Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die soeke na ’n volmaakte samelewing

Die soeke na ’n volmaakte samelewing

Die soeke na ’n volmaakte samelewing

DIT sal wonderlik wees om ’n beter wêreld te sien vol mense wat vry is van pyn, siekte en gebreke! ’n Wêreldwye samelewing sonder misdaad of onenigheid. ’n Mensegesin sonder die dood.

Dit sal natuurlik groot veranderinge in die mensdom self verg om sulke doelwitte te bereik. Idees oor maniere om die menseras te verbeter, is niks nuuts nie. Sowat 2 300 jaar gelede het die Griekse filosoof Plato geskryf: “Die beste van beide geslagte moet so dikwels as moontlik met die beste verenig word, en die minderwaardiges so min as moontlik met die minderwaardiges.” Dit was egter eers in onlangser tye dat pogings om die mensegesin te veredel in alle erns aangepak is. Hierdie vakrigting is eugenetika genoem.

Die term “eugenetika” is in 1883 deur sir Francis Galton, ’n Britse wetenskaplike en neef van Charles Darwin, geskep. Die term kom van Griekse woorde wat “welgebore” of “van edele herkoms” beteken. Galton het geweet dat verskeie blomme en diere sekere gewenste eienskappe deur selektiewe teling kan verkry. Kan die mensdom nie deur soortgelyke metodes verbeter word nie? Galton het geglo dit kan. Hy het geredeneer dat “’n wêreld van begaafdheid” geskep sou word as ’n breukdeel van die geld en die moeite wat dit kos om perde en beeste te teel, ingespan sou word om “die menseras te verbeter”.

Galton is deur Darwin se werke beïnvloed en het geredeneer dat dit tyd was vir mense om beheer oor hulle eie evolusie te neem. Gedurende die vroeë dekades van die 20ste eeu het Galton se idees baie gewild geword onder politici, wetenskaplikes en akademici in Europa sowel as in die Verenigde State. Die leier van ’n magtige nasie het die algemene opvattings van sy dag weerspieël en geskryf: “Die samelewing het nie die reg om uitvaagsels toe te laat om hulle soort voort te bring nie. . . . Enige groep boere wat nie hulle beste vee toelaat om aan te teel nie, en net die swakstes laat aanteel, sal as kranksinnig beskou word. . . . Eendag sal ons besef dat dit die vernaamste plig van die regte soort mense is om hulle bloed in die wêreld agter te laat en dat ons nie die reg het om die verkeerde soort mense te laat voortbestaan nie.” Hierdie woorde is deur die 26ste president van die Verenigde State, Theodore Roosevelt, geskryf.

By skoue en tentoonstellings in Brittanje sowel as Amerika is die wette van genetiese oorerflikheid dikwels op ’n vertikale bord voorgestel waarop ’n reeks opgestopte marmotte vertoon is. Hulle is gerangskik om te toon hoe die kleur van die pels van een geslag na die volgende oorgeërf word. Die punt wat die uitstallings probeer maak het, is in byskrifte verduidelik. Een byskrif het gesê: “Ongewenste kenmerke by mense soos swaksinnigheid, epilepsie, misdadigheid, kranksinnigheid, alkoholisme, armoede en baie ander is familietrekke en word op presies dieselfde manier as kleur by marmotte oorgeërf.” ’n Ander uitstallingsbord het gevra: “Hoe lank sal ons as Amerikaners nog so nougeset wees oor die stamboom van ons varke en hoenders en beeste—en dan die afkoms van ons kinders aan die toeval oorlaat?”

Eugenetika in aksie

Hierdie idees was nie blote intellektuele oefeninge nie. Tienduisende “ongewenstes” is in sowel Noord-Amerika as Europa gesteriliseer. Die definisie van wie of wat ongewens was, het natuurlik in ’n groot mate afgehang van die beskouings van diegene wat die besluite geneem het om sterilisasie op ander af te dwing. In die staat Missouri, VSA, is ’n wet byvoorbeeld voorgestel wat sou vereis dat mense wat “skuldig bevind is aan moord, verkragting, struikrowery, hoenderdiefstal, bomaanvalle of motordiefstal” gesteriliseer word. In hulle misplaaste poging om ’n meesterras in een geslag voort te bring, het Nazi-Duitsland ’n stap verder gegaan. Ná die gedwonge sterilisasie van tot 225 000 mense is miljoene ander—Jode, Sigeuners, die gebreklikes en ander “ongewenstes”—onder die skyn van eugenetika vermoor.

