Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?

Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?

Jongmense vra . . .

Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?

“Seuns fluit vir jou.”—Carla, Ierland.

“Meisies bel gedurig. Hulle probeer jou weerstand afbreek.”—Jason, Verenigde State.

“Hy het aan my arm bly vat en my hand probeer vashou.”—Joekiko, Japan.

“Meisies maak suggestiewe voorstelle aan my.”—Alexander, Ierland.

“Een seun het aangehou om uit die skoolbus vir my dinge te skree. Hy wou nie regtig met my uitgaan nie. Hy het my maar net lastig geval.”—Rosilyn, Verenigde State.

’N SUGGESTIEWE kyk, ’n “kompliment” met ’n seksuele ondertoon, ’n vuil grap, ’n aanraking met ’n duidelike seksuele bedoeling—sulke behandeling, wanneer dit ongevraagd is en herhaaldelik plaasvind, kom dikwels neer op wat seksuele teistering genoem kan word. Hoewel dit moeilik is om wêreldwye statistiek in die hande te kry, toon opnames dat die meeste skoolkinders in die Verenigde State dit al ondervind het.

Presies wat is seksuele teistering? Volgens die definisie in die boek Coping With Sexual Harassment and Gender Bias, deur dr. Victoria Shaw, is dit “om iemand seksueel lastig te val . . . Dit kan fisies wees (soos om iemand op ’n seksuele manier aan te raak), mondelings (soos om ongevraagde opmerkings oor iemand se voorkoms te maak) of niemondelings.” Soms kom die teistering in die vorm van onwelvoeglike voorstelle.

Baie van die teistering op skool kom waarskynlik van jou portuurs. Maar in sommige gevalle het die aanstootlike gedrag van volwassenes, soos onderwysers, gekom. ’n Artikel in die tydskrif Redbook spekuleer dat die betreklike klein aantal onderwysers wat wel aan seksuele oortredings skuldig bevind word “waarskynlik net die puntjie van die ysberg verteenwoordig”.

Vroue—en soms mans—moes selfs in Bybeltye sulke teistering verduur (Genesis 39:7; Rut 2:8, 9, 15, NW). En die Bybel het hierdie sombere voorspelling gemaak: “In die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend . . . ; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed” (2 Timoteus 3:1-3, NAV). Dit is dus moontlik, selfs waarskynlik, dat jy seksueel geteister sal word.

God se beskouing

Alle jongmense word weliswaar nie deur seksueel aggressiewe gedrag ontstel nie. Party vind dit snaaks—of selfs vleiend. ’n Ontstellende opname in Amerika het getoon dat 75 persent van dié wat seksueel geteister is, erken het dat hulle self al ander geteister het. Sommige volwassenes kan die probleem vererger deur die erns van seksueel aggressiewe gedrag te verklein en dit as blote kinderspeletjies af te maak. Maar hoe beskou God dit?

In God se Woord, die Bybel, word alle vorme van seksuele teistering duidelik veroordeel. Ons word beveel om nie ‘inbreuk te maak op ander se regte’ deur seksuele grense te oorskry nie (1 Tessalonisense 4:3-8). Trouens, jong mans word spesifiek beveel om “jonger vroue soos susters met alle kuisheid” te behandel (1 Timoteus 5:1, 2). Verder veroordeel die Bybel “onwelvoeglike skertsery” (Efesiërs 5:3, 4). Jy het derhalwe ’n reg om kwaad, ontsteld, verward en selfs vernederd te voel wanneer jy geteister word!

Wat sê ek?

Hoe moet jy dus reageer as iemand jou so lastig val? Soms laat ’n flou of onduidelike reaksie ’n teisteraar net harder probeer. Die Bybel sê dat Josef nie bloot sy werkgewer se vrou geïgnoreer het toe sy onsedelike voorstelle aan hom gemaak het nie. Hy het haar onsedelike toenaderings eerder ferm verwerp (Genesis 39:8, 9, 12). Om ferm en reguit te wees, is vandag nog steeds die beste manier om teistering te keer.

Die persoon wat jou lastig val, bedoel miskien nie om jou aanstoot te gee nie. Wat na teistering lyk, kan net ’n onbeholpe poging wees om jou aandag te trek. Moet dus nie voel dat jy ongemanierd moet wees om ongewenste toenadering stop te sit nie. As jy eenvoudig sê: ‘Ek hou nie van daardie soort praatjies nie’ of ‘Hou asseblief jou hande tuis’, sal dit dalk voldoende wees. Maar hoe jy dit ook al sê, moenie jou boodskap afwater nie. Laat jou nee, nee beteken! Die jong Andrea stel dit so: “As hulle nie verstaan wanneer jy dit vir hulle vriendelik probeer sê nie, moet jy dit reguit vir hulle sê. Dit kom dikwels daarop neer.” ’n Ferm: ‘Kry nou end!’ is dalk wat nodig is.

