Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Olimpiese ideale in ’n krisis

Olimpiese ideale in ’n krisis

Olimpiese ideale in ’n krisis

TOE baron Pierre de Coubertin voorgestel het dat die Olimpiese Spele weer in die lewe geroep word, het hy ’n paar edele ideale uiteengesit. Trouens, die hedendaagse Olimpiese spreuk, wat aan Coubertin toegeskryf word, sê: “Die belangrikste saak by die Olimpiese Spele is nie om te wen nie, maar om deel te neem . . . Oorwinning is nie waaroor dit gaan nie, maar dat ’n mens hard gestry het.”

Coubertin het geglo dat deelname aan heilsame kompetisie sterk karakter kan opbou, goeie oordeel kan ontwikkel en eerlikheid kan bevorder. Hy het selfs van ’n ‘godsdiens van sport’ gepraat. Hy het gemeen dat die Spele mense kan leer om in vrede te lewe.

Maar teen die tyd dat Coubertin in 1937 gesterf het, het alle hoop hierop verdwyn. Die Spele is reeds een keer as gevolg van ’n Wêreldoorlog uitgestel, en spanning het opgebou vir nog ’n groot konflik. Vandag is die Olimpiese ideale in ’n selfs ernstiger krisis. Waarom is dit die geval?

Die Olimpiese Spele en dwelmmiddels

Atlete gebruik al dekades lank middels wat hulle prestasies verbeter om ’n mededingende voorsprong te kry, en die Olimpiese Spele het nie hierdie probleem vrygespring nie. Trouens, die gebruik van verbode middels onder Olimpiese atlete is vandag, 25 jaar ná die ingebruikneming van skynbaar streng dwelmtoetse, nog steeds ’n probleem.

Party atlete gebruik steroïede om ’n voorsprong te kry. Ander gebruik weer stimulante. Menslike groeihormone is gewild onder naellopers en ander kragatlete omdat dit die atlete help om vinnig ná strawwe oefeninge te herstel, en dit bevorder spiersterkte. ’n Geneties gemanipuleerde vorm van eritropoiëtien is weer die middel wat baie langafstandhardlopers, swemmers en langafstandskiërs verkies omdat dit hulle groter uithouvermoë gee deur die produksie van rooi bloedselle te stimuleer.

Dit is te verstane dat dr. Robert Voy, voormalige hoof van dwelmtoetse vir die Amerikaanse Olimpiese Komitee, die atlete “’n wandelende laboratorium” noem. Hy voeg by: “Die Spele het ’n toetsterrein vir wetenskaplikes, skeikundiges en onetiese dokters geword.” Wat van dwelmtoetse? Dr. Donald Catlin, direkteur van ’n dwelmtoetslaboratorium in die Verenigde State, sê: “Die gesofistikeerde atleet wat verbode middels wil gebruik, het oorgeskakel na middels waarvoor ons nie kan toets nie.”

Omkopery en korrupsie

Aangesien net ’n handjie vol stede kan bekostig om ’n bod te maak om die gasheer vir die Spele te wees, sal party hulle deur niks laat stuit om die bod te wen nie. Byna twee jaar gelede was die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) by ’n skandaal betrokke. Aantygings dat IOK-lede omkoopgeld van tot R2,8 miljoen betaal is toe Salt Lake City ’n suksesvolle bod op die 2002-Winterspele gemaak het, het die eerlikheid van diegene wat by die keuringsproses betrokke was in die gedrang gebring.

Die skeidslyn tussen gasvryheid en skaamtelose omkopery vervaag dikwels wanneer potensiële gasheerstede duur geskenke gee aan diegene wat die gasheerstad moet kies. Tot 20 lede van die IOK was by die Salt Lake City-skandaal betrokke, en 6 van hulle is uiteindelik geskors. Wat die Spele in 2000 in Australië betref, alle pogings om ’n beeld te skep wat bo verdenking is, het verdwyn toe die voorsitter van die Australiese Olimpiese Komitee erken het: “Wel, ons het nie [die bod] gewen net omdat ons stad so mooi is en ons sportfasiliteite so goed is nie.”

Die weelderige lewenstyl van party senior IOK-lede het verdere skeptisisme uitgelok. Wyle Tommy Keller, wat die Switserse hoof van die Internasionale Roei-federasie was, het eenkeer gesê dat sommige sportamptenare volgens hom die Olimpiese Spele as ’n manier sien om “hulle eietrots te bevredig”. Hy het bygevoeg dat “die najaging van geld en die bevrediging van persoonlike ambisies” blykbaar die dryfveer is.

Kragtige bemarking

Niemand kan ontken dat daar groot geld by die Spele betrokke is nie. Dit het nog altyd hoë televisiekyksyfers en winsgewende advertensiepakkette opgelewer, wat die borgskap van die Spele ’n kragtige bemarkingshulpmiddel maak.

