Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom is ek so maer?

Waarom is ek so maer?

Jongmense vra . . .

Waarom is ek so maer?

JUSTIN is skraal en gesond, maar nie heeltemal tevrede met sy liggaam nie. “Ek probeer gewig aansit”, erken hy. Tans bestaan sy dieet dus uit vyf maaltye per dag, wat beteken dat hy 16 800 kilojoules inneem. Maar hy wil hê dat die ekstra gewig ferm spiere moet wees. Daarom voeg hy by: “Ek en ’n vriend staan vroeg op en gaan party dae voor werk saam gimnasium toe om gewigte op te tel.”

Vanessa is ook effens maer. Maar sy is heel tevrede met haar gewig. “Toe ek jonger was, het die kinders my geterg en my langderm genoem”, sê Vanessa. “Maar dit pla my nie meer nie. Ek aanvaar myself eenvoudig soos ek is.”

‘Aanvaar jouself soos jy is.’ Dit klink na goeie raad. Maar dit is dalk raad wat jy moeilik vind om toe te pas. As ’n tiener is jy dalk in “die bloei van die jeug” (1 Korintiërs 7:36). Daardie tydperk van vinnige fisiese verandering wat as puberteit bekend staan, is veral onstuimig. Gedurende puberteit groei dele van jou liggaam dalk nie ewe vinnig nie; jou arms, bene en gelaatstrekke lyk dalk hopeloos buite verhouding. * Dit kan jou lomp en onaantreklik laat voel. Dan is daar die feit dat nie alle jongmense ewe vinnig ontwikkel nie. Miskien het party van jou portuurs dus ’n gespierde liggaamsbou of ’n vroulike figuur ontwikkel, terwyl jy dalk nog maer in vergelyking met hulle is.

Hoewel baie al gesê is oor jongmense wat voel dat hulle oorgewig is, word jongmense wat voel dat hulle te maer is dikwels oor die hoof gesien. Dit kan veral die geval wees onder sekere etniese groepe en in party lande waar dit nie as aantreklik beskou word om maer te wees nie. In sulke gebiede word ’n meisie dalk genadeloos geterg omdat sy maer is.

Wat van seuns? Volgens die navorser Susan Bordo “het studies oor mense se liggaamsbeeld wat gedurende die dekades voor die ’80’s gedoen is, getoon dat vroue net hulle gebreke gesien het wanneer hulle in die spieël [ge]kyk [het]”. En mans? Bordo sê verder: “Mans het in die spieël gekyk en ’n beeld gesien waarmee hulle tevrede was of ’n beeld wat selfs beter was as die werklikheid.” Maar in onlangse jare het dit begin verander. Bordo wys daarop dat mans meer as ’n kwart van die pasiënte uitmaak wat plastiese snykunde ondergaan, en hy assosieer die huidige oplewing in belangstelling in fiksheid onder jong mans met die “volmaakte” manlike liggaam wat in die Verenigde State en ander Westerse lande in onderklere-advertensies vertoon word. Dit het natuurlik ’n uitwerking op tienerseuns. Hulle voel dat hulle liggaamlik te kort skiet as hulle nie die gespierde liggaamsbou van mansmodelle het nie.

As jy dus maer is, wonder jy dalk: ‘Wat is fout met my?’ Die goeie nuus is dat daar waarskynlik niks fout is met jou nie.

Waarom jy so maer is

Vir baie jongmense is dit heeltemal normaal om maer te wees. Dit is dikwels net ’n nadraai van die vinnige groeiproses en die vinnige metabolisme wat met adolessensie gepaardgaan. Gewoonlik sal jou metabolisme stabiliseer namate jy ouer word. Maar as jy baie maer is ten spyte van ’n gesonde dieet, sal dit goed wees om jou dokter te raadpleeg om seker te maak dat dit nie ’n gesondheidsprobleem, soos suikersiekte, is wat gewigsverlies kan veroorsaak nie.

Steven Levenkron, ’n bekende gesaghebbende op die gebied van eetversteurings, het vir Ontwaak! gesê: “Ek onthou ’n baie maer jong vrou wat met anoreksie gediagnoseer en na my verwys is, en sy het ook soos iemand met ’n eetversteuring gelyk. Maar ek het gou besef dat haar probleem fisies was, nie sielkundig nie. Haar huisdokter het nie haar toestand as Crohn se siekte, ’n ernstige ingewandsiekte, gediagnoseer nie. Daardie fout kon noodlottig vir hierdie meisie gewees het.” As jy suikersiekte of enige ander siekte het wat gewigsverlies veroorsaak, sal dit goed wees as jy jou dokter se raad noukeurig volg.

Soms kan maerheid natuurlik ’n simptoom van emosionele spanning wees. In sy boek Anatomy of Anorexia meld dr. Levenkron party navorsers se bewerings dat ’n opvallende aantal “diabete wat van insulien afhanklik is eetversteurings het, wat wissel van kompulsiewe ooretery tot bulimie tot anoreksie”. ’n Gekwalifiseerde geneesheer kan bepaal of so ’n eetversteuring bestaan. *

Praktiese wenke

Kom ons neem aan dat jy dokter toe gegaan het en dat jy maer en tog gesond is. Wat moet jy nou doen? In Job 8:11 sê die Bybel: “Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water?” Net soos ’n plant floreer wanneer dit die regte omgewing en voedingstowwe het, het jy ’n gebalanseerde dieet nodig sodat jy ’n gesonde volwassene kan word. Dit is belangrik, hetsy jy gewig probeer aansit of verloor.

