Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit verstandig om in die aandelemark te belê?

Is dit verstandig om in die aandelemark te belê?

Is dit verstandig om in die aandelemark te belê?

“Rekordgetalle belê nou in die mark.”—Newsweek, 5 Julie 1999.

DIE vloer van ’n tradisionele aandelebeurs lyk na ’n chaotiese markplein. Geheimsinnige (vir die buitestander) handseine word gebruik, kodeboodskappe verskyn op elektroniese teledrukkers en verander teen ’n waansinnige spoed, en makelaars op die vloer ding teen mekaar mee om bo die gejaagde bedrywighede gehoor te word.

Vandag belê baie mense, wat eens deur die aandelemark verwar is, nietemin in aandele. Waarom? Om maar een ding te noem, die Internet het beleggers in staat gestel om binne minute toegang tot finansiële nuus, beleggingsadvies en aandelemakelaars te verkry. Paul Farrell, hoofredakteur van Wall Street News, skryf: “Vir [individuele beleggers] is kuberruimte die nuwe terrein vir belegging, die nuwe goudstormloop, die vryheid om jouself te wees, met die geleentheid om finansieel onafhanklik te word terwyl jy by die huis werk.”

Daarenteen is party finansiële raadgewers bekommerd oor die gretigheid van baie om in ’n mark te belê waarvan hulle dalk baie min weet. Een beleggingshandelaar met meer as 38 jaar ondervinding in die aandelebedryf het aan Ontwaak! gesê: “Meer mense belê in die aandelemark as spekulante en nie as beleggers nie. Party noem dit dalk ’n belegging, maar hulle weet niks van die maatskappy [wie se aandele] hulle koop en verkoop nie.”

Watter faktore moet jy oorweeg voordat jy jou geld belê? Is dit dobbel, aangesien ’n mate van risiko by die handel van aandele betrokke is? Laat ons eerstens kyk hoe die aandelemark werk.

’n Mens koop ’n deeltjie van die maatskappy

Maatskappye het kapitaal, of geld wat belê word, nodig om suksesvol te kan werk. Wanneer ’n maatskappy floreer en groot hoeveelhede kapitaal nodig het, besluit die bestuur dalk om aandele vir die publiek aan te bied. Een handleiding oor die aandelemark verduidelik dit op hierdie manier: “Aandele is ’n deeltjie van die maatskappy. Wanneer jy effekte of aandele koop, besit jy ’n deel van die maatskappy.”

By ’n straatmark kom kopers en verkopers bymekaar en doen sake. Die aandelebeurs is eweneens ’n markplein vir diegene wat aandele koop en verkoop. Voor die ontwikkeling van die beurs is aandele by koffiehuise en langs die pad deur makelaars verhandel. Onder ’n koeëlblomplataan by Wall Street 68 het verhandelinge tot die stigting van die New Yorkse Effektebeurs gelei. * Daar is nou aandelebeurse in baie lande. Op enige gegewe werksdag, te alle tye, is daar ’n aandelemark êrens in die wêreld oop.

’n Belegger open gewoonlik ’n rekening by ’n makelaar en plaas ’n bestelling om aandele te koop. Vandag kan bestellings om aandele te koop of te verkoop oor die telefoon, deur die Internet of deur ’n persoon geplaas word. Die makelaar moet dan die bestelling namens die belegger uitvoer. As die aandele op ’n tradisionele beursvloer verhandel word, vra die makelaarskantoor een van sy makelaars op die vloer om aandele vir die belegger te koop of te verkoop. In onlangse jare het party beurse ’n ten volle elektroniese handelstelsel in gebruik geneem, waar verhandelinge binne sekondes gedoen kan word nadat die bestelling by ’n makelaar geplaas is. Verhandelinge word dan aangeteken op beursnoterings—heersende pryse en handelsbesonderhede wat op ’n elektroniese teledrukker vertoon word.

Die prys waarteen aandele gekoop of verkoop word, word gewoonlik deur mededingende bieëry bepaal, soos by ’n veiling. Sakenuus, maatskappyverdienste en die toekomstige vooruitsigte van ’n onderneming kan die prys van aandele beïnvloed. Beleggers hoop om hulle aandele teen ’n lae prys te koop en dan hulle aandele teen ’n wins te verkoop nadat die waarde daarvan vermeerder het. ’n Gedeelte van die maatskