Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Julle het oor my lewe geskryf!’

‘Julle het oor my lewe geskryf!’

‘Julle het oor my lewe geskryf!’

Deur die jare heen het Ontwaak! artikels oor verskeie siektes gepubliseer. Die Ontwaak! is natuurlik nie ’n mediese tydskrif nie, en daarom beveel dit nie ’n sekere geneesmiddel bo ’n ander aan nie. Wanneer ’n siekte nogtans bespreek word, streef hierdie tydskrif daarna om die probleem te beskryf, te sê wat die oorsake is en skriftuurlike en praktiese raad tot voordeel van die siekes en hulle versorgers te voorsien.

Die artikel “Fibromialgie—Verstaan dit en leef daarmee saam” is byvoorbeeld in die nommer van 8 Junie 1998 gepubliseer en het wêreldwye reaksie uitgelok. Trouens, briewe van waardering is selfs ontvang baie maande nadat die artikel gepubliseer is. “Dit voel asof ’n berg van my skouers afgeneem is”, het een vrou geskryf. “Dit was asof julle oor my lewe geskryf het!” het iemand anders geskryf en bygevoeg: “Nou weet ek hoe om met hierdie siekte saam te leef.”

Beroepsmense het ook die artikel waardeer. Die senior visepresident van mediese aangeleenthede vir die Stigting van Gewrigsontsteking in die Verenigde State het geskryf: “Ek dink dat die artikel oor fibromialgie gebalanseerd, volledig en heel goed is. Ek stel dit ook op prys dat Bybelse aanhalings en die belangrikheid van geloof in die geval van hierdie toestand en alle ander mediese toestande hierby ingesluit is.”

Baie ander briewe is ontvang. Hier volg ’n paar aanhalings.

“My dokter het my aangemoedig om alles te lees wat ek oor die onderwerp kon kry. Julle artikel is die beste wat ek nog gelees het.”—L. R.

‘Baie het my al oor my siekte uitgevra. Gewoonlik het ek vir hulle ’n pamflet gegee. Nou kan ek hulle na dié nommer van die Ontwaak! verwys. Hoegenaamd niks is so vertroostend nie!’—K. K.

‘Die artikel het my weer verseker dat ek nie ’n mislukking is nie en dat Jehovah my nog steeds as kosbaar beskou.’—D. C.

“Dit het vir die eerste keer gevoel asof ander daar buite verstaan wat ek deurmaak.”—C. H.

‘Dit is vertroostend om te weet dat ons nie die enigstes is wat ly nie.’—C. A.

‘Ek voel baie sleg omdat ek nie meer kan doen as wat ek gewoonlik gedoen het nie. Ek sal hierdie artikel naby my bed hou sodat ek dit oor en oor kan lees wanneer ek aanmoediging nodig het.’—K. B.

‘Tot dusver het ek die pyn soveel as moontlik geïgnoreer, soveel gedoen as wat ek kon en dan ineengestort. Julle voorstelle klink na ’n verbetering.’—M. C.

“Ek is 14 jaar oud en is met fibromialgie gediagnoseer toe ek 12 was. Die wete dat Jehovah vir ons omgee, het my oë vol trane laat word. Gaan asseblief voort om aanmoedigende artikels soos hierdie te skryf!”—K.A.M.