Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Standvastig in die geloof onder totalitêre onderdrukking

Standvastig in die geloof onder totalitêre onderdrukking

Standvastig in die geloof onder totalitêre onderdrukking

SOOS VERTEL DEUR MICHAEL DASEWITSJ

“In Duitsland skiet ons Jehovah se Getuies. Sien jy daardie geweer?” het die Gestapo-amptenaar gevra terwyl hy na ’n geweer in die hoek gewys het. “Ek kan jou met die bajonet deurboor sonder om eers skuldig te voel.”

Ek was net 15 toe ek in 1942 gedurende die Nazi-besetting met hierdie woorde gedreig is.

EK IS in November 1926 in ’n klein dorpie naby Stanislaf (nou Iwano-Frankofsk) gebore, in wat destyds ’n deel van Pole was. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog, van September 1939 tot Mei 1945, is ons gebied eers deur die Sowjetunie, toe ’n tyd lank deur Duitsland en uiteindelik weer deur die Russe beset. Ná die oorlog het dit ’n deel van die Oekraïense Sosialistiese Sowjetrepubliek geword, en toe die Sowjetunie in 1991 ontbind is, het dit ’n deel van die Oekraïne geword.

My Poolse vader en Belo-Russiese moeder was lede van die Grieks-Katolieke Kerk. Maar in 1939 het twee vroue, wat aan ’n gemeente van 30 Getuies van Jehovah in die nabygeleë dorp Horihliadi behoort het, die boekie Universal War Near by ons gelaat. Dit het gebeurtenisse beskryf wat ek om ons sien plaasvind het. Toe die boekie dus gevra het: “Wat is die eintlike rede waarom die nasies hulle tot oorlog wend?” het ek noukeurig gelet op die Bybelse verduideliking wat dit gegee het.

Oorlog was nie ons enigste probleem in die Oekraïne nie. Daar was ook ernstige hongersnood. Die beleide van die Russiese eerste minister Josef Stalin het gedwonge deportasies na Rusland tot gevolg gehad. Die lyding wat ek gesien het, het my beweeg om die Bybel noukeurig te bestudeer. Ek het ’n Getuie in Horihliadi gevra om die Bybel met my te studeer.

Ons dorp Odajif is oorkant die Dnjestr-rivier van Horihliadi af, en ek het verskeie kere per week in ’n klein bootjie oor daardie rivier gevaar vir my Bybelstudie. In Augustus 1941 is ek en my suster Anna saam met twee ander persone in daardie rivier gedoop.

Deur die Gestapo ondervra

Die Duitse besetting het in 1941 begin, en ondanks die feit dat ons altyd die gevaar geloop het om gestraf te word, het ons nie ons Christelike bedrywighede gestaak nie. Die volgende jaar het ek as pionier begin dien en met ’n fiets van plek tot plek gery. Dit was nie lank daarna dat ek die ontmoeting met die Duitse Gestapo gehad het wat in die inleiding gemeld is nie. Dit is wat gebeur het.

Ná velddiens eendag het ek twee mede-Christene besoek, ’n ma en haar dogter. Die dogter se man het ons geloof teëgestaan en was gretig om uit te vind waar sy haar Bybellektuur kry. Ek het daardie dag nie net lektuur by my gehad nie, maar ook verslae van mede-Christene se velddiensbedrywighede. Die man het my die huis sien verlaat.

“Stop!” het hy geskreeu. Ek het my sak gegryp en gehardloop.

“Stop! Dief!” het hy geskreeu. Werkers in die veld het gedink dat ek iets gesteel het, en hulle het my voorgekeer. Die man het my na die polisiestasie geneem, waar ’n Gestapo-amptenaar teenwoordig was.

Toe die amptenaar die lektuur in my sak sien, het hy in Duits geskreeu: “Rutherford! Rutherford!” Ek het nie ’n tolk nodig gehad om te verstaan wat hom ontstel het nie. Die naam van Joseph F. Rutherford, wat voorheen die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap was, het op die titelblad van die boeke verskyn wat Jehovah se Getuies uitgegee het. Die man het my toe daarvan beskuldig dat ek sy vrou se minnaar was. Die polisie en die Gestapo-amptenaar kon sien dat dit belaglik was, aangesien sy vrou oud genoeg was om my ma te wees. Toe het hulle my begin ondervra.