Weens die barbaarsheid van die Nazi-era het eugenetika ’n negatiewe konnotasie gekry, en baie het gehoop dat hierdie studieveld te ruste gelê is saam met die miljoene wat in die naam daarvan gesterf het. Maar in die 1970’s het die nuus versprei van wetenskaplike vooruitgang in molekulêre biologie, wat toe nog in sy kinderskoene gestaan het. Party het gevrees dat hierdie vooruitgang weer die idees sou laat herlewe wat Europa en Noord-Amerika vroeër in die eeu mislei het. In 1977 het ’n vooraanstaande bioloog sy kollegas byvoorbeeld by ’n forum van die Nasionale Akademie vir Wetenskap oor rekombinante DNS gewaarsku: “Hierdie navorsing gaan ons nog ’n stap nader bring aan die genetiese manipulering van mense. Dit is waar hulle uitwerk hoe ons kinders met ideale eienskappe kan voortbring. . . . Die laaste keer het die ideale kinders blonde hare, blou oë en Ariese gene gehad.”

Baie sal dit vandag as belaglik beskou om die vooruitgang in genetiese manipulering met Hitler se program van eugenetika te vergelyk. Sestig jaar gelede het mense heftig op rassesuiwerheid aangedring. Vandag praat mense oor die verbetering van gesondheid en die lewensgehalte. Die ou eugenetika het sy oorsprong in die politiek gehad en is deur onverdraagsaamheid en haat aangevuur. Die nuwe vooruitgang in genetiese navorsing word deur kommersiële belange en verbruikers se soeke na beter gesondheid aangevuur. Maar hoewel daar groot verskille is, klink die doelwit om mense na ons eie genetiese voorkeure te vorm dalk baie soos die ou eugenetika.

Verandering van die samelewing deur die wetenskap

Terwyl jy hierdie woorde lees, is kragtige rekenaars besig om die menslike genoom—die volledige instruksies in ons gene wat bepaal hoe ons groei en in groot mate bepaal wat ons is—sistematies te karteer. Die tienduisende gene in die menslike DNS word noukeurig deur hierdie rekenaars gekatalogiseer. (Sien die venster “DNS-navorsers”.) Wetenskaplikes voorspel dat die inligting, wanneer dit eers ingesamel en gestoor is, nog ver in die toekoms gebruik sal word as ’n baie belangrike bron om menslike biologie en geneeskunde te verstaan. En wetenskaplikes hoop dat dit moontlik sal wees om foutiewe gene te herstel of te vervang namate die geheime van die menslike genoom ontrafel word.

Dokters hoop dat genetiese navorsing nuwe soorte veilige en tog kragtige geneesmiddels sal oplewer om siektes te voorkom en te bestry. Sulke tegnologie sal dit ook dalk vir jou dokter moontlik maak om jou genetiese profiel na te gaan om vooraf vas te stel watter geneesmiddel die geskikste vir jou sal wees.

Buiten hierdie mediese voordele sien party genetiese manipulering as ’n manier om maatskaplike probleme op te los. Tussen die Tweede Wêreldoorlog en die vroeë 1990’s het akademici aangevoer dat maatskaplike probleme verminder kan word deur ekonomieë en instellings te hervorm en die omgewing waarin mense lewe te verbeter. Maar in onlangse jare het maatskaplike probleme vererger. Baie mense glo dat die sleutel tot sulke probleme op genetiese vlak gevind kan word. En sommige glo nou dat gene ’n groter invloed op individue en groepe se gedrag het as die omgewing.

Wat van die dood? Volgens navorsers lê selfs die oplossing van hierdie probleem in die manipulering van ons DNS. Wetenskaplikes het reeds die lewensduur van vrugtevlieë en wurms verdubbel deur gebruik te maak van tegnieke wat hulle sê miskien eendag op mense gebruik kan word. Die hoof van Human Genome Sciences Inc. het gesê: “Dit is die eerste keer dat menslike onsterflikheid moontlik lyk.”

