Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die spesery wat van halfpad om die wêreld gekom het

Die spesery wat van halfpad om die wêreld gekom het

Die spesery wat van halfpad om die wêreld gekom het

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN HONGARYE

“WAT ’n lekker bredie! Waarmee het jy dit gegeur?” Dit is dalk jou reaksie wanneer jy ’n tipiese Hongaarse ghoelasj proe. Die unieke geur kom van paprika, ’n spesery wat van die rissieplant gemaak word en van halfpad om die wêreld na Hongarye gekom het.

Die geskiedenis dui daarop dat Suid-Amerika die vroegste bekende tuiste van die rissie was. Erdewerk wat in Inkagrafte gevind is—wat vermoedelik duisende jare oud is—is met afbeeldings van die rissieplant versier. Rissies is selfs tussen die kos gevind wat saam met Inkamummies begrawe is.

Sommige geskiedkundiges meen dat ’n dokter wat in 1493 saam met Columbus na Amerika geseil het rissiesade saam met hom na Spanje geneem het. Hoe dit ook al sy, Spanje was die eerste Europese land wat rissies op groot skaal gekweek het. Van daar af het die rissieplant na Brittanje en suidelike Frankryk versprei, waar dit gewilder was as ’n huisplant en nie soseer as ’n geurmiddel of ’n bron van voedsel gebruik is nie! Later het Griekse handelaars rissieplante na lande om die Middellandse See en die Swart See geneem.

Die rissieplant is al sedert die 16de eeu in Hongarye bekend. Een van sy name, “Turkse rissie”, gee te kenne dat dit ons moontlik deur middel van die Turke bereik het. In elk geval, die donkerrooi, geurige en soet paprika van Hongarye is tot vandag toe ’n gunstelinggeurmiddel onder speseryliefhebbers regoor die wêreld.

Rissieplante floreer op gelyk, bruin, sanderige grond wat baie sonlig kry. Boere begin onmiddellik ná die vorige jaar se oes die grond voorberei om rissies in die laatsomer te plant. Party rissieplante groei uit saad wat gesaai is; ander word uitgeplant. Rissieplante wat uitgeplant gaan word, moet in ’n beheerde omgewing gekweek word, soos in ’n goed geventileerde kweekhuis. Daar word die klein plantjies sorgsaam natgegooi, bemes en word die onkruid uitgetrek. Voordat hulle uitgeplant word, word hulle geleidelik aan toestande buite die kweekhuis blootgestel.

Ná ses tot agt weke is dit tyd om die rissiesaailinge uit te plant. In Hongarye vind dit gedurende die eerste paar dae van Mei plaas. Op hierdie stadium het die plante nog steeds baie sorg nodig—die boere moet hulle natgooi en bespuit en om hulle skoffel as hulle gesonde rissies wil oes.

Die oes begin teen die einde van Augustus of aan die begin van September. ’n Groenrissie is dieprooi wanneer dit ryp is. Tensy die plante almal terselfdertyd ryp word, moet hulle met die hand geoes word en nie met masjiene nie. Watter oesmetode ook al gebruik word, die rissies sal talle fisiese en chemiese veranderinge ondergaan voordat dit op jou etenstafel verskyn. Nadat die rissies geoes is, verloor hulle byvoorbeeld die meeste van hulle vog, en hulle suiker- en vitamien C-vlak verlaag. *

Ná die oes moet die rissies toegelaat word om uit te droog en verder ryp te word. ’n Tradisionele manier om dit te doen, is om hulle aan ’n toutjie te hang. Maar vandag is dit gebruikliker om die rissies in lang sakke te sit wat van losserig geweefde materiaal gemaak is, wat lug deurlaat. Die sakke word aan rakke of in skure opgehang. Wanneer die rissies heeltemal ryp is, kan dit tot poeier gemaal word om die heerlike geurmiddel te maak wat as paprika—die Hongaarse woord vir rissie—bekend staan.

Sommige soorte paprika kan nogal skerp wees, hoofsaaklik as gevolg van ’n chemiese stof wat kapsaïsien genoem word. Hierdie natuurlike produk is selfs al vir medisinale doeleindes gebruik, soos om spysverteringsprobleme en rumatiek te behandel. In elk geval, paprika se unieke geur—hetsy skerp of matig—is net een van sy kenmerke. Dit gee ook ’n bietjie kleur aan ’n gereg, wat dit ’n lus vir die oog maak. Wanneer paprika by hoendervoer gevoeg word, het dit hoenders selfs eiers laat lê wat ’n helderder eiergeel het!

Wil jy ’n gereg proe wat met paprika gegeur is? Probeer dan gerus die resep vir ghoelasj hieronder. Soos ons in Hongaars sê, jó étvágyat!—smaaklike ete!

[Voetnoot]

^ par. 9 Een rissie kan vyf tot ses keer meer vitamien C as ’n lemoen of ’n suurlemoen bevat.

[Venster op bladsy 11]

HONGAARSE GHOELASJ

1/4 kilogram beenlose beesvleis, in blokkies opgesny

1 eetlepel olie

1 medium ui, opgekap

2 groot knoffelhuisies, opgekap

2 eetlepels soet paprika

2 teelepels sout

1/4 teelepel karwysaad (opsioneel)

2 medium aartappels, gewas, geskil en in blokkies opgesny

1 klein groenrissie, ontkern en opgekap

2 klein tamaties, geskil, ontpit en in stukke opgesny

100 gram droë eiernoedels

Verhit die olie in ’n soppot en gooi uie in. Braai tot dit sag is. Roer knoffel en paprika in, en gooi ’n bietjie water by indien nodig om te keer dat dit vasbrand. Voeg dan die beesvleis en sout by, roer goed. Sit die deksel op en laat dit prut. Roer van tyd tot tyd en voeg slegs water by indien nodig om te keer dat dit vasbrand. Voeg karwysaad by, as jy dit verkies. Voeg rissies, tamaties en twee liter water by wanneer die vleis sag is. Laat dit opkook, sit deksel op en laat vir 15 minute prut. Voeg aartappels by en laat dit prut totdat aartappels gaar is (10 tot 15 minute). Sout na smaak. Bedien warm met eiernoedels wat apart voorberei is. Genoeg vir vier tot ses mense.