Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die hoofsaak in my lewe—Om lojaal te bly

Die hoofsaak in my lewe—Om lojaal te bly

Die hoofsaak in my lewe—Om lojaal te bly

SOOS VERTEL DEUR ALEXEI DAWIDJOEK

Die jaar was 1947; die plek, ’n paar kilometer van ons dorp Laskif, in die Oekraïne, naby die Poolse grens. My ouer vriend Stepan was ’n koerier en het Bybellektuur van Pole na die Oekraïne gesmokkel. Een aand het ’n grenswag hom gesien en hom toe agternagesit en geskiet. Twaalf jaar later het Stepan se dood ’n verreikende uitwerking op my lewe gehad, soos ek later sal verduidelik.

TEEN die tyd dat ek in 1932 in Laskif gebore is, was tien gesinne in ons dorp Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Onder hulle was my ouers, wat tot hulle dood in die middel-1970’s ’n goeie voorbeeld van lojaliteit aan Jehovah gestel het. My hele lewe lank was dit ook die hoofsaak in my lewe om lojaal aan God te wees.—Psalm 18:25NW.

In 1939, die jaar toe die Tweede Wêreldoorlog begin het, is die gebied waarin ons in oostelike Pole gewoon het by die Sowjetunie ingelyf. Ons was tot Junie 1941 onder Sowjetbeheer, toe die Duitsers ons gebied binnegeval en beset het.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ek moeilike tye op skool verduur. Die kinders is geleer om nasionalistiese liedere te sing en aan militêre oefeninge deel te neem. Trouens, ons is onder andere geleer hoe om handgranate te gooi. Maar ek het geweier om patriotiese liedere te sing en aan enige militêre opleiding deel te neem. Die feit dat ek op ’n vroeë ouderdom geleer het om ’n standpunt vir my Bybelse oortuiging in te neem, het my gehelp om in latere jare lojaal aan God te bly.

Daar was soveel mense in ons gemeente se gebied wat in Bybelwaarheid belanggestel het dat twee pioniers, soos voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies genoem word, na ons gebied gestuur is om te help om hulle te leer. Een van die pioniers, Ilja Fedorowitstsj, het ook die Bybel met my gestudeer en my in die bediening opgelei. Gedurende die Duitse besetting is Ilja gedeporteer en in een van die Nazi-konsentrasiekampe gesit, waar hy gesterf het.

My pa se stryd om neutraal te bly

In 1941 het die Sowjetowerheid my pa probeer dwing om ’n dokument te teken waarin hy belowe om geld te betaal om die oorlog te help finansier. Hy het vir hulle gesê dat hy nie een van die kante in die oorlog kon ondersteun nie en dat hy as ’n kneg van die ware God neutraal sou bly. My pa is as ’n vyand gebrandmerk en tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Maar hy het slegs vier dae van die vonnis uitgedien. Waarom? Wel, die Sondag nadat hy opgesluit is, is die gebied waar ons gewoon het deur die Duitse leër beset.

Toe die tronkbewaarders hoor dat die Duitsers naby was, het hulle die tronkdeure oopgesluit en gevlug. Buite is die meeste van die gevangenes deur Sowjetsoldate geskiet. My pa het nie onmiddellik buitentoe gegaan nie, maar het later ontsnap en na vriende se huis gegaan. Van daar af het hy ’n boodskap na my ma gestuur om sy dokumente te bring, wat bewys het dat hy opgesluit is omdat hy geweier het om die Russe in die oorlog te ondersteun. Toe my pa dit vir die Duitse offisiere wys, het hulle sy lewe gespaar.

Die Duitsers wou die name van almal weet wat met die Russe saamgewerk het. Hulle het druk op my pa uitgeoefen om hulle te verraai, maar hy het geweier. Hy het sy neutrale standpunt aan hulle verduidelik. As hy hulle enigiemand se naam gegee het, sou hulle hom of haar geskiet het. Gevolglik het my pa se neutraliteit ook die lewe van ander mense gered, wat baie dankbaar teenoor hom was.

Ondergrondse bedrywighede

Die Russe het in Augustus 1944 na die Oekraïne teruggekeer, en in Mei 1945 het die Europese fase van die Tweede Wêreldoorlog geëindig. Daarna het die sogenaamde Ystergordyn ons in die Sowjetunie van die res van die wêreld afgesny. Dit was selfs moeilik om in kontak te bly met Jehovah se Getuies oorkant die grens in Pole. Moedige Getuies het oor die grens gesluip en met ’n paar kosbare eksemplare van Die Wagtoring teruggekom. Aangesien die grens net agt kilometer van ons huis in Laskif was, het ek gehoor van die gevare wat hierdie koeriers getrotseer het.