Neem die Olimpiese Spele van 1988, waarvoor nege multinasionale maatskappye altesaam meer as R700 miljoen vir wêreldwye bemarkingsregte aan die IOK betaal het. Die Somerspele van 1996 in Atlanta het altesaam R2,8 miljard vir dieselfde regte ingebring. En dit sluit nie televisieregte in nie. ’n Amerikaanse TV-netwerk het meer as R24 miljard betaal vir die regte om die Olimpiese Spele tussen 2000 en 2008 uit te saai, en volgens berig sal 11 wêreldwye borge elk R581 miljoen oor ’n tydperk van vier jaar moet betaal. As gevolg hiervan het sommige mense al gesê dat die Olimpiese Spele, al het dit voorheen die ideaal van menslike voortreflikheid gesimboliseer, vandag hoofsaaklik ’n geldmakery is wat hebsug by mense simboliseer.

Wat het skeef geloop?

Party kenners sê dat die krisis van die Olimpiese Spele teruggespoor kan word na twee belangrike verwikkelinge wat in die vroeë 1980’s begin het. Die eerste was die besluit om individuele internasionale sportfederasies die reg te gee om te bepaal watter atlete aan die Spele kan deelneem. Terwyl die IOK vroeër deelname tot amateurs beperk het, het die federasies toe professionele atlete begin toelaat om in hulle onderskeie Olimpiese nommers deel te neem. Maar die professionele atlete het ook met hulle professionele gesindhede gekom. Atlete verdien nie geld met advertensies deur bloot ‘hard te stry’ nie, en dit was nie lank voordat wen alles geword het nie. Dit is nie verbasend dat dit die gebruik van opkikkers aanmoedig nie.

Die tweede belangrike verwikkeling het in 1983 plaasgevind toe die IOK probeer munt slaan het uit wat hulle bemarkingsdeskundige “die waardevolste onbenutte simbool in die wêreld” genoem het—die Olimpiese ringe. Dit het die klimaat van onbeheerste kommersialisme aangewakker wat kenmerkend van die Spele geword het. Jason Zengerle het opgemerk: “Ondanks alles wat gesê word oor die bevordering van vrede en die vereniging van volke van die wêreld . . . , verskil die Spele in werklikheid geensins van . . . enige ander vertonerige sportgeleentheid nie.” Beteken dit egter dat die ideale wat deur die Olimpiese beweging voorgestaan word onbereikbaar is?

[Venster/Prent op bladsy 5]

FEITE OOR DIE OLIMPIESE SPELE

→ Die Olimpiese simbool bestaan uit vyf ringe, wat die vastelande Afrika, Asië, Australië, Europa asook Noord- en Suid-Amerika verteenwoordig. Hulle is inmekaargeskakel om die vriendskap op sportgebied tussen alle volke te simboliseer.

→ Die Olimpiese leuse is Citius, Altius, Fortius—Latyns vir “vinniger, hoër, moediger”. Die alternatiewe vertaling “vinniger, hoër, sterker” is deur ’n opvoedkundige van Frankryk uitgedink.

→ Die Olimpiese vlam het gedurende die antieke Spele by die altaar van Zeus gebrand. Vandag word ’n fakkel deur die son se strale by Olimpië aangesteek, en dan word dit geneem na waar die Spele gehou word.

→ Die Olimpiese tradisie is duisende jare oud. Die eerste opgetekende Olimpiese Spele het in 776 v.G.J. plaasgevind, maar baie sê dat die Spele ten minste vyf eeue vroeër ontstaan het.

[Erkenning]

AP Photo/Eric Draper

[Venster/Prent op bladsy 6]

SYDNEY SE OLIMPIESE TERREIN

Sedert September 1993, toe Sydney die bod vir die Olimpiese Spele vir 2000 gewen het, is die stad druk besig met voorbereidingswerk om tienduisende besoekers te ontvang. Baie werk is gedoen om die terrein skoon te maak, wêreldklasfasiliteite te bou en ou vullishope in vleilande, parke en riviermondings te verander, wat 760 hektaar dek.

Die Olimpiese Dorp in Sydney, wat gebou is om al die atlete en amptenare te huisves, is die grootste dorp ter wêreld wat sonenergie gebruik. Die SuperDome—die grootste binnenshuise sport- en vermaaklikheidsentrum in die Suidelike Halfrond—het die grootste privaat sonpaneel in Australië, en dit gebruik energie wat so te sê geen kweekhuisgasse vrystel nie.

Agter die SuperDome word die horison deur die swierige boë en inmekaargevlegte balke van die Olimpiese Stadion oorheers. Dit het R3 miljard gekos om te bou en is die grootste Olimpiese stadion ter wêreld, met 110 000 sitplekke. Vier Boeing 747-vliegtuie sal sy aan sy onder die stadion se hoofboog kan pas! Deursigtige dakteëls beskerm toeskouers teen die son se ultraviolet strale. “’n Paar maande lank in 2000”, het Alan Patching, hoofbestuurder van die stadion, gesê, “sal hierdie plek die hart van Australië wees.” Toe het hy ’n voorspelling gewaag: “Ná die spele sal dit ’n ikoon word, soos die operagebou.”

[Prent op bladsy 4]

Baron Pierre de Coubertin

[Erkenning]

Culver Pictures

[Foto-erkenning op bladsy 7]

AP Photo/ACOG, HO