Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kameelperde—lank, lenig en elegant

Kameelperde—lank, lenig en elegant

Kameelperde—lank, lenig en elegant

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

DIT was vroegoggend, en die grys granietrotse het klam en koud gevoel. Ons het ons tussen hierdie groot rotse gemaklik gemaak en met ’n blikbeker warm tee in die hand die Afrikaveld onder ons bespied. Ons geduld is beloon. In die sagte gloed van die oggendlig het ’n trop kameelperde—lank, lenig en elegant—luilekker oor die vlakte aangestap gekom. Hulle grasieuse manier van stap op hulle steltagtige bene, terwyl hulle lang geboë nekke soos die maste van seilskepe in die wind beweeg het, het dit laat lyk of hulle in stadige aksie beweeg. Ons kon beswaarlik asemhaal. Dit was so pragtig!

Ons teenwoordigheid het hulle nie gepla nie, en hulle het almal saam na ’n groep akasiabome gedraai waar hulle hulle nekke tot hoog in die doringtakke gerek het. Die saggeaarde reuse het klein groen blaartjies versigtig met hulle lang tonge afgepluk. Daar het hulle, hoog bo die grond, hulle koppe tussen ’n klomp vinkneste ingedruk en houtgerus geëet. Die voëls het die langnekindringers met ’n groot lawaai geskel. Die lawaaierige ontvangs het die trop laat skrik, en hulle het stilweg en met waardigheid na ander bome beweeg.

Vinnig en grasieus

Enigiemand wat hierdie diere al in ’n kamp in ’n dieretuin gesien het, sal dit dalk moeilik vind om hulle ware prag en grasie te visualiseer waar hulle wild en vry in die Afrikabosveld hardloop. Die kameelperd se bewegings is grasieus en vloeiend. Wanneer hulle oor die oop grasvelde galop, lyk dit amper asof hulle, weens hulle delikate, byna brose voorkoms, oor die kleinste hindernis kan struikel en val. Maar ’n groot kameelperdbul wat tot 1 300 kilogram weeg, is ’n vasvoetige en vinnige hardloper wat ’n spoed van tot 60 kilometer per uur kan bereik.

Hierdie fassinerende dier word net in Afrika gevind. Hulle saggeaarde en vreedsame geaardheid maak dit ’n genot om hulle dop te hou. Die kameelperd se gesig kan as uniek en selfs mooi beskryf word, met lang, nou ore en twee klein horinkies gekroon met fluweelagtige klossies swart hare. Hulle oë is baie groot en donker en word deur lang, gekrulde wimpers beskerm. Wanneer die kameelperd van sy hoë uitkyk in die verte in staar, lyk sy gesig nuuskierig en onskuldig.

In die ou tyd is die kameelperd op prys gestel vir sy prag en sku, stil, vriendelike geaardheid. Jong kameelperde is aan heersers en konings present gegee as ’n simbool van vrede en welwillendheid tussen nasies. Vandag kan verbleikte tekeninge van kameelperde nog in ou Afrikarotstekeninge gesien word.

Langeraad

Die kameelperd is die langste van alle diere. Van hoef tot horings kan ’n volwasse bul meer as 5,5 meter lank word. In antieke Egiptiese hiërogliewe het die kameelperd weens sy buitengewone hoogte en vermoë om ver te sien die werkwoord “om te voorspel” verteenwoordig.

Wanneer die kameelperd tussen groepe sebras, volstruise, rooibokke en ander diere van die Afrikavlaktes staan, dien hy as ’n wagtoring. Sy hoogte en uitstekende gesigsvermoë stel hom in staat om ver te sien en naderende gevaar vroegtydig te gewaar. Sy toringhoë teenwoordigheid laat die ander diere dus ongetwyfeld veiliger voel.

’n Wonder van ontwerp

Die kameelperd is uiters geskik ontwerp om in die heel boonste takke van hoë bome te wei, wat heeltemal buite die bereik van alle ander diere behalwe die olifant is. Die unieke ontwerp van die grypende bolip en soepel tong stel hom in staat om die blare van takke af te vreet wat vol weerhakies en vlymskerp dorings is.

Kameelperde kan tot 34 kilogram plantmateriaal per dag vreet. Hoewel hulle baie soorte plante kan vreet, verkies hulle die doringrige akasiabome waarmee die Afrikavlaktes besaai is. ’n Kameelperdbul kan sy tong 42 sentimeter ver uitsteek op soek na kos. Die kameelperd se nek is besonder buigsaam. Dit maak dit vir die kameelperd moontlik om sy lang kop teen merkwaardige hoeke te draai en te kantel terwyl hy dit versigtig deur die boonste takke van die bome beweeg.

Dit is maklik vir die kameelperd om sy kos hoog bo die grond by te kom, maar om water te drink, is ’n ander saak. Wanneer ’n kameelperd by ’n watergat kom, moet hy sy voorbene stadig uitsprei en dan al twee knieë buig om by die water uit te kom. In hierdie ongemaklike posisie strek die kameelperd sy lang nek tot die uiterste voordat hy kan drink. Gelukkig hoef die kameelperd nie gereeld te drink nie, aangesien hy dikwels genoeg vloeistof uit die sappige blare kry wat hy eet.

Die nek en sye van die kameelperd is versier met ’n pragtige netwerk van smal wit lyne wat ’n rooster van blaaragtige patrone vorm. Kleure wissel van ’n goue geelbruin tot ’n ryk donkerbruin en selfs swart. Namate die kameelperd ouer word, word hy ook donkerder.

