Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gewetensaak

’n Gewetensaak

’n Gewetensaak

DIE klassieke rolprent Arsenic and Old Lace van 1944 het uitgebeeld hoe etlike bejaarde mans vinnig gesterf het nadat hulle vlierbessiewyn gedrink het waarin arseen gegooi is. Die rolprent is ’n tipiese voorbeeld van die algemene indruk dat arseen altyd ’n snelwerkende, dodelike gif is. Om die waarheid te sê, was die skielike dood in die rolprent eintlik nie deur die arseen veroorsaak nie, maar deur die strignien en die sianied wat ook by die drankie gevoeg is.

“Die simptome van arseenvergiftiging is oor die algemeen nie akuut nie”, skryf dr. Robert E. Gallagher in The New England Journal of Medicine. Maar hy voeg by dat “arseenvergiftiging weens besmette drinkwater en nywerheidsbesoedelstowwe ’n ernstige probleem vir die openbare gesondheid in baie wêrelddele is, waar dit mense vatbaar maak vir ’n verskeidenheid siektes, onder meer vel-, blaas-, long en lewerkanker”.

Met die bogenoemde inligting in gedagte is dit verstaanbaar dat diegene wat gesondheidsorg voorsien dit nie normaalweg oorweeg om arseen as ’n vorm van behandeling voor te skryf nie. Maar kyk mooi na wat in die volgende geval in Kanada gebeur het. Let op hoe daar ’n konflik ontstaan het tussen die gewete van ’n pasiënt, Darlene, en dié van haar dokters, verpleegsters en die apteker wat by die geval betrokke was toe daar eers ’n bloedoortapping en later arseen as behandeling voorgeskryf is. Darlene vertel wat gebeur het.

“In Mei 1996 het ek probleme ondervind weens ernstige kneusing, bloedvloeiing en ongewone bloeding van die tandvleis. My hematoloog, dr. John Matthews, in Kingston, Ontario, het die probleem gediagnoseer as ’n seldsame soort kanker wat akute promiëlositiese leukemie (APL) genoem word. Ná ’n reeks toetse, onder meer ’n diagnostiese beenmurgtoets, het dr. Matthews op ’n baie mooi manier verduidelik wat APL is en hoe die probleem behandel word. Die normale behandelingsmetode het ’n bloeduitruiling sowel as chemoterapie ingesluit, maar my Bybelopgeleide gewete het my nie toegelaat om bloedoortappings te aanvaar nie.

“Die dokters het nie kosbare tyd gemors deur te probeer om my van plan te laat verander nie, maar het eerder na ’n ander geneeskundige behandeling gesoek. Die gewysigde behandeling het die gebruik van ’n derivaat van vitamien A behels, tesame met redelik intensiewe chemoterapie. My leukemie het vir drie maande in remissie gegaan, maar het toe met mening teruggekeer. Die hoofpyn, wat deur die swelling van my brein veroorsaak is, was ondraaglik. Daarbenewens het ek ’n weerstand teen die behandeling opgebou. Toe het die dokter vir ons gesê dat daar sonder bloedoortappings geen behandeling vir my was nie. Hulle het vir ons gesê dat ek minder as twee weke het om te lewe.

“Die volgende paar dae het dit dol gegaan, met meer bloedtoetse, besoeke aan die prokureur oor my testament, asook begrafnisreëlings. Gedurende hierdie tyd het dr. Matthews ons vertel van ’n ongewone mediese behandeling vir APL wat dokters in China met welslae gebruik het en waarvan gerespekteerde wetenskaptydskrifte soos Blood en Proceedings of the National Academy of Sciences verslag gedoen het. Terwyl die dokter en ’n kollega navorsing gedoen het, het hulle in ’n mediese tydskrif gelees dat ‘baie mense dit waarskynlik verbasend sal vind dat arseentrioksied met welslae binneaars toegedien is, met beperkte toksisiteit, om akute promiëlositiese leukemie (APL) te behandel’.

“Nou was daar twee opsies—ek moes my gewete skend en ’n bloedoortapping aanvaar of hierdie onbekende behandeling met arseen volg. Ek het die arseenbehandeling gekies. * Min het ek geweet watter gewetensprobleme dit vir dokters, verpleegsters, die apteker en selfs hospitaalbeamptes sou veroorsaak.

“Die hospitaal het daarna by beheerliggame vasgestel of arseentrioksied toegedien mag word. Slegs daarná kon hulle toestemming gee dat hierdie behandeling mag voortgaan. Aanvanklik was die apteker huiwerig om saam te werk, aangesien hy aan die veiligheid van die prosedure getwyfel het. My dokters, dr. Matthews en dr. Galbraith, moes oortuigende en positiewe voorleggings oor hierdie behandeling lewer. Uiteindelik, nadat die hospitaalowerheid en die apteker genoeg mediese getuienis oor die behandeling gegee is, het hulle gevoel dat hulle daarmee kon saamwerk.

“Die apteker het ingestem om die arseenproduk voor te berei en te steriliseer sodat dit onmiddellik toegedien kon word. Maar nou het die gesamentlike gewete van die verpleegsters hulle nie toegelaat om die sakkie met die omstrede middel op te hang nie. Hulle het bygestaan terwyl die dokters self etlike eenhede van die middel opgehang het. Die verpleegsters het my gesmeek om bloed te neem. Hulle was oortuig dat ek sou sterf, en gevolglik het ek ’n beroep op hulle professionalisme gedoen en gevra dat hulle my besluit respekteer om bloed gewetenshalwe te weier. Ek het my dankbaarheid uitgespreek, my arm om hulle gesit en hulle gevra om hulle persoonlike gevoelens eenkant te hou. Ons het ’n goeie verhouding behou. Die arseentrioksiedbehandeling het ses maande lank aangehou, en ek het goed aangesterk. Toe het die dokters ingestem dat ek die res van die behandelings by die huis kon kry.

“Reëlings is getref met die Victoria-verpleegstersorde, wat mense tuis versorg. Die kwessie van gewete is weer geopper. Hulle was ook teësinnig om die middel toe te dien. Vergaderinge, briewe en mediese artikels uit gerespekteerde mediese tydskrifte het die probleem opgelos. Daarna het die verpleegsters ingestem om saam te werk. In September 1997 is my behandelings voltooi.

“O ja, my soort kanker kan terugkom. Die dokter sê dit is soos om op ’n tydbom te lewe. Maar ek het geleer om elke dag te geniet, nooit my plek van aanbidding af te skeep nie en altyd daarmee besig te bly om ander te vertel van die Bybelse hoop van ’n tyd wanneer ‘geen inwoner sal sê: Ek is siek nie’.”—Jesaja 33:24.

Persone in die mediese beroep het ’n groot verantwoordelikheid om goeie gesondheidsorg te voorsien. Hulle beskou dit oor die algemeen in ’n ernstige lig en voorsien volgens die riglyne van hulle gewete behandeling binne die perke van hulle vermoë en huidige kennis. Soos hierdie ondervinding bevestig, kan dokters, verpleegsters en ander professionele gesondheidswerkers baie uitrig deur aanpasbaar te bly en die oortuigings en gewete van die ingeligte volwasse pasiënt in ag te neem.

[Voetnoot]

^ par. 8 Hoewel Ontwaak! die ondervinding publiseer, beveel ons geen soort geneesmiddel of behandeling aan nie.

[Prent op bladsy 20]

Darlene Sheppard