Hulle wou weet wie ek is en waar ek vandaan kom, en veral waar ek die boeke gekry het. Maar ek het geweier om vir hulle te sê. Hulle het my ’n paar keer geslaan en met my gespot, waarna hulle my in ’n kelder opgesluit het. Ek is vir die volgende drie dae ondervra. Toe is ek na die Gestapo-amptenaar se kantoor geneem, waar hy gedreig het om my met sy bajonet te deurboor. Ek het vir ’n oomblik nie geweet of hy sy dreigement gaan uitvoer nie. Ek het my kop laat sak, en die stilte wat daarop gevolg het, het baie lank gevoel. Toe het hy skielik gesê: “Jy kan gaan.”

Soos jy kan sien, was dit destyds werklik ’n uitdaging om die predikingswerk te doen, maar dit was ook ’n uitdaging om ons vergaderinge te hou. Ons het op 19 April 1943 twee vertrekke van ’n huis in Horihliadi gebruik om die jaarlikse herdenking van Christus se dood te vier (Lukas 22:19). Net toe ons ons vergadering wou begin, het iemand uitgeroep dat die polisie na die huis op pad was. Party van ons het in die tuin weggekruip, maar my suster Anna en drie ander vroue het in die kelderverdieping ingegaan. Die polisie het hulle daar gevind en hulle een vir een uitgesleep vir ondervraging. Hulle is ure lank hardhandig behandel, en een van hulle is ernstig beseer.

Die toneel van die wêreld verander

In die somer van 1944 het die Duitsers teruggetrek en die Russe het na ons gebied teruggekeer. As knegte van Jehovah het ons vasgehou aan dieselfde Bybelse beginsels waarvolgens ons onder die Nazi-besetting gelewe het. Ons het geweier om aan enige militêre of politieke bedrywighede deel te neem. Ons lojaliteit aan hierdie Bybelbeginsels is weldra op die proef gestel.—Jesaja 2:4; Matteus 26:52; Johannes 17:14.

Binne ’n paar dae het die Russe alle jong mans vir militêre diens begin oproep. Wat die situasie nog erger gemaak het, is die feit dat die Russe nie die enigstes was wat rekrute gesoek het nie. Oekraïense guerrillastryders het die gebied vir jong mans gefynkam, wat hulle in die woud ingeneem het om as soldate op te lei. As Getuies was ons dus in ’n netelige situasie, want ons moes ons neutraliteit aan twee vyandige faksies bewys—die Russe en die guerrillastryders.

Hierdie twee groepe het reg in ons dorp geveg, en ’n paar guerrillastryders het in die straat buite ons huis gesneuwel. Die Sowjetowerheid het na ons huis toe gekom om uit te vind of ons die gesneuweldes ken. Die amptenare wat gekom het, het besluit om my saam te neem vir militêre diens in hulle leër, wat besig was om ’n regiment van Poolse soldate te vorm. Omdat ek van Poolse afkoms was, sou ek daarin ingeskryf word.

Ek en vier ander Getuies het geweier om by die leër aan te sluit, en gevolglik is ons per trein na Dnipropetrows’k geneem, ’n stad ongeveer 700 kilometer na die ooste. Nadat ons daar verduidelik het dat ons weens ons Bybelse oortuiging nie in die leër kan dien nie, is ons in hegtenis geneem terwyl aanklagte teen ons voorberei is. Toe ons in die hof verskyn, het ons uitgevind dat die burgerlike ondersoeker ’n Jood was. Tydens ons verdediging, waarna die ondersoeker aandagtig geluister het, het ons ons oortuiging verduidelik. Ons het dinge gemeld waarin ons geweet het hy belang sou stel, onder andere die onderdrukking van die Israeliete en hoe Moses hulle uit Egipte bevry het.

Gedurende die maande wat dit die hof geneem het om uitspraak te lewer, is ons in ’n sel met ongeveer 25 ander gevangenes geplaas. Toe hulle uitvind dat ons geweier het om by die leër aan te sluit, het hulle uitgeroep: “Julle is ons broers!” Ons het egter gou uitgevind dat hulle nie Getuies was nie, maar Baptiste. Hulle was bereid om by die leër aan te sluit, maar hulle is in hegtenis geneem toe hulle geweier het om wapens op te neem.

In Mei 1945, terwyl ons nog in Dnipropetrows’k opgesluit was, is ons in die middel van die nag deur geweerskote en ’n geskreeuery wakker gemaak wat buite van die barak en die strate gekom het. Ons het gewonder of dit ’n betoging, ’n geveg of ’n viering was. Die volgende oggend by ontbyt het ons die nuus by die barbierswinkel gehoor: Die oorlog was verby! Die hof het kort daarna ons vonnisse uitgespreek. Ons en die Baptiste het dieselfde vonnis gekry—tien jaar in gevangeniskampe.

