Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die oorspronklike houtkapper is nog aan die werk

Die oorspronklike houtkapper is nog aan die werk

Die oorspronklike houtkapper is nog aan die werk

MENSE het al baie werktuie uitgevind om hout mee te bewerk, onder meer die byl, wig, klower en saag. Daar is ook trekkers met skerp klampe wat deur massiewe boomstamme kan sny. Maar die oudste houtkapperswerktuie is nie mensgemaak nie. Dit is ’n goeie stel skerp tande—dié van die bewer, die oorspronklike houtkapper.

’n Volwasse bewer kan ongeveer 1,3 meter lank word en meer as 30 kilogram weeg. Omdat sy boonste en onderste snytande voortdurend groei, moet die bewer hulle dikwels afslyp. ’n Laag harde emalje bedek die voorste oppervlak van die snytande, wat dit ’n skerp, skuins rand gee. Hierdie natuurlike beitels, wat na binne gekrom is en hulle werk met behulp van baie sterk kaakspiere doen, sny die hardste hout met gemak.

Warm pels, veelsydige stert

Mense wat in ’n koue klimaat woon, waardeer werklik ’n warm, waterdigte jas. Wel, die bewer hoef nooit winkel toe te gaan vir sulke klere nie, want hy het ’n dik pels. Die bewer se pels wissel in kleur van geelbruin tot donkerbruin, en dit bestaan uit twee lae. Die digte onderlaag bestaan uit baie fyn haartjies met klein baardjies wat aanmekaar skakel om die bewer teen die water en koue te beskerm. Langer, digter hare bedek die onderlaag en help die bewer om van water ontslae te raak. Dit laat die pels blink en maak dit fluweelsag, en daarom kan ’n mens verstaan waarom kledingstukke wat van bewerpels gemaak is so gesog is! Daar was ’n tyd toe bewerpelse selfs as ’n vorm van geld in Kanada gedien het!

Alle bewers het twee paar ongewone kliere aan die basis van hulle stert. Een paar skei ’n spesiale olie af, en die ander vervaardig bewergeil, ’n geurige afskeiding met ’n sterk, maar onaanstootlike reuk. Die bewer gebruik hierdie afskeidings op verskeie maniere, onder meer om sy pels waterdig te maak en om ander bewers te lok. Bewergeil is ook van nut vir mense, want parfumeurs gebruik dit in sommige van hulle parfuums.

Die bewer se stert is uniek. Dit is soos ’n roeispaan gevorm, is ongeveer 30 sentimeter lank en het baie funksies. In die water dien die bewer se stert byvoorbeeld as ’n stuur. Op land word dit vir stabiliteit gebruik wanneer die bewer aan bome knaag. Wanneer gevaar dreig, slaan die bewer sy stert op die oppervlak van die water, wat alle bewers binne hoorafstand waarsku om skuiling te soek. Ons moet egter een wanopvatting regstel, en dit is dat die bewer nie sy stert as ’n troffel gebruik om sy damme met modder te pleister nie.

Kos en water

Wat eet ’n bewer? Die sagte binnebas en die lootjies van populier- en wilgerbome is boaan sy spyskaart. Terwyl die bewer dus ’n boom vir ’n bouprojek afknaag, kan hy ook ’n lekker ete geniet. Soms, terwyl een bewer besig is om ’n boom af te knaag, sal ’n ander bewer nader sluip en ’n stukkie sappige bas aan sy blinde kant steel.

Gedurende die winter gebruik die bewer ’n unieke stelsel om kos te stoor. Hy sal eers ’n diep gat onder die water grawe—’n taak wat nie te moeilik is nie, aangesien die bewer 15 minute op ’n keer onder die water kan bly. Dan maak die bewer takke van espe-, wilger- en ander bome op die oppervlak bo die gat bymekaar. Namate meer hout opgestapel word, bereik die hoop uiteindelik die onderkant van die gat. Later, wanneer die dam toegeys is en sneeu werk op die oppervlak moeilik maak, het die kolonie ’n “spens” vol kos onder die water.

