Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geniet ’n veilige vlug!

Geniet ’n veilige vlug!

Geniet ’n veilige vlug!

“Die ontruiming van passasiersvliegtuie vind omtrent een keer per week plaas”, sê ’n verslag in USA Today. Hoewel die meeste hiervan klein voorvalle of vals alarms is, sal ontruiming dalk baie makliker wees as jy die volgende wenke volg:

TREK REG AAN. Dra klere wat gemaklik is en jou vryheid van beweging toelaat. Klere moet soveel van jou vel as moontlik bedek. Gemaklike langbroeke en langmoubloese word aanbeveel. Dra klere wat van natuurlike stowwe gemaak is, soos katoen, wol, denim en leer. Sintetiese stowwe, soos rayon, poliëster en nylon (veral kouse), kan smelt wanneer dit warm word, wat moontlik ernstige brandwonde op die liggaam en bene kan veroorsaak.

BEREI VERSTANDELIK VOOR. Dink aan wat jy in ’n noodsituasie gaan doen. Nadat jy gaan sit het, moet jy kyk waar die naaste nooduitgang is, voor sowel as agter jou ry. Luister na die lugwaardin se veiligheidsinstruksies voor julle vertrek. Hersien die veiligheidskaart wat inligting oor ontruimingsprosedures voorsien.

MOENIE PANIEKERIG WORD NIE. Bly kalm en volg die instruksies van die bemanningslede as ’n noodsituasie ontstaan. Gaan na die naaste nooduitgang as die vliegtuig ontruim moet word, en laat jou besittings agter.

ONTRUIM DIE VLIEGTUIG VERSIGTIG. Moenie plat op die glybaan gaan sit nie, maar spring eerder voete eerste daarop. Vou jou arms oor jou bors. Hou jou bene en voete bymekaar, en trek skoene met skerp hake uit. Wanneer jy op die grond is, moet jy van die vliegtuig af wegbeweeg, en wees op die uitkyk vir noodvoertuie.

Kan dit ’n verskil maak as ’n mens hierdie riglyne volg? Ja! “Nie alle vliegtuigongelukke is noodlottig nie”, sê die nuusbrief Intercom van die Federale Lugvaartadministrasie. Dit sê verder: “Ongeveer 50 persent van alle sterfgevalle in handelslugvaart vind tydens ongelukke plaas wat ’n mens kan oorleef.”