Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ideale word bereik

Die ideale word bereik

Die ideale word bereik

INTERNASIONALE welwillendheid, broederskap, vrede—wie sal nou nie sulke edele ideale prys nie? Baron Pierre de Coubertin, die persoon wat die Olimpiese Spele laat herleef het, het geglo dat die Spele nasionale wedywering sou uitskakel deur groot respek vir mededingers te bevorder, ongeag hulle ras, godsdiens of geslag. Hy het gemeen dat “’n beter wêreld slegs deur beter individue teweeggebring kan word”. Maar kan sport werklik wêreldvrede teweegbring? Te oordeel aan die geskiedenis moet ons nee antwoord.

Hoewel sport sy plek het, is Bybelonderrig die sleutel tot die bevordering van ware vrede. Ja, Bybelbeginsels kan “beter individue” voortbring, soos Coubertin dit gestel het. Kyk na ’n paar tekste wat vrede onder mense bevorder wat dit toepas, ongeag hulle nasionaliteit.

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.

“Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—Romeine 12:18.

“Laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen.”—Galasiërs 6:10.

“En [moet] niks uit twisgierigheid of uit egotisme doen nie, maar met ootmoed [moet julle] die ander hoër as julleself ag.”—Filippense 2:3.

“Liggaamlike oefening het min voordeel; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe.”—1 Timoteus 4:8.

Werk die ideale wat in hierdie tekste uiteengesit word werklik? Dink byvoorbeeld aan wat in München, Duitsland, gebeur het. In 1974, net twee jaar nadat die Olimpiese Spele wat in daardie stad gehou is deur terrorisme en moord bederf is, het Jehovah se Getuies ’n internasionale byeenkoms in die Olimpiese Stadion gehou. Daar was onder meer groepe van Griekeland en Turkye teenwoordig—lande wat destyds teen mekaar geveg het. Trouens, gedurende daardie einste somer was Griekse en Turkse troepe in ’n stryd gewikkel oor die eiland Siprus. Het dit die Christene beïnvloed wat die byeenkoms bygewoon het? Nee! Hoe roerend was dit tog vir mense om te sien hoe Grieke en Turke mekaar omhels en mekaar broer en suster noem!

Jehovah se Getuies is wêreldwyd daarvoor bekend dat hulle vreedsame verhoudings geniet wat nasionale, etniese en stamgrense oorkom. Hulle beweer natuurlik nie dat hulle die ideaal van wêreldwye eenheid en samewerking vervolmaak het nie. Soos alle ander mense moet hulle hard werk om die Christenapostel Paulus se raad te volg: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid” (Kolossense 3:9, 10). Hulle is nietemin vas oortuig dat mense gehelp kan word om ‘vrede te soek en dit na te streef’ as hulle Bybelbeginsels volg.—1 Petrus 3:11.

Ongelukkig het die Olimpiese Spele—ondanks die edele ideale daarvan—die slegste in baie mense voortgebring. In teenstelling hiermee bring God se kragtige Woord die beste in mense voort deur internasionale welwillendheid en vrede te bevorder.

[Prente op bladsy 8]

Die Spele moedig mededinging aan

[Erkenning]

Aus dem Fundus der MÜNCHNER OLYMPIAPARK GMBH, München

[Prente op bladsy 9]

Die Bybel bevorder vrede