’n Getuie met die naam Silvester het byvoorbeeld twee keer oorgegaan en het elke keer sonder enige probleme teruggekom. Maar die derde keer het die grenspatrollie en hulle waghonde hom gesien. Die soldate het geskreeu dat hy moet stilstaan, maar Silvester het vir sy lewe gehardloop. Die enigste manier om van die honde af weg te kom, was om in die water in ’n nabygeleë meer te loop. Hy het die hele nag tussen lang gras weggekruip in water wat tot by sy nek gekom het. Toe die patrollie die soektog laat vaar het, het Silvester uiteindelik uitgeput huis toe gestrompel.

Soos ek vroeër vertel het, is Silvester se neef Stepan doodgeskiet toe hy oor die grens probeer kom het. Maar dit was belangrik dat ons met Jehovah se volk in aanraking bly. Danksy die werk van moedige koeriers het ons geestelike voedsel en nuttige leiding ontvang.

Die volgende jaar, in 1948, is ek in die nag in ’n klein meer naby ons huis gedoop. Diegene wat gedoop sou word, het in ons huis bymekaargekom, maar ek het nie geweet wie hulle was nie, aangesien dit donker was en alles in die geheim gedoen is. Die doopkandidate het nie met mekaar gepraat nie. Ek weet nie wie die dooptoespraak gehou het nie, wie my die doopvrae gevra het toe ons naby die meer gestaan het nie of wie my gedoop het nie. Jare later, toe ek en ’n goeie vriend oor ons doop gesels het, het ons ontdek dat ons twee onder diegene was wat daardie aand gedoop is!

In 1949 het die Getuies in die Oekraïne ’n boodskap van Brooklyn af ontvang wat hulle aangemoedig het om Moskou te versoek om die predikingswerk in die Sowjetunie wettig te verklaar. Na aanleiding van hierdie riglyn het ons ’n versoek deur die Minister van Binnelandse Sake aan die Presidium van die Opperste Sowjet van die USSR gerig. Daarna is Mikola Piatocha en Ilia Babijtsjoek gevra om na Moskou te gaan om die regering se antwoord op ons versoek te kry. Hulle het ingestem en daardie somer na Moskou vertrek.

Die amptenaar wat hierdie afvaardiging ontvang het, het geluister terwyl hulle die Bybelse rede vir ons werk verduidelik het. Hulle het verduidelik dat ons werk gedoen word ter vervulling van Jesus se profesie dat “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Maar die amptenaar het gesê dat die Staat ons nooit wettig sou verklaar nie.

Die Getuies het teruggekeer huis toe en na die Oekraïne se hoofstad Kiëf gegaan om wetlike erkenning vir ons werk hier in die Oekraïne te verkry. Weer eens het die owerheid die versoek geweier. Hulle het gesê dat Jehovah se Getuies slegs in vrede gelaat sou word as hulle die Staat ondersteun. Die Getuies, het hulle gesê, moet in die weermag dien en aan verkiesings deelneem. Hulle het weer ons neutrale standpunt verduidelik, naamlik dat ons, in navolging van ons Meester, Jesus Christus, geen deel van die wêreld moet wees nie.—Johannes 17:14-16.

Kort daarna is broer Piatocha en Babijtsjoek in hegtenis geneem, aangekla en tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Omstreeks daardie tyd, in 1950, is baie Getuies, onder andere my pa, deur die owerheid weggeneem. Hy is ’n tronkstraf van 25 jaar opgelê en na Chabarowsk gestuur, heel aan die oostekant van die Sowjetunie, byna 8 000 kilometer van ons af!

Na Siberië verban

Toe, in April 1951, het die Sowjetstaat ’n georganiseerde aanval teen die Getuies in hulle westelike republieke gerig wat nou as Letland, Estland, Litaue, Moldowa, Belaroes en die Oekraïne bekend staan. Gedurende daardie maand is ongeveer 7 000 van ons, insluitende ek en my ma, as bannelinge na Siberië gestuur. Soldate het eenvoudig een aand na ons huis toe gekom en ons na die stasie geneem. Daar is ons in veewaens opgesluit—ongeveer 50 in elke wa—en meer as twee weke later is ons in Zalari afgelaai, wat naby die Baikal-meer, in die omgewing van Irkoetsk, geleë is.

Terwyl ek in die sneeu en yskoue wind gestaan het, en omring deur gewapende soldate, het ek gewonder wat op ons wag. Hoe sou ek dit regkry om hier aan Jehovah lojaal te bly? Ons het Koninkryksliedere begin sing sodat ons nie aan die koue sou dink nie. Toe het bestuurders van plaaslike staatsondernemings daar opgedaag. Party het mans vir harde fisiese werk nodig gehad, terwyl ander vroue wou hê om byvoorbeeld na diere om te sien. Ek en my ma is na ’n bouterrein geneem waar die Tagninskaja Hidro-elektriese Kragstasie in aanbou was.