As die situasie vererger, moet jy dit nie op jou eie probeer hanteer nie. Probeer dit met jou ouers of ander ryp volwassenes bespreek. Hulle het dalk ’n paar praktiese voorstelle om die probleem die hoof te bied. As laaste uitweg meen hulle dalk selfs dat die skoolbeamptes hieroor ingelig moet word. Hoewel dit jou baie ongemaklik kan laat voel, kan dit jou teen verdere teistering beskerm.

Voorkom teistering

Dit is natuurlik beter om teistering in die eerste plek te vermy. Wat kan jou hiermee help? Andrea stel voor: “Moet nooit die indruk skep dat jy miskien in iemand belangstel nie. Ander sal daarvan te hore kom, en die druk sal voortduur.” Jou kleredrag kan ’n groot rol speel. Die jong Mara sê: “Ek trek nie soos ’n oumatjie aan nie, maar ek vermy wel klere wat die aandag op my liggaam vestig.” As jy seksuele toenaderings verwerp, maar terselfdertyd prikkelende klere dra, kan jy ’n gemengde boodskap oordra. Die Bybel beveel aan dat ’n mens “met beskeidenheid en gesonde verstand” aantrek.—1 Timoteus 2:9.

Jou keuse van vriende beïnvloed ook hoe jy behandel word (Spreuke 13:20). Rosilyn sê: “Wanneer sommige van die meisies in ’n groep daarvan hou dat die seuns aan hulle aandag gee, sal die seuns moontlik aanneem dat al die meisies in die groep dieselfde daaroor voel.” Carla stem hiermee saam: “As jy vriende is met meisies wat die opmerkings of die aandag geniet, sal jy ook geteister word.”

Die Bybel vertel van ’n jong meisie, Dina, wat met meisies van Kanaän omgegaan het—waar vroue bekend was vir hulle onsedelike gedrag. Dit het daartoe gelei dat sy seksueel aangerand is (Genesis 34:1, 2). Die Bybel sê met goeie rede: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses” (Efesiërs 5:15). Ja, as jy “streng” op jou kleredrag, jou spraak en jou assosiasie let, kan dit ’n groot beskerming teen teistering wees.

Maar vir Christenjongmense is een van die beste maniere om teistering te voorkom eenvoudig om ander oor jou godsdiensstandpunt in te lig. Die jong Timon, een van Jehovah se Getuies, sê: “Die kinders het geweet dat ek ’n Getuie is, en dit het amper al die teistering beëindig.” Andrea sê: “Dit maak ’n groot verskil as jy vir hulle sê dat jy ’n Getuie is. Hulle sal besef dat jy in baie opsigte anders as hulle is en dat jy streng sedelike standaarde het.”—Matteus 5:15, 16.

As jy geteister word

Ongeag wat jy doen, jy kan nie onbeskofte, beledigende mense heeltemal vermy nie. Maar as jy die slagoffer van teistering is, is daar geen rede waarom jy jou met skuldgevoelens moet kasty nie—solank jy jou soos ’n Christen gedra het (1 Petrus 3:16, 17). As die situasie jou emosioneel ontstel, kan jy ondersteuning vind deur met jou ouers of met ryp persone in die Christengemeente te praat. Rosilyn erken dat dit moeilik is om goed oor jouself te voel wanneer jy geteister word. “Dit is baie goed as jy ’n vriend het”, sê sy, “iemand met wie jy kan praat.” Onthou ook dat ‘die HERE naby almal is wat Hom aanroep’.—Psalm 145:18, 19.

Dit is nie maklik om ’n standpunt teen mishandeling in te neem nie, maar dit is die moeite werd. Dink byvoorbeeld aan die Bybelverslag van ’n jong vrou van Sunem. Hoewel sy nie werklik geteister is soos die woord gewoonlik vandag gebruik word nie, het Salomo, die ryk en magtige koning van Juda, ongevraagde toenadering tot haar gesoek. Omdat sy op ’n ander man verlief was, het sy daardie toenaderings weerstaan. Sy kon gevolglik met trots van haarself sê: “Ek is ’n muur.”—Hooglied 8:4, 10.

Lê dieselfde sedelike krag en vasbeslotenheid aan die dag. Wees ’n “muur” wanneer iemand ongewenste toenadering soek. Maak jou Christelike standpunt duidelik aan almal om jou. Deur dit te doen, kan jy “onberispelik en onskuldig” bly en seker wees dat jy God behaag het.—Filippense 2:15. *

[Voetnoot]

^ par. 27 Nog raad oor seksuele teistering het in die Ontwaak! se nommers van 22 Mei 1996; 22 Augustus 1995 en 22 Mei 1991 verskyn.

[Prent op bladsy 26]

Dit kan ’n beskerming wees as jy jou Christelike oortuiging algemeen bekend laat word

[Prent op bladsy 26]

Jy kan teistering voorkom deur nie met die verkeerde mense om te gaan nie