Gevangeniskampe in Rusland

Die vyf Getuies is na gevangeniskampe in Rusland gestuur. Ná ’n treinreis van twee weke het ons uiteindelik in Soechobezwodnoje, sowat 400 kilometer oos van Moskou, aangekom. Soechobezwodnoje was die administratiewe sentrum van 32 strafkampe wat langs die treinspoor geleë was. Elke kamp het duisende gevangenes gehuisves. Ná ses maande in Soechobezwodnoje is ek na Kamp nr. 18 gestuur. Die meeste gevangenes daar was misdadigers of politieke oortreders.

Die owerheid het ons bome laat afsaag, wat ’n baie moeilike taak was. Ons moes soms deur sneeu loop wat tot by ons middellyf gekom het, bome met ’n handsaag afsaag en die boomstompe dan deur die sneeu trek. Een keer per week, op Sondae ná ontbyt, het ek die geleentheid gehad om ’n Bybelbespreking met die ander vier Getuies in die kamp te hê. Dit was ons vergaderinge. Ons het ook die Gedenkmaal gevier, en een jaar het ons dit in die badhuis gedoen. Ons het braambessiesap gebruik omdat ons geen wyn gehad het om as ’n embleem van Jesus se bloed te gebruik nie.

Die gevoel van afsondering was oorweldigend. Ek het my hart voor Jehovah uitgestort, en hy het my versterk soos hy Elia versterk het toe die profeet soortgelyke gevoelens gehad het (1 Konings 19:14, 18). God het my gehelp om te sien dat ons nie alleen was nie. Hy was inderdaad ’n standvastige, ferm pilaar in my lewe, selfs onder daardie moeilike omstandighede.

Die ander kampe naby Soechobezwodnoje het elk ’n handjie vol Getuies gehad, en ons kon van tyd tot tyd met hulle in aanraking kom deur ’n Getuie wie se werk hom toegelaat het om al die kampe te besoek. Hy het as ’n tussenganger gedien en lektuur in en uit die kampe gesmokkel. Dit het ons in staat gestel om die paar stukke lektuur wat ons gehad het met mekaar te deel. Hoe bemoedigend was dit tog!

Terug na die Oekraïne

Danksy amnestie wat deur die Staat afgekondig is, is my vonnis van tien tot vyf jaar ingekort. Ek het dus in April 1950 na my tuisgemeente in Horihliadi teruggekeer. Ons werk in die Oekraïne was nog steeds verbied, en ’n mens het jou aan groot gevaar blootgestel om aan die bediening deel te neem. Maar die belonings was nietemin groot.

Kort ná my terugkeer, het ek met mnr. Kozak gepraat, ’n man wat in Zjabokroeki gewoon het, ’n dorp ongeveer 20 kilometer van my huis af. Ek het hom gevra hoe dit met hom en sy gesin gaan. Ek het geweet dat werkers op die gemeenskapsplase besorg was oor hoe hulle die pot aan die kook sou hou, en daarom het ek geweet dat so ’n vraag ’n goeie manier was om ’n gesprek aan te knoop. Ek het verduidelik dat die Bybel voedseltekorte en oorloë vir ons tyd voorspel het (Matteus 24:3-14). Hy wou meer weet. Gevolglik het ek hom weer besoek. Ek het week ná week ongeveer 40 kilometer na en van Zjabokroeki geloop om die Bybel met die Kozak-gesin te studeer. Die gevaar, om nie eers te praat van al die tyd wat dit geneem het nie, was vergete toe die Kozaks in Augustus 1950 gedoop is.

Kort ná die Kozaks gedoop is, is hulle saam met duisende ander Getuies in ballingskap weggeneem. Hulle is skielik vroeg in April 1951 deur gewapende soldate gevange geneem en—sonder ’n verhoor—na Siberië gedeporteer. Die Kozaks en baie van my ander vriende is gedwing om dit hulle nuwe tuiste te maak. *

Van die 15 Getuiegesinne in Horihliadi is slegs 4 gedeporteer. Maar in ander gemeentes is baie meer Getuies gedeporteer. Hoe is hierdie grootskaalse deportasies gereël? Wel, die owerheid het lyste van Getuies gehad en kon dus baie van hulle gevange neem net wanneer hulle wou. Die lyste is blykbaar in 1950 saamgestel, toe ek nog in die gevangenis in Rusland was, en daarom was my naam nie daarop nie. Een maand vroeër, in Maart 1951, het ek met Fenia, ’n lojale kneg van Jehovah, getrou. Fenia se gesin is almal verban, maar sy het hierdie lot vrygespring omdat sy met my getrou het en nou my naam gehad het, wat nie op die lys was nie.