Ontwerperbabas?

Die indrukwekkende verslae van wat gedoen word en wat nog in toekomstige jare gedoen kan word, kan ’n mens maklik die huidige beperkings en die potensiële probleme van die nuwe tegnologie oor die hoof laat sien. Kom ons kyk weer na die kwessie van babas om die punt toe te lig. Genetiese toetse is reeds baie algemeen. Die gebruiklikste metode dateer uit die 1960’s. ’n Dokter steek ’n naald in die baarmoeder van ’n swanger vrou en onttrek ’n monster van die vrugwater wat die fetus omsluit. Die vloeistof kan dan getoets word om te sien of die fetus enige van die tientalle genetiese afwykings het, onder meer Down-sindroom en spina bifida. Hierdie prosedure word gewoonlik ná die 16de week van swangerskap uitgevoer. ’n Onlangser prosedure verskaf inligting oor die embrio se genetiese samestelling tussen die sesde en tiende week van swangerskap.

Hierdie prosedures stel dokters in staat om talle afwykings te identifiseer, maar slegs ongeveer 15 persent van hulle kan reggestel word. Wanneer toetse ’n genetiese probleem aan die lig bring of ’n twyfelagtige resultaat gee, moet talle ouers ’n pynlike besluit neem—moet die fetus deur ’n aborsie afgedryf word of moet die kind in die wêreld gebring word? The UNESCO Courier sê: “Ten spyte van die toename in DNS-toetse—wat almal gepatenteer en winsgewend is—het genetika tot dusver nie die grootpraterige beloftes van geenterapie nagekom nie. Dokters toets vir toestande en gebreke wat hulle nie kan behandel nie. Daarom word aborsie dikwels as behandeling voorgehou.”

Namate biotegnologie doeltreffender word, verwag dokters natuurlik om die genetiese afwykings wat tot verskillende siektes aanleiding gee of mense vatbaarder daarvoor maak met baie groter doeltreffendheid op te spoor en reg te stel. Daarbenewens hoop wetenskaplikes dat hulle uiteindelik kunsmatige chromosome in ’n menslike embrio sal kan inplant om beskerming teen siektes soos Parkinson se siekte, vigs, suikersiekte sowel as prostaat- en borskanker te bied. ’n Kind sal dan met ’n versterkte immuunstelsel gebore word. Daar is ook die moontlikheid van toekomstige geneesmiddels wat die ontwikkelende embrio sal “verbeter”, miskien deur gene te manipuleer om intelligensie te verhoog of geheue te verbeter.

Hoewel selfs die mees optimistiese wetenskaplikes besef dat dit nog lank sal wees voordat ouers die soort kind wat hulle graag wil hê uit ’n katalogus sal kan kies, het die moontlikheid om die kind van jou drome te hê by baie mense groot byval gevind. Party voer aan dat dit onverantwoordelik sou wees om nie die tegnologie te gebruik om genetiese afwykings uit te skakel nie. Buitendien, redeneer hulle, as daar niks mee verkeerd is om jou kind na die beste skole en die beste dokters te stuur nie, waarom dan nie ook probeer om die bes moontlike baba te hê nie?

Kommer oor die toekoms

Maar daar is ander wat hulle kommer uitspreek. Die boek The Biotech Century sê byvoorbeeld: “As suikersiekte, sekelselanemie en kanker voorkom gaan word deur die genetiese samestelling van mense te verander, waarom dan nie ook dieselfde doen met minder ernstige ‘afwykings’ nie: bysiendheid, kleurblindheid, disleksie, vetsug, linkshandigheid? Trouens, wat sal ’n gemeenskap daarvan weerhou om te besluit dat ’n sekere velkleur ’n afwyking is?”

Versekeringsmaatskappye sal gretig wees om genetiese inligting te verkry. Sê nou ’n voorgeboortelike toets toon dat daar moontlik ’n probleem is? Sal versekeringsmaatskappye druk op die moeder uitoefen om ’n aborsie te hê? Kan hulle dekking weier as sy nee sê?

