Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van vernietigende vulkaan tot rustige eiland

Van vernietigende vulkaan tot rustige eiland

Van vernietigende vulkaan tot rustige eiland

TOE ons boot sy laaste draai neem op pad na die hawe van die Griekse eiland Santorini, word ons deur ’n asemrowende toneel begroet. ’n Hoë muur van dreigende kranse styg amper 300 meter bo die see uit. Spierwit huise staan reg op die rand van die kranse. Die unieke vorm van die eiland, die afwesigheid van enige tipiese eilandstrande, die steil kranse—dit laat ’n mens dink dat daar iets buitengewoons hier gebeur het. En daar het ook. Die eiland Santorini is die oorblywende oostelike helfte van ’n vulkaan wat uitgebars het, en ons vaar in waters wat sy krater gevul het!

Die ontstaan van ’n eiland

In antieke tye is die eiland Santorini—wat vandag ook as Santorin of Thíra bekend staan—Strongyle genoem, wat “Rond” beteken. En die eiland was ook rond. Maar volgens kenners het ’n hewige vulkaniese uitbarsting byna 3 500 jaar gelede die vorm van die eiland verander. Blykbaar het ’n groot ontploffing ’n wye krater in die middel van die eiland oopgeblaas, wat ’n diep bekken gevorm het, en die see het ingestroom en dit gevul.

Sommige vulkanoloë spekuleer dat die slag van die ontploffing in Europa, Asië en Afrika gehoor is en dat dit geboue tot 150 kilometer daarvandaan platgeslaan het. Die verstikkende as, sê hulle, het sonlig etlike dae lank oor die hele Middellandse See versper. Altesaam 80 vierkante kilometer van die eiland het in die lug verdwyn of in die see geval. Alle lewe is uitgewis.

Wat van Strongyle oorgebly het, is mettertyd deur nedersetters van die vasteland bewoon, en die eiland is ’n ander naam, Calliste, gegee, wat “Mooiste” beteken. Maar die nedersetters het gevind dat die lewe op ’n vulkaan letterlik onstabiel is. Tussen 198 v.G.J. en 1950 G.J. het 14 uitbarstings plaasgevind. Toe het ’n aardbewing in 1956 baie van die eiland se huise vernietig. “Die grond het geskud en soos jellie gebewe”, sê Kyra Eleni, ’n bejaarde vrou wat daardie ramp oorleef het. “Voor die ingang van my huis, wat oor ’n krans uitgekyk het, was daar ’n gruispaadjie. Dit het skielik na die see toe weggeval sodat my huis amper in die lug gehang het! Ons moes daardie huis verlaat en ’n nuwe huis op vaster grond bou.”

Verwoeste dorpies is gou herbou, meestal deur buitelanders. Vandag word Santorini elke somer deur duisende mense besoek. Buiten Santorini bestaan die kleiner eiland Thirasía en die onbewoonde eilandjie Aspronísi ook nog.

Daarbenewens is daar twee vulkaniese eilandjies—Néa Kaméni en Palaía Kaméni—in die middel van Santorini se krater. Vulkaniese aktiwiteit kan nog op hierdie onlangs gevormde eilandjies gesien word wanneer die ‘slapende reus’ van tyd tot tyd wakker word en dun straaltjies rook uitblaas. Die algemene vorm van Santorini verander gedurigdeur, sodat die kaart van die eiland van tyd tot tyd oorgeteken moet word.

Op die rand van die afgrond

Op die rand van Santorini se krater is daar geen hange nie, net kranse. Die loodregte landmassas bied die eilandbewoners ’n eenvoudige manier om huise te bou: Grawe ’n horisontale tonnel in die grond, bou ’n muur voor die ingang en trek in. Ja, die meeste van die huise wat op die krater gevind word is uit rots gekap.

Voor al hierdie huise is ’n binnehof, of balkon, wat oor die krater uitkyk. Die binnehof van die boonste huis is die dak van die onderste een. ’n Mens kan asemrowende sonsondergange van hierdie balkonne af geniet en die purper son bewonder wanneer dit stadig en majestueus in die see verdwyn. Party binnehowe het ook ’n kombuisie, een of twee hoenderhokke en geurige kruie en blomme wat in potte geplant is.

Wat veral kenmerkend van die dorpies in hulle geheel is, is die feit dat daar nie een reguit lyn in hulle te sien is nie. Nie eers die kelders is simmetries nie. Hierdie verskeidenheid van onreëlmatige lyne en kurwes, wat ontmoet en die mees onverwagse patrone vorm, versag die voorkoms van die groepies geboue, wat verbasend is op so ’n ruwe, rotsagtige eiland.

Santorini is baie droog. Die enigste water wat beskikbaar is, is die opgegaarde reënwater wat in tenks gehou word. Maar die bogrond is vrugbaar. Gevolglik bring die klein binneland van die eiland ’n verskeidenheid gewasse voort.

Vir die toeris sowel as vir die plaaslike mense is Santorini ’n unieke en skitterende voorbeeld van die prag van ons planeet.

[Venster op bladsy 18]

ATLANTIS EN SANTORINI

’n Mite wat dalk in Egipte ontstaan het, in klassieke Griekse geskrifte voortbestaan het en toe in Middeleeuse tradisies van Arabiese aardrykskundiges verskyn het, is dié van die verlore vasteland, eiland of stad Atlantis. Atlantis het glo as gevolg van aardbewings en vloede in die see verdwyn. Party argeoloë meen dat hierdie mite sy ontstaan te danke het aan die vulkaniese uitbarsting van Santorini.

Tydens opgrawings wat in 1966/67 hier begin is, is daar op ’n ryk, koninklike Minoïese stad afgekom wat onder die vulkaniese puin begrawe en bewaar is net soos dit ten tye van die uitbarsting was. Dit lyk of die inwoners vroeë waarskuwings gekry het en die gebied betyds verlaat het. Sommige navorsers spekuleer dat die onwilligheid van die inwoners om te erken dat hulle eertydse pragtige stad weg was die legende laat ontstaan het van ’n florerende Atlantis wat sy stadslewe op die bodem van die see voortgesit het.

[Prent op bladsy 16]

Santorini

[Prent op bladsy 17]

Jehovah se Getuies geniet dit om op Santorini te getuig

[Prent op bladsy 18]

’n Uitsig oor die Egeïese See van Santorini se terrasse af