Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bepeinsing wat voordelig is

Bepeinsing wat voordelig is

Die Bybel se beskouing

Bepeinsing wat voordelig is

“LAAT DIE WOORDE VAN MY MOND EN DIE BEPEINSING VAN MY HART AANGENAAM WORD VOOR U, O JEHOVAH, MY ROTS EN MY VERLOSSER.”—PSALM 19:14NW.

WAT beteken “bepeinsing” vir jou? As jy die leringe van party Oosterse godsdienste volg, glo jy dalk dat dit iets is wat groter helderheid van denke of spesiale verligting bring. Die bepeinsing, oftewel meditasie, wat in Boeddhisme beoefen word, spoor mense aan om die verstand van alle gedagtes leeg te maak. Ander vorme van bepeinsing of meditasie moedig mense blykbaar aan om hulle verstand met “universele waarhede van wysheid” te vul.

Die Bybelse beskouing van bepeinsing verskil hiervan. In watter opsig? Neem die Bybelse voorbeeld van ’n man, Isak, wat op 40-jarige leeftyd baie gehad het om oor te peins. Genesis 24:63 sê: “Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld.” Daar is geen rede om te dink dat Isak sy verstand leeggemaak het van gedagtes of dat hy bloot ’n vae ‘universele waarheid van wysheid’ oordink het nie. Isak het waarskynlik spesifieke dinge gehad om oor na te dink, soos sy toekoms, die dood van sy moeder of wie sy vrou sou wees. Hy het van ’n bietjie vrye tyd in die aand gebruik gemaak om waarskynlik oor sulke belangrike sake te dink. In die Bybel is bepeinsing meer as net dagdromery.

Bepeinsing behels meer

Neem die voorbeeld van die psalmis Dawid. Hy het voor ’n reeks skynbaar onoorkomelike probleme te staan gekom, en hy was deeglik bewus van die feit dat hy, as ’n onvolmaakte man, God se hulp nodig gehad het om die regte besluite te neem. Wat het Dawid versterk sodat hy moeilike omstandighede kon verduur? Soos in Psalm 19:14 (NW) opgeteken staan, het Dawid gesê: “Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart aangenaam word voor u, o Jehovah, my Rots en my Verlosser.” Die Hebreeuse woord wat hier met “bepeinsing” vertaal is, kom van ’n grondwoord wat letterlik beteken “om met jouself te praat”. Ja, Dawid het ‘met homself gepraat’ oor Jehovah, oor sy dade, sy werke, sy wette en sy regverdigheid.—Psalm 143:5.

Vroeë Christene het dit eweneens as deel van ware aanbidding beskou om tyd opsy te sit om oor geestelike dinge na te dink. Die apostel Paulus het gemaan: “Alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug daar ook al is en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink” (Filippense 4:8). Voordat ons opbouende dinge kan bedink, moet ons hierdie “dinge” waarvan Paulus gepraat het natuurlik op een of ander stadium in ons verstand inneem. Hoe?

Die psalmis gee ’n antwoord. Psalm 1:1, 2 (NW) sê: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het [nie] . . . Sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon.” Ja, die psalmis het God se wet gereeld gelees. Hy kon dan peins oor die dinge wat hy oor die Skepper geleer het.

Bepeinsing vandag

Dit is van onskatbare waarde om die Bybel te lees, maar nadat ons dit gelees het, moet ons daaroor peins, diep nadink of ‘met onsself praat’ oor wat ons gelees het. Net soos ons die kos wat ons geëet het, moet verteer om ten volle daarby baat te vind, is bepeinsing nodig voordat ons kan absorbeer wat ons in die Bybel lees. Die regte soort bepeinsing raak nie net ontslae van negatiewe gedagtes nie. Dit maak dit ook vir ons moontlik om Bybelse oplossings vir ons probleme te vind. Sulke bepeinsing kan ons help om die sorge van die daaglikse lewe suksesvol die hoof te bied.—Matteus 6:25-32.

Die psalmis Dawid het besef watter rol bepeinsing speel om God te behaag. Hy het gesê: “Die mond van die regverdige spreek wysheid op gedempte toon uit” (Psalm 37:30, NW). Ja, bepeinsing is ’n kenmerk van ’n getroue aanbidder. Om deur God as regverdig beskou te word, is ’n ware seën, en dit bring geestelike voordele mee. Die Bybel sê byvoorbeeld dat “die pad van die regverdiges . . . soos die lig van die môreglans [is], wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spreuke 4:18). Die gehoorsame Christen wat ‘wysheid op gedempte toon uitspreek’, kan dus verwag om in begrip van die Bybel toe te neem.

Die Bybel spoor Christene ook aan om oor hulle skriftuurlike verantwoordelikhede te peins. Die apostel Paulus het vir Timoteus gesê: “Bepeins hierdie dinge; wees verdiep daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees. Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:15, 16). Ja, wat ons sê en doen, kan ’n verreikende uitwerking op ander hê.

Dit is duidelik dat ons baie redes het om diep na te dink oor belangrike dinge. Dit is belangrik om oor ons ondervindinge van die verlede na te dink, oor huidige sake te peins en ons toekoms sorgvuldig te oorweeg. Maar van die grootste belang is die feit dat ons bepeinsing ons die grootste verligting sal bring as ons ons gedagtes op die wysheid van ons Skepper, Jehovah God, toespits.

[Prent op bladsy 20]

“Die denker”, deur Rodin