Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Môre se kinders?

Môre se kinders?

Môre se kinders?

Dit is die jaar 2050. In die vrugbaarheidskliniek kyk Melissa n a ’n rekenaarskerm. Sy dink diep. Dit is immers ’n ernstige saak om ’n kind te kies, nie iets wat ’n mens oorhaastig doen nie. Op die skerm sien sy die beeld van ’n glimlaggende tienermeisie wat Melissa en haar man, Curtis, reeds Alice genoem het. Die beeld sowel as die inligting wat saam met dit gegee word, sê heelwat oor die soort persoon wat Alice sal word, fisies asook verstandelik.

Alice is nog nie gebore nie. Die toekomstige tiener is net ’n embrio, wat veilig teen -200 grade Celsius saam met tientalle ander embrio’s in ’n nabygeleë vertrek gestoor word. Die genetiese kenmerke van elke embrio is geskandeer en in die rekenaar ingevoer om die ouers te help besluit watter een in Melissa se baarmoeder ingeplant sal word.

Aangesien Melissa en Curtis ’n dogtertjie wil hê, word die manlike embrio’s verwerp. Die ouers ondersoek dan die oorblywende embrio’s en kyk na kenmerke soos gesondheid, voorkoms en geaardheid. Uiteindelik maak Melissa en Curtis hulle keuse. Nege maande later is hulle die trotse ouers van die dogter wat hulle gekies het—’n werklike, lewendige Alice.

DIT is ’n verkorte weergawe van ’n verhaal wat Lee Silver geskryf het, ’n professor van molekulêre biologie aan die Princeton-universiteit, New Jersey, VSA. Dit is ’n projeksie van wat hy glo in toekomstige dekades kan gebeur. Hy het sy idees op bestaande navorsing en tegnologie gegrond. Menslike embrio’s kan alreeds vir sekere genetiese afwykings getoets word. En die eerste proefbuisbaba is al meer as 20 jaar gelede gebore. Sy is in ’n petribakkie bevrug, wat haar die eerste mens gemaak het wat buite haar moeder se baarmoeder bevrug is.

Die feit dat dr. Silver die kind Alice noem, herinner ons dalk aan die bekende sprokiesverhaal Alice in Wonderland. Ja, die toekoms waarna baie mense uitsien, is ’n land van wonders. ’n Hoofartikel in die gesaghebbende tydskrif Nature het gesê: “Die groeiende vermoë van molekulêre genetika bring ons voor die vooruitsig te staan om in die toekoms die aard van ons spesie te kan verander.”

In die volgende artikel sal ons ’n paar verwikkelinge in biotegnologie ondersoek en veral kyk na die vooruitsig om die mensdom te “verbeter”. Sal die werk wat vandag in die laboratoriums gedoen word jou lewe of dié van jou kinders raak? Baie glo dat dit sal.