Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Louis Braille—Bring lig na gevangenes van die duisternis

Louis Braille—Bring lig na gevangenes van die duisternis

Louis Braille—Bring lig na gevangenes van die duisternis

HOE kosbaar is die vermoë om te lees en skryf vir jou? Party neem dit as vanselfsprekend aan, maar om te kan lees en skryf, is die grondslag van die leerproses. As die vermoë om die geskrewe woord te ontsluit, weggeneem word, is die sleutel tot ’n groot skatkamer van kennis verlore.

Die geskrewe woord was honderde jare lank ontoeganklik vir die blindes. Maar gedurende die 19de eeu het besorgdheid oor hulle lot ’n ernstige jong man beweeg om ’n kommunikasiemetode te ontwikkel wat ’n nuwe deur vir homself en miljoene ander oopgemaak het.

Hoop spruit voort uit tragedie

Louis Braille is in 1809 in die dorp Coupvray in Frankryk gebore, ongeveer 40 kilometer van Parys af. Sy vader, Simon-René Braille, was ’n tuiemaker. Miskien het die jong Louis dikwels in sy vader se werkswinkel gespeel. Maar ’n verskriklike ongeluk het eendag hier plaasgevind. Louis het ’n skerp voorwerp—moontlik ’n els—gegryp en dit per ongeluk in sy oog gesteek. Die skade was onherstelbaar. Om die situasie nog erger te maak, het die infeksie kort daarna na sy ander oog versprei. Louis was maar drie jaar oud toe hy heeltemal blind geword het.

Louis se ouers en die pastoor, Jacques Palluy, het die beste van die situasie probeer maak en gereël dat Louis klasse by die plaaslike skool bywoon. Louis het baie van wat hy gehoor het, ingeneem. Trouens, party jare was hy selfs eerste in sy klas! Maar daar was beperkings op wat ’n blinde kon leer deur metodes te gebruik wat ontwerp is vir mense wat kan sien. Gevolglik is Louis in 1819 by die Nasionale Instituut vir Blinde Kinders ingeskryf.

Die stigter van die instituut, Valentin Haüy, was een van die eerstes wat ’n program op die been gebring het om die blindes te help lees. Sy begeerte was om die algemene opvatting te bestry dat blindheid mense verhinder om by ’n formele opvoeding baat te vind. Haüy se vroeë eksperimente het behels dat groot verhewe letters op dik papier gemaak word. Hoewel dit primitief was, het hierdie pogings saadjies geplant wat later sou wortelskiet.

Braille het geleer hoe om die groot reliëfletters in die boeke van Haüy se klein biblioteek te lees. Hy het egter besef dat hierdie leermetode stadig en onprakties was. Letters is immers vir die oë ontwerp—nie vir die vingers nie. Gelukkig sou iemand anders wat ook van hierdie beperkings bewus was weldra op die toneel verskyn.

’n Idee uit ’n onverwagse bron

In 1821, toe Louis Braille net 12 jaar oud was, het Charles Barbier, ’n afgetrede artilleriekaptein, die instituut besoek. Daar het hy ’n vorm van kommunikasie bekend gestel wat nagskrif, en later sonografie, genoem is. Nagskrif is vir gebruik op die slagveld ontwikkel. Dit was ’n taktiele kommunikasiemetode waarin knoppies gebruik is wat in ’n reghoek van ses knoppies in hoogte en twee knoppies in wydte gerangskik is. Hierdie idee om ’n kode te gebruik om woorde foneties voor te stel, het by die skool byval gevind. Braille het hom geesdriftig op hierdie nuwe benadering toegelê en het dit selfs verbeter. Maar Braille moes volhard om die stelsel werklik prakties te maak. Hy het in sy dagboek geskryf: “As my oë my nie van mense en gebeure, idees en opvattings kan vertel nie, moet ek ’n ander manier vind.”

Vir die volgende twee jaar het Braille dus met vasbeslotenheid gewerk om die kode te vereenvoudig. Uiteindelik het hy ’n verbeterde en sierlike metode ontwikkel wat gebaseer is op ’n sel wat net drie knoppies hoog en twee knoppies wyd is. In 1824, op 15-jarige ouderdom, het Louis Braille ’n stelsel van sespuntselle voltooi. Kort daarna het Braille by die instituut onderwys begin gee, en in 1829 het hy sy unieke kommunikasiemetode gepubliseer wat vandag onder sy naam bekend staan. Met die uitsondering van klein verfynings is sy stelsel tot vandag toe nog wesenlik onveranderd.

Braille word wêreldwyd beskikbaar gestel

In die laat 1820’s is die eerste boek uitgegee wat Braille se knoppiestelsel verduidelik het; maar dit het lank geneem voordat die uitvinding algemeen aanvaar is. Selfs by die instituut is die nuwe kode eers in 1854 amptelik aangeneem—twee jaar ná Braille se dood. Maar hierdie metode, wat ander metodes ver oortref het, het uiteindelik veld gewen.

Verskeie organisasies druk braillelektuur. Die Wagtoringgenootskap het sulke materiaal in 1912 begin beskikbaar stel, toe daar nog aan die standaardisering van die kode vir die Engelssprekende wêreld gewerk is. Met behulp van moderne brailledrukmetodes druk die Genootskap miljoene bladsye elke jaar in agt tale, en hulle versprei dit in meer as 70 lande. Die Genootskap het onlangs hulle produksiekapasiteit verdubbel om aan die groeiende vraag na Bybellektuur in braille te voldoen.

Vandag ontsluit die eenvoudige, goed ontwerpte braillekode die geskrewe woord vir miljoene mense met gesigsgebreke—danksy die toegewyde werk van ’n jong seun byna 200 jaar gelede.

[Venster/Prente op bladsy 15]

HOE DIE BRAILLEKODE WERK

Braille word met een of al twee hande van links na regs gelees. Daar is 63 moontlike puntekombinasies in elke braillesel. Gevolglik kan al die letters en leestekens van die meeste alfabette met ’n spesifieke kombinasie van knoppies voorgestel word. Verskeie tale gebruik ’n verkorte vorm van braille, waarin party selle letterkombinasies of hele woorde voorstel wat dikwels voorkom. Sommige mense is so goed in braille dat hulle tot 200 woorde per minuut kan lees!

[Prente]

Die eerste tien letters gebruik slegs die knoppies in die boonste twee rye

Vir die volgende tien letters word die onderste linkerknoppie by elk van die eerste tien letters gevoeg

Vir die laaste vyf letters word al twee onderste knoppies by die eerste vyf letters gevoeg; die letter “w” is ’n uitsondering omdat dit later by die Franse alfabet gevoeg is

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Portret: © Maison Natale de Louis Braille - Coupvray, France/Photo Jean-Claude Yon