Toe ons daar aangekom het, het ons ’n barak met rye houtgeboue gesien waar die bannelinge gehuisves is. Ek is werk as ’n trekkerbestuurder en elektrisiën gegee, en my ma moes op ’n plaas gaan werk. Ons is amptelik as bannelinge geklassifiseer en nie as gevangenes nie. Ons is dus toegelaat om vryelik in die omgewing naby die kragstasie te beweeg, hoewel ons verbied is om die volgende nedersetting sowat 50 kilometer daarvandaan te besoek. Die owerheid het druk op ons uitgeoefen om ’n verklaring te teken dat ons vir ewig daar sou bly. Ek het geweier om dit te teken, want dit het vir my, ’n 19-jarige, na ’n verskriklike lang tyd geklink. Ons het nietemin 15 jaar in die gebied gebly.

Daar in Siberië was die Poolse grens nie meer net 8 kilometer van ons af nie, maar meer as 6 000 kilometer! Ons het alles in ons vermoë gedoen om onsself in gemeentes te organiseer en het manne aangestel om die leiding te neem. Aan die begin het ons geen Bybellektuur gehad nie, behalwe ’n paar items wat Getuies saam met hulle van die Oekraïne af gebring het. Ons het afskrifte daarvan met die hand gemaak en dit onder die groep versprei.

Ons het kort voor lank vergaderinge begin hou. Aangesien baie van ons in die barak gewoon het, het ons die meeste aande vergadering gehou. Ons gemeente het uit ongeveer 50 mense bestaan, en ek is gevra om die Teokratiese Bedieningskool te hou. Daar was min mans in ons gemeente, gevolglik het vroue ook studentetoesprake gehou, ’n reëling wat in 1958 op ander plekke in gemeentes van Jehovah se Getuies ingestel is. Almal het hulle toewysings ernstig opgeneem en die skool as ’n manier beskou om Jehovah te loof en ander in die gemeente aan te moedig.

Ons bediening is geseën

Aangesien ons saam met nie-Getuies in die barak gewoon het, het ons so te sê elke dag met ander oor ons geloof gepraat, al was dit streng verbied. Nadat Josef Stalin, die Sowjetpremier, in 1953 gesterf het, het toestande verbeter. Ons is toegelaat om vryeliker met ander oor ons Bybelse oortuiging te praat. Ons het vir vriende in die Oekraïne geskryf en uitgevind waar ander Getuies in ons gebied woon en met hulle in verbinding getree. Dit het ons in staat gestel om ons gemeentes in kringe te organiseer.

In 1954 het ek met Olga getrou, wat ook uit die Oekraïne verban is. Deur die jare heen was sy ’n groot hulp vir my in my diens aan Jehovah. Dit was Olga se broer, Stepan, wat in 1947 by die grens tussen die Oekraïne en Pole doodgeskiet is. Later het ons ’n dogter, Valentina, gehad.

Ek en Olga het talle seëninge in ons Christelike bediening in Siberië geniet. Ons het byvoorbeeld met George, die leier van ’n Baptistegroep, in aanraking gekom. Ons het hom gereeld besoek en enige Wagtoring wat beskikbaar was met hom studeer. George het gou besef dat Jehovah se knegte die waarheid uit die Bybel verkondig. Ons het ook met ’n hele paar van sy Baptistevriende begin studeer. Hoe bly was ons tog toe George en ’n aantal van sy vriende gedoop is en ons geestelike broers geword het!

In 1956 is ek as ’n reisende opsiener aangestel, wat vereis het dat ek elke week ’n gemeente in ons gebied besoek. Ek het heeldag gewerk en dan in die aand op my motorfiets uitgegaan om die gemeente te besoek. Vroeg die volgende oggend het ek teruggekeer en werk toe gegaan. Michailo Serdinski, wat aangestel is om my in die reisende werk te help, is in 1958 in ’n padongeluk oorlede. Hy het op ’n Woensdag gesterf, maar ons het sy begrafnis tot die Sondag uitgestel om soveel Getuies moontlik die geleentheid te gee om dit by te woon.

Toe ’n groot groep van ons na die begraafplaas begin loop, het lede van die Staatsveiligheidsafdeling ons gevolg. Ek het die gevaar geloop om in hegtenis geneem te word omdat ek ’n toespraak oor ons Bybelse hoop van die opstanding gehou het. Maar ek moes eenvoudig oor Michailo en sy wonderlike toekomsvooruitsigte praat. Hoewel ek die Bybel gebruik het, het die lede van die Staatsveiligheidsafdeling my nie in hegtenis geneem nie. Hulle het blykbaar nie gedink dat dit van enige nut sou wees nie, en hulle het my in elk geval goed geken, aangesien ek dikwels as ’n “gas” by hulle hoofkwartier ondervra is.