Chemiese, farmaseutiese en biotegnologiese maatskappye ding mee om gene en organismes te patenteer, asook maniere om hulle te manipuleer. Die dryfveer is natuurlik finansieel—om geld uit die tegnologie van die toekoms te maak. Baie bio-etici is bang dat dit tot “verbruikers-eugenetika” kan lei, waarin ouers onder druk geplaas kan word om “geneties goedgekeurde” kinders te kies. Dit is maklik om te sien hoe reklame ’n belangrike rol in so ’n verwikkeling kan speel.

Dit is natuurlik onwaarskynlik dat die nuwe tegnologie in die armer wêrelddele vryelik beskikbaar sal wees. Baie wêrelddele het nie eers die mees basiese gesondheidsorg nie. Selfs in hoogs ontwikkelde lande sal geenterapie moontlik net vir die rykes beskikbaar wees.

’n Volmaakte samelewing

In die stortvloed van lektuur oor wat op die gebied van biotegnologie gedoen word, verskyn die uitdrukking “om God te speel” dikwels. Aangesien God die Ontwerper en Skepper van lewe is, is dit gepas om te ondersoek wat sy voorneme in verband met die soeke na volmaaktheid is. Die Bybelboek Genesis sê dat ‘God alles gesien het wat hy gemaak het, en—dit was baie goed’ (Genesis 1:31). Die eerste mensepaar was geneties volmaak. Dit was omdat hulle teen God in opstand gekom het dat hulle onvolmaaktheid en die dood oor hulleself en hulle nageslag gebring het.—Genesis 3:6, 16-19; Romeine 5:12.

Jehovah God wil ’n einde aan siekte, lyding en die dood sien. Hy het lank gelede voorsiening gemaak om die mensdom van hierdie probleme te red. Die Bybelboek Openbaring voorspel ’n tyd wanneer God in menseaangeleenthede sal ingryp. Aangaande daardie tyd lees ons: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” Hierdie verreikende veranderinge sal nie teweeggebring word deur die wetenskaplike deurbrake van mense nie, waarvan baie nie eers die bestaan van God erken nie, wat nog te sê hom loof. Nee, die vers gaan voort: “Die Een [Jehovah God] wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’”—Openbaring 21:4, 5.

[Lokteks op bladsy 5]

Ná die gedwonge sterilisasie van tot 225 000 mense in Nazi-Duitsland is miljoene ander “ongewenstes” onder die skyn van eugenetika vermoor

[Lokteks op bladsy 6]

Dokters hoop dat genetiese navorsing nuwe soorte veilige en tog kragtige geneesmiddels sal oplewer om siektes te voorkom en te bestry

[Lokteks op bladsy 11]

Nadat die skaap genaamd Dolly gekloon is, het wetenskaplikes tientalle individuele diere gekloon—almal van volwasse selle. Kan dieselfde tegnologie gebruik word om volwasse mense te kloon?

[Venster/Prente op bladsy 7]

Kan mense gekloon word?

In 1997 het ’n skaap met die naam Dolly wêreldwyd groot opslae in die nuus gemaak. Wat was so spesiaal omtrent Dolly? Sy was die eerste soogdier wat met welslae van ’n volwasse sel gekloon is, wat uit ’n ooi se melkklier geneem is. Dolly het dus ’n jonger “tweeling” van die skaap geword waaruit die sel geneem is. Voordat Dolly gekloon is, het wetenskaplikes al dekades lank diere uit embrionale selle gekloon. Min mense het gedink dat dit moontlik is om ’n sel van ’n volwasse soogdier te herprogrammeer om nog ’n dier na sy presiese genetiese beeld voort te bring. Die kloning van ’n volwasse sel maak dit moontlik om vooraf te sien hoe die nageslag sal lyk.

Die wetenskaplikes wat Dolly gekloon het se doel was om plaasdiere te verbeter as ’n waardevolle bron om farmaseutiese middels te produseer wat in hulle melk afgeskei word. Die verslag oor die wetenskaplikes se sukses het vir die eerste keer in Februarie 1997 in die wetenskaptydskrif Nature, verskyn, onder die titel “Lewensvatbare nageslag uit fetale en volwasse soogdierselle voortgebring”. Die media het gou groot belangstelling in die verslag en die implikasies daarvan getoon. Twee weke later het ’n foto van Dolly saam met die opskrif “Sal daar ooit nog ’n jy wees?” op die voorblad van die tydskrif Time verskyn. Dieselfde week het die voorbladreeks met die titel “Kan ons mense kloon?” in die tydskrif Newsweek verskyn.