Troplewe

Kameelperde is sosiale diere en vorm los troppe wat uit 2 tot 50 diere kan bestaan. ’n Dragtige koei sal haar kalfie vir ’n tydperk van 420 tot 468 dae dra voordat sy aan ’n twee meter lange kalfie geboorte gee. By geboorte val die kalfie letterlik meer as twee meter na die grond, kop eerste! Maar binne 15 minute staan die kalfie sukkel-sukkel en ongedeerd op, gereed om aan sy ma te drink. Ná twee of drie weke begin die kalfie instinktief aan die sagte punte van akasiatakke vreet en is hy gou sterk genoeg om by sy ma se lang treë by te hou.

’n Kameelperdkalfie is ’n uitstekende miniatuurweergawe van sy ouers. Hoewel hy kort is volgens kameelperdstandaarde, is hy langer as die meeste mense. Dit is ’n genot om ’n kalfie dop te hou waar hy nuuskierig en onbevrees onder die waaksame oë van sy toringhoë ma staan.

Gedurende die kalfseisoen word kameelperdkalfies in groepe bymekaargebring, waar hulle gedurende die dag rus, speel en dophou wat om hulle aangaan. ’n Pasgebore kalfie groei ongelooflik vinnig. Binne ses maande kan ’n kalfie tot een meter langer word, en binne ’n jaar kan sy lengte verdubbel. ’n Kalfie kan in net een week tot 23 sentimeter groei! ’n Kameelperdma is baie beskermend, en hoewel sy haar kalfie toelaat om ’n entjie van haar af te loop, stel haar uitstekende gesigsvermoë haar in staat om altyd te sien waar haar kalfie is.

Weens die kameelperd se grootte, lenigheid en spoed sowel as sy uitstekende gesigsvermoë, het hy min vyande in die natuur behalwe leeus. Maar dit is die mens wat hierdie pragtige dier gejag en in groot getalle doodgemaak het. Omdat hulle genadeloos gejag is vir hulle lieflike vel, smaaklike vleis en lang swart sterthare—wat party glo mistieke mag het—is die toekoms van hierdie vreedsame diere nou onseker. Kameelperde, wat vroeër volop was in baie dele van Afrika, is nou betreklik veilig slegs in wildtuine en reservate waar hulle beskerm word.

Vandag kan besoekers op ’n Afrikasafari nog steeds die opwinding ervaar om ’n langnekkameelperd oor die uitgestrekte grasvlaktes vry te sien hardloop. Daar kan hulle gesien word waar hulle hoog in ’n doringboom wei of net in tipiese kameelperdstyl die verte in staar. Hierdie voortreflike dier, met sy eienaardige prag en saggeaardheid, is werklik ’n wonder van ontwerp—nog ’n bewys van die skeppingsvernuf en unieke persoonlikheid van die almagtige God, Jehovah.—Psalm 104:24.

[Venster/Prent op bladsy 18]

’N LANGNEKWONDER

Die kameelperd se eienaardige liggaamsbou en -grootte behoort probleme te skep—of so sal ’n mens miskien dink. Omdat die kameelperd so hoog is en sy nek so lank is, lyk dit onmoontlik om die bloedvloei na al sy liggaamsdele te reguleer. Wanneer die kameelperd sy kop byvoorbeeld na die grond laat sak, sou ’n mens verwag dat swaartekrag bloed na sy kop sal laat stroom en bloedopwelling in die brein veroorsaak. Wanneer die kameelperd sy kop oplig, sou ’n mens weer dink dat sy bloed vinnig na sy hart sal terugstroom sodat die dier sy bewussyn sal verloor. Maar dit gebeur nie. Waarom nie?

Die kameelperd se bloedsomloopstelsel is werklik ’n wonder van ontwerp en op ’n vindingryke wyse vir die dier se unieke bou en liggaamsgrootte gemaak. Die hart is besonder groot en moet hard pomp om bloed na die brein te stuur, wat tot drie en ’n half meter hoër geleë is. Die sewe sentimeter dik wande van sy sterk hart klop tot 170 keer per minuut en bring ’n sistoliese druk voort wat byna drie keer hoër as ’n mens s’n is. Om hierdie druk veilig te kan hanteer, moet die kopslagaar, wat bloed na die brein toe neem, en die nekaar, wat bloed na die hart toe terugneem, groot wees. Wel, hierdie bloedvate is meer as 2,5 sentimeter in deursnee en word met taai elastiese weefsel versterk, wat dit buigsaam en sterk maak.

Wanneer die kameelperd sy kop laat sak, keer kleppe in die nekaar dat bloed vinnig na die brein terugvloei. Aan die onderkant van die brein loop die groot kopslagaar in nog ’n wonderlik ontwerpte meganisme in wat al die merkwaardige net genoem is. Hier word die sterk vloei van bloed wat ontstaan wanneer die kameelperd sy kop laat sak, vertraag deurdat dit in ’n spesiale netwerk van klein bloedvaatjies gerig word wat die bloeddruk reguleer en die brein teen skielike bloedopwelling beskerm. Die merkwaardige net sit uit wanneer die kameelperd sy kop laat sak en trek saam wanneer hy sy kop oplig, wat sodoende die skerp vermindering van bloeddruk en die gevaar van bewusteloosheid neutraliseer.

Die kameelperd se nek is ook ’n wonder van ontwerp. Wetenskaplikes was verbaas om uit te vind dat die kameelperd se verbasende lang nek dieselfde aantal werwels as dié van ’n muis of die meeste ander soogdiere bevat! Maar anders as die meeste ander soogdiere het die kameelperd verlengde werwels wat volgens ’n spesiale bolgewrigstruktuur ontwerp is en merkwaardige buigsaamheid moontlik maak. Die kameelperd kan dus sy nek buig en draai om alle dele van sy liggaam te versorg of sy nek versigtig tussen die hoë takke van ’n boom rek om te wei.