Deur ’n informant verraai

In 1959 het die Staatsveiligheidsafdeling 12 Getuies in hegtenis geneem wat die leiding in die predikingswerk geneem het. Verskeie ander is vir ondervraging ingeroep, en ek was een van hulle. Toe dit my beurt was, was ek verstom om te hoor hoe die amptenare vertroulike besonderhede oor ons werk noem. Hoe het hulle hierdie dinge uitgevind? Daar was ongetwyfeld ’n informant, iemand wat baie oor ons geweet het en wat al ’n geruime tyd vir die Staat werk.

Die 12 wat in hegtenis geneem is, was in aangrensende selle, en hulle het ooreengekom dat hulle niks meer vir die owerheid sou sê nie. Dan sou die informant self by die verhoor moes verskyn om getuienis teen hulle te lewer. Hoewel ek nie aangekla is nie, het ek na die hof gegaan om te sien wat sou gebeur. Die regter het hulle ondervra, en die 12 het nie geantwoord nie. Toe het ’n Getuie, Konstantin Polisjtsjoek, wat ek jare lank geken het, teen die 12 getuig. Aan die einde van die verhoor is party van die Getuies tronkstraf opgelê. Ek het Polisjtsjoek in die straat buite die hofgebou raakgeloop.

“Waarom verraai jy ons?” het ek gevra.

“Omdat ek nie meer glo nie”, het hy geantwoord.

“Wat glo jy nie meer nie?” het ek gevra.

“Ek kan net nie meer die Bybel glo nie”, het hy geantwoord.

Polisjtsjoek kon my ook verraai het, maar in sy getuienis het hy nie my naam genoem nie. Ek het hom dus hieroor gevra.

“Ek wil nie hê jy moet tronk toe gaan nie”, het hy verduidelik. “Ek voel nog steeds skuldig oor jou vrou se broer, Stepan. Dit was deur my toedoen dat hy die grens oorgesteek het op die aand wat hy doodgeskiet is. Ek is werklik jammer daaroor.”

Sy woorde het my dronkgeslaan. Hoe verwronge het sy gewete tog geword! Hy was spyt oor Stepan se dood, en tog het hy Jehovah se knegte nou verraai. Ek het Polisjtsjoek nooit weer gesien nie. Hy is ’n paar maande later dood. Dit het my met diep emosionele letsels gelaat om te sien hoe iemand wat ek jare lank vertrou het ons broers verraai. Maar die ondervinding het my ’n waardevolle les geleer: Polisjtsjoek was dislojaal omdat hy opgehou het om die Bybel te lees en dit te glo.

Ons moet hierdie les beslis in gedagte hou: Om lojaal aan Jehovah te bly, moet ons die Heilige Skrif gereeld bestudeer. Die Bybel sê: “Bewaak jou hart . . . , want daaruit is die oorspronge van die lewe.” Daarbenewens het die apostel Paulus vir Christene gesê om op hulle hoede te wees. Waarom? “Uit vrees dat daar ooit in enigeen van julle ’n goddelose, ongelowige hart sal ontwikkel deurdat hy hom van die lewende God terugtrek.”—Spreuke 4:23; Hebreërs 3:12.

Terug na die Oekraïne

Toe ons ballingskap in 1966 in Siberië tot ’n einde gekom het, het ek en Olga na die Oekraïne teruggetrek, na die dorpie Sokal, ongeveer 80 kilometer van Lviv. Ons het baie werk gehad, aangesien daar net 34 Getuies in Sokal en die nabygeleë dorpies Cerwonograd en Sosniwka was. Ons het vandag 11 gemeentes in hierdie gebied!

Olga het in 1993 getrou gesterf. Drie jaar later het ek met Lidija getrou, en sedertdien was sy ’n groot hulp vir my. Daarbenewens is my dogter, Valentina, en haar gesin ywerige knegte van Jehovah en ook ’n bron van aanmoediging. Maar wat my nog steeds die grootste vreugde verskaf, is die feit dat ek lojaal gebly het aan Jehovah, ’n God wat lojaal handel.—2 Samuel 22:26NW.

Alexei Dawidjoek het op 18 Februarie 2000 lojaal aan Jehovah gesterf, terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is.

[Prent op bladsy 20]

Ons gemeente wat in 1952 in die barak in oostelike Siberië vergader het

[Prent op bladsy 23]

Begrafnis in 1958 vir Michailo Serdinski

[Prent op bladsy 23]

Ons Teokratiese Bedieningskool in 1953

[Prent op bladsy 24]

Saam met my vrou Lidija