Nadat Dolly gekloon is, het wetenskaplikes tientalle individuele diere gekloon—almal van volwasse selle. Kan dieselfde tegnologie gebruik word om volwasse mense te kloon? Ja, sê sommige bioloë. Is dit al gedoen? Nog nie. Ian Wilmut, die Britse wetenskaplike wat die span gelei het wat Dolly gekloon het, sê dat kloning tans “’n baie ondoeltreffende prosedure” is, aangesien die sterftesyfer onder fetusse ongeveer tien keer hoër is as by natuurlike voortplanting.

Maar party wonder: ‘Gestel iemand vervolmaak die tegniek en kloon, kom ons sê, ’n hele aantal Hitlers?’ In ’n poging om sulke vrese te stil, sê Wilmut dat ’n gekloonde mens deur sy omgewing beïnvloed sal word en ’n unieke persoonlikheid sal ontwikkel net soos in die geval van natuurlike tweelinge, selfs al sal ’n gekloonde kind geneties gesproke ’n identiese tweeling wees van die persoon van wie hy gekloon is.

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

DNS-navorsers

Die menseliggaam bestaan uit ongeveer 100 biljoen selle. Die meeste selle het ’n kern. Binne-in elke kern is 46 pakkies wat chromosome genoem word. Elke chromosoom bevat een styf opgedraaide, draadagtige molekule wat DNS genoem word. Binne-in die DNS is daar na raming tot 100 000 gene, wat amper soos dorpe en stede langs ’n groot hoofweg geleë is. Ons gene bepaal in groot mate elke kenmerk van ons liggaam—ons ontwikkeling in die baarmoeder, ons geslag en fisiese eienskappe sowel as ons ontwikkeling tot volwassenheid. Wetenskaplikes dink ook dat ons DNS ’n “klok” het wat bepaal hoe lank ons sal lewe.

Die DNS van diere en mense is merkwaardig eenders. Die genetiese samestelling van sjimpansees en mense verskil byvoorbeeld met net 1 persent. Daardie gaping is nogtans tien keer groter as die verskil tussen die DNS van enige twee mense. Dit is nietemin hierdie oneindig klein verskille wat verantwoordelik is vir die talle kenmerke wat elkeen van ons ’n unieke persoon maak.

Bietjie minder as tien jaar gelede het wetenskaplikes ’n ingewikkelde taak aangepak—om die presiese volgorde van chemiese eenhede in menslike DNS vas te stel. Hierdie taak, wat as die Menslike Genoomprojek bekend staan, is ambisieus en enorm, en dit sal miljarde rande kos. Die inligting wat ingesamel is, sal ongeveer 200 bundels kan vul, elk die grootte van ’n telefoonboek met 1 000 bladsye. Om al hierdie inligting te lees, sal ’n persoon 26 jaar lank, 24 uur per dag, moet lees!

Iets wat dikwels in die media oor die hoof gesien word, is die feit dat hierdie inligting nog ontleed sal moet word nadat dit ingesamel is. Nuwe instrumente sal nodig wees om die inligting te ontleed. Dit is een ding om gene te identifiseer; dit is ’n ander saak om te weet wat hulle doen en hoe hulle saam werk om ’n mens te maak. ’n Vooraanstaande bioloog het die Menslike Genoomprojek “die Heilige Graal van genetika” genoem. Die genetikus Eric Lander het egter ’n eenvoudiger beskrywing daarvan gegee: “Dit is ’n lys van onderdele”, sê hy. “As ek jou die lys van onderdele vir die Boeing 777 gegee het en dit het 100 000 onderdele, dink ek nie dat jy dit aanmekaar sal kan sit nie, en jy sal beslis nie verstaan waarom dit vlieg nie.”

[Diagramme]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SEL

KERN

CHROMOSOME

DNS

BASISPAAR