Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van Olimpië na Sydney

Van Olimpië na Sydney

Van Olimpië na Sydney

BAIE beskou die Olimpiese Spele as die wêreld se belangrikste atletiekkompetisie. “Geen ander sportgebeurtenis trek soveel aandag nie”, sê The World Book Encyclopedia. “Etlike miljoene mense woon die Spele by, en honderdmiljoene mense regoor die wêreld kyk daarna op televisie.”

’n Oorsig van die Spele se geskiedenis

Die Olimpiese Spele het duisende jare gelede ontstaan. Die antieke Grieke het geglo dat atletiek die geeste van die dooies behaag en het nasionale feeste gehou wat godsdiens en sport gemeng het. Dit het die Ismiese, Nemeïese, Olimpiese en Pythiese spele ingesluit. Die Olimpiese Spele is as die belangrikste hiervan beskou, want dit is ter ere van Zeus gehou, wat die Grieke as die koning van die gode beskou het.

Klaarblyklik het die vroeë Spele net uit een nommer bestaan, ’n wedloop. Maar mettertyd het dit ander nommers, soos strydwawedrenne en strawwe uithoutoetse, ingesluit. Besoekers van heinde en verre het die geleentheid bygewoon. Om hulle veiligheid te verseker, is ’n wapenstilstand vir ’n tydperk voor sowel as ná die Spele gesluit.

Toe Rome aan bewind gekom het, het die gewildheid van die Spele begin afneem. Trouens, baie Romeine het atletiek met ’n mate van minagting bejeën. Een uitsondering was keiser Nero. Hy het in 67 G.J. aan die Spele deelgeneem en elke nommer gewen waaraan hy deelgeneem het. Dit lyk of die ander deelnemers geweet het wat goed was vir hulle! In elk geval, teen 394 G.J. is die Spele beëindig.

Die herlewing van die Spele

Ongeveer 15 eeue later het die opgrawings van Duitse argeoloë op die plein van antieke Olimpië hernieude belangstelling in die Spele aangewakker. Toe het baron Pierre de Coubertin, ’n 29-jarige Fransman, voorgestel dat die Spele weer in die lewe geroep word. Gevolglik is die eerste moderne Olimpiese Spele in 1896 in Atene gehou. Van daardie jaar af is die Spele met min uitsonderings elke vier jaar gehou.

Vandag sien baie met afwagting na die Spele uit. Vanjaar sal dit van 15 September tot 1 Oktober in Sydney, Australië, plaasvind. Dit sal 28 sportsoorte, 292 nommers en 635 sessies insluit, en meer as 10 300 atlete sal daaraan deelneem.

Maar in onlangse jare is die Spele in omstredenheid gedompel. Baie mense sê selfs dat die Olimpiese ideale in ’n krisis is. ’n Kykie agter die skerms sal insiggewend en verontrustend wees.

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Scala/Art Resource, NY