Van water gepraat, min landdiere is so tuis daarin soos die bewer. Buiten sy dik pels, wat met olie waterdig gemaak word, het die bewer ook ’n laag vet onder sy vel wat hom in die koudste water warm hou. Bewers paar selfs onderwater! Aangesien water so ’n belangrike rol in bewers se lewe speel, woon hulle nooit ver van mere en strome nie.

Bewers en mense

Bewers is mak, en hulle raak maklik vriende met mense wat hulle goed behandel. Die diere versorg hulle pels en hou hulleself skoon. Vroeër het Indiane bewers dikwels as troeteldiere om hulle kampe aangehou. Jy sal egter twee keer moet dink voordat jy ’n bewer in jou huis toelaat. Die probleem is dat hulle nooit ophou bou nie. “Wanneer hulle binnenshuis gehou word”, skryf die omgewingskundige Alice Outwater, “sal hulle tafel- en stoelpote afknaag en klein dammetjies tussen meubels bou.” Bome en heiningpale in die agterplaas kan ook deurloop.

Maar selfs ernstiger probleme het al tussen bewers en mense ontstaan. Party grondeienaars kla byvoorbeeld dat damme strome laat styg, wat skade aan eiendom veroorsaak. Maar wetenskaplikes en ander reageer op sulke klagtes deur daarop te wys dat die bewer se bedrywighede voordele inhou. Byvoorbeeld, die opdammingswerk van bewers bespaar en suiwer water en skep lewensonderhoudende toestande vir baie spesies. Party sê selfs dat bewerpoele die uitwerking van droogtes verminder het.

Natuurkenners skat dat ongeveer 10 000 000 bewers nou op die vasteland van die Verenigde State woon. Maar sommige skat dat meer as 200 000 000 bewers 500 jaar gelede in daardie selfde gebied gewoon het. Dink net: Tienmiljoene “houtkappers” het moontlik in die woude van Noord-Amerika gewerk voordat die eerste Europeërs daar aangekom het. En tog het daardie vroeë nedersetters nie ’n dor land sonder bome gevind nie, maar ’n land met florerende woude. Dit is duidelik dat die bewer ’n belangrike rol in die ekologie van ons planeet speel. Ons kan dus dankbaar wees dat die oorspronklike houtkapper nog aan die werk is!

[Venster/Prent op bladsy 22, 23]

“Besig soos ’n bewer”

Die persoon wat hierdie Engelse uitdrukking uitgedink het, het bewers waarskynlik aan die werk gesien waar hulle ’n stroom opdam of hulle nes bou. Dit lyk werklik of hierdie diere onvermoeid werk terwyl hulle bome afknaag en die stompe sleep na die plek waar hulle besig is om te bou. Soms grawe hulle selfs kanale sodat hulle boumateriaal na die regte plek kan laat dryf.

Maar hoe bou bewers hulle damme? Eerstens druk hulle takke in die bodem van die stroom om die struktuur te anker. As die stroom wyd is, bou die bewers hulle wal met ’n boog stroomop om dit teen die stroom te versterk. Hulle gebruik nog hout en bou die wal tot die regte hoogte op, en dan stop hulle die gate toe met modder en klippe. Om die dam te versterk, sal die bewers dit aan die stroomafkant verstewig deur takke teen ’n hoek in die stroombedding te druk. Hierdie vlytige werkers doen selfs gereelde herstelwerk aan hulle handewerk!

’n Kalm poel vorm gou stroomop. Hier bou die bewers veilige neste—eers net ’n holte in die rivieroewer terwyl die dam nog gebou word en later ’n koepelvormige nes van modder en stokke in die water. Die bewers gebruik onderwateringange om hulle teen roofdiere te beskerm. Binne-in hulle veilige neste rus hulle en maak hulle hulle kleintjies groot.

Die bewer is werklik vlytig. Wetenskaplikes in Wyoming, VSA, het tien bewers—vyf mannetjies en vyf wyfies—in ’n gebied losgelaat waar geen bewers vir ’n lang tyd gesien is nie. ’n Jaar later het die navorsers teruggekeer en gevind dat hulle vyf afsonderlike kolonies gevorm het en 55 damme gebou het!

[Prente op bladsy 24]

’n Bewer aan die werk; ’n bewer se nes en dam; ’n klein bewertjie