam om van gifstowwe ontslae te raak wanneer jy sweet. Wat ook belangrik is, is ’n goeie geesteshouding en ’n sin vir humor, asook om te voel dat ander jou liefhet en om liefde aan ander te betoon. Trouens, “om lief te hê en om te lag”, is die voorskrif wat een dokter aan al haar VCS-pasiënte gee. Ja, “’n vrolike hart bevorder die genesing”.—Spreuke 17:22.

Om liefdevolle, aangename geselskap te geniet, kan egter ’n groot probleem vir VCS-lyers wees wat sensitief is vir parfuums, skoonmaakmiddels, reukweermiddels en ander chemiese stowwe wat die meeste van ons in ons daaglikse lewe teëkom. Hoe bied mense met VCS hierdie omstandighede die hoof? Net so belangrik, wat kan ander doen om mense met VCS te help? Die volgende artikel sal hierdie sake bespreek.

[Voetnote]

^ par. 2 Die Ontwaak! is nie ’n mediese tydskrif nie, en hierdie artikels oor VCS is nie bedoel om enige mediese standpunt te bevorder nie. Dit lewer slegs berig oor onlangse bevindinge en vertel wat sommige dokters en pasiënte nuttig gevind het om hierdie siekte te behandel. Ontwaak! erken dat daar nie algemene eenstemmigheid onder geneeshere is oor die oorsake van VCS, die aard van die toestand of die talle behandelings en programme wat aan lyers gebied word en deur hulle gebruik word nie.

^ par. 12 ’n Algemene voorbeeld van ’n ensiemtekort hou verband met die ensiem laktase. Mense met ’n laktaseprobleem kan nie die laktose in melk verteer nie, en hulle word siek wanneer hulle dit drink. Ander mense het ’n tekort aan die ensiem wat tiramien verteer, ’n chemiese stof wat in kaas en ander kos gevind word. Wanneer hulle sulke kos eet, kan hulle gevolglik migraines kry.

^ par. 20 Diegene wat vermoed dat hulle aan VCS ly, moet die professionele hulp van ’n gerespekteerde geneesheer vra. Dit sal onverstandig wees om drastiese, en moontlik duur, veranderinge in jou lewenstyl te maak sonder om eers ’n deeglike mediese ondersoek te ondergaan. Toetse sal moontlik toon dat slegs klein aanpassings van jou dieet of lewenswyse nodig is om jou simptome te verlig of selfs op te klaar.

[Venster/Prent op bladsy 7]

Het jy soveel chemiese stowwe nodig?

Ons moet almal ons blootstelling aan potensieel giftige chemiese stowwe tot ’n minimum beperk. Dit sluit chemiese stowwe in wat ons in ons huis hou. Die boek Chemical Exposures sê: “Dit lyk of binnenshuise lugbesoedelstowwe van die kragtigste oorsake van chemiese sensitiwiteit is. Komplekse mengsels wat lae vlakke van honderde vlugtige organiese chemiese stowwe bevat, kom in geboue voor.” *

Vra jou dus af of jy werklik soveel chemiese stowwe moet gebruik, veral plaagdoders en produkte wat vlugtige oplosmiddels bevat. Het jy al niegiftige alternatiewe probeer? Maar as jy ’n potensieel gevaarlike chemiese stof moet gebruik, moet jy seker maak dat jy dit nooit gebruik sonder om al die nodige voorsorgmaatreëls te tref nie. Maak ook seker dat dit in ’n veilige plek geberg word waar kinders dit nie kan bykom nie en waar dampe wat dit kan afgee geen gevaar inhou nie. Onthou, selfs chemiese stowwe in verseëlde houers kan dampe afgee.

’n Bewustheid van chemiese stowwe is ook van toepassing op wat ons aan ons vel aanwend of daarop uitstort. Talle chemiese stowwe, onder andere parfuums, word deur die vel in die bloedstroom geabsorbeer. Daarom is velplakkers een manier om sekere soorte geneesmiddels toe te dien. As jy dus ’n giftige chemiese stof op jou vel uitstort, “is die eerste en belangrikste behandeling om die chemiese stof van jou vel af te was”, sê die boek Tired or Toxic?

Baie mense met veelvuldige chemiese sensitiwiteit is sensitief vir parfuums. Vyf-en-negentig persent van die bestanddele wat in parfuums gebruik word, is sintetiese mengsels wat van petroleum verkry word. Asetoon, bensaldehied, etanol, g-terpineen, kamfer en baie ander chemiese bestanddele word gebruik. Die gesondheidsgevare wat hierdie stowwe inhou, is al gepubliseer—byvoorbeeld in die Verenigde State deur die Omgewingsbewaringsagentskap. Dit is ook die geval met chemiese stowwe wat in lugverfrissers gebruik word. Wanneer omgewingswetenskaplikes lugverfrissers bestudeer, sê die University of California at Berkeley Wellness Letter, “bestudeer [hulle] dit as besoedelstowwe, nie as stowwe wat die gehalte van binnenshuise lug verbeter nie”. Lugverfrissers elimineer nie slegte reuke nie; hulle verbloem dit.

Volgens die boek Calculated Risks is “een van die belangrikste begrippe in gifkunde [dat] alle chemiese stowwe onder sekere omstandighede giftig is”.

[Voetnoot]

^ par. 33 Maniere om jou huis teen ’n aantal potensiële gifstowwe te beskerm, is in die Ontwaak! van 22 Desember 1998 bespreek.