Moeilike toetse van geloof

Ná die deportasies moes dié van ons wat agtergebly het die werk herorganiseer. Ek is gevra om te sorg vir die gemeentes in die nabygeleë streek Iwano-Frankofsk, waar daar selfs ná die deportasies nog steeds ongeveer 30 Getuies in elk van die 15 gemeentes oorgebly het. Omdat ek ’n timmerman was wat vir myself gewerk het, het ek ’n aanpasbare rooster gehad, en gevolglik het ek een keer per maand in die geheim met die broers van elke gemeente vergader.

Ons het dikwels snags in ’n begraafplaas ontmoet waar ons seker was ons alleen sou wees. ’n Belangrike besprekingspunt was hoe ons sou sorg dat al die gemeentes Bybellektuur het. Ons het nou en dan die jongste Wagtoring in Pools of Roemeens ontvang en dit in Oekraïens vertaal. Maar die owerheid was gedurigdeur op ons hakke in ’n poging om ons primitiewe kopieermasjiene op te spoor en te vernietig.

Ons grootste probleem was egter dat ons van ons Christenbroers in ander lande afgeskei was, insluitende dié in Brooklyn, New York, wat die leiding in ons Christelike werk geneem het. Die gevolg was dat ons gemeentes dikwels deur onenigheid, gerugte en intrige geteister is. Sommige Getuies het die organisasie verlaat en opposisiegroepe gevorm. Valse en negatiewe gerugte het selfs die ronde gedoen oor diegene wat in Brooklyn die leiding geneem het.

Baie van ons het dus gevind dat ons moeilikste toetse van geloof nie die gevolg van vervolging deur teenstanders was nie, maar konflikte binne die gemeentes. Al het party besluit om nie meer saam met ons te aanbid nie, het ons geleer dat dit uiters belangrik is om by die organisasie te bly en op Jehovah te wag om dinge reg te stel. Gelukkig het die meeste Getuies in ons gebied dit gedoen. Ek is ook bly om te sê dat baie van diegene wat die organisasie verlaat het hulle fout besef en later teruggekeer het om Jehovah saam met ons te dien.

Selfs gedurende daardie moeilike tyd van afsondering het ons besig gebly in die openbare bediening en is ons ryklik geseën. En hoe is ons tog beloon! Elke keer wanneer ek nou ons Gemeentelike Boekstudie bywoon, word ek aan die seëninge van Jehovah herinner. Elkeen van die 20 of meer in ons studiegroep is deur lede van my gesin gehelp om die waarheid te leer.

My ouers en suster Anna is almal oorlede en het getrou aan Jehovah gebly. Ek en Fenia is nog steeds so aktief as moontlik in Jehovah se diens. Die tyd het inderdaad verbygevlieg. Gedurende die afgelope 30 jaar het Jehovah se Getuies in die Oekraïne hartroerende ondervindinge deurgemaak wat nie in hierdie kort vertelling ingesluit kan word nie. Maar ek is tevrede om terug te kyk op my baie jare van diens aan Jehovah, vol vertroue dat hy my onwrikbare pilaar en stut sal bly, want hy sê van homself: “Ek, die HERE, het nie verander nie.”—Maleagi 3:6.

[Voetnoot]

^ par. 32 Sien die artikels “Meer as 40 jaar onder Kommunistiese beperkings” in Die Wagtoring van 1 Maart 1999, bladsye 24-9, en “Verban na Siberië!” in die Ontwaak! van 22 April 1999, bladsye 20-5.

[Lokteks op bladsy 21]

Hulle wou weet wie ek is en waar ek vandaan kom, en veral waar ek die boeke gekry het. Maar ek het geweier om vir hulle te sê

[Lokteks op bladsy 22]

Die gevoel van afsondering was oorweldigend. Ek het my hart voor Jehovah uitgestort, en hy het my versterk

[Prent op bladsy 20]

Ek en Fenia in 1952

[Prent op bladsy 23]

Saam met Fenia vandag