Moet egter nie in die versoeking kom om ’n groot hoeveelheid vetterige kos te begin eet sodat jy vinniger gewig kan aansit nie. Toe die dieetkundige Susan Kleiner ’n studie van die diëte van liggaamsbouers gemaak het, het sy gevind dat hulle 25 000 kilojoules per dag inneem! Maar volgens Kleiner “was die kommerwekkende bevinding van hierdie studie die feit dat hulle gemiddeld meer as 200 gram vet per dag geëet het. Dit is amper soveel vet as wat in ’n koppie botter is! Op die korttermyn is dit genoeg om die meeste mense siek te maak. As dit voortdurend oor ’n lang tyd geëet word, sal al daardie vet hartsiektes veroorsaak.”

Volgens die Amerikaanse Departement van Landbou (USDA) is koolhidrate, soos brood, graansoorte, rys en pasta, die grondslag van ’n gebalanseerde dieet. Dan volg groente en vrugte. Die USDA stel voor dat ’n mens slegs matige hoeveelhede vleis en suiwelprodukte eet.

Om te kontroleer presies wat en hoeveel jy eet, kan jy ’n voedseldagboek probeer hou. Hou ’n week lank ’n notaboekie by jou, en skryf neer presies wat en wanneer jy eet. Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat jy nie naastenby soveel eet as wat jy dink nie, veral as jy altyd besig is. As ’n aktiewe tiener kan jy maklik 12 600 kilojoules of meer per dag verbrand! Jy sal miskien ook vind dat jou dieet nie so gebalanseerd is soos dit moet wees nie—met te veel gemorskos soos hamburgers en pizzas en nie genoeg vrugte en groente nie.

Wat van duur voedselaanvullings? Dit is dalk nie nodig nie. Baie kenners is van mening dat jy al die voedingstowwe kan verkry wat jou liggaam nodig het deur gesonde kos te eet. Jy moet kitsoplossings soos anaboliese steroïede veral vermy. Ongelukkig is die misbruik van steroïede nie net ’n probleem onder tienerseuns nie. The New York Times berig: “Die toenemende gebruik [van steroïede] onder meisies, wat sommige navorsers deels aan ’n soort omgekeerde anoreksie toeskryf, het vlakke bereik wat in die 1980’s onder seuns bestaan het.” ’n Skokkende 175 000 tienermeisies in die Verenigde State erken dat hulle anaboliese steroïede gebruik. Hierdie middels word met ’n hele reeks tragiese newe-effekte geassosieer, onder meer ongewenste gesighare, menstruele afwykings en borskanker by vroue, prostaatkanker by mans en verstopte slagare en lewerkanker by vroue sowel as mans. Steroïede moet nooit sonder ’n dokter se voorskrif en toesig gebruik word nie.

Wees beskeie en realisties

Die Bybel sê vir ons om ‘beskeie te wandel met ons God’ (Miga 6:8, NW). Beskeidenheid behels dat ’n mens bewus moet wees van jou beperkings. Beskeidenheid sal jou help om realisties oor jou voorkoms te wees. Nee, daar is niks mee verkeerd om goed te wil lyk nie. Maar ’n beheptheid met jou voorkoms baat niemand nie—behalwe miskien die mode- en dieetbedryf. Fiksheidsdeskundiges stem saam dat die gemiddelde man eenvoudig nie die regte gene het om ’n wêreldklasliggaamsbouer te wees nie, ongeag hoe goed hy eet of hoeveel hy oefen. En as jy ’n meisie is, sal jy moontlik nie ’n voller figuur kry nie, ongeag hoeveel jy eet.

Dit is interessant dat jy heelwat kan doen aan wat vir jou na fisiese tekortkominge lyk deur ’n bietjie aandag aan jou kleredrag te skenk. Vermy klere wat daardie aspekte van jou figuur onnodig beklemtoon. Party stel voor dat maer mense ligte kleure dra, aangesien donker kleure hulle dikwels maerder laat lyk.

Onthou ook dat jou persoonlikheid baie belangriker as jou voorkoms is. Op die lange duur sal ’n aangename glimlag en ’n goedhartige geaardheid meer doen om jou vir ander aantreklik te maak as bultende spiere of ’n sekere rokgrootte. As jou vriende jou alewig oor jou voorkoms verkleineer, moet jy vriende soek wat jou waardeer vir die persoon wat jy is—vir wat die Bybel “die geheime persoon van die hart” noem (1 Petrus 3:4). Laastens, moet nooit vergeet nie dat “die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is”.—1 Samuel 16:7NW.

[Voetnote]

^ par. 5 Sien die artikel “Jongmense vra . . . Ontwikkel ek normaal?” in die Ontwaak! van 22 September 1993.

^ par. 12 Sien die “Jongmense vra . . . ”-artikels “Waarom het ek ’n obsessie oor my gewig?” en “Hoe kan ek my obsessie oor my gewig te bowe kom?” in die Ontwaak! van 22 April en 22 Mei 1999.

[Prent op bladsy 14]

Party jongmense verwens hulleself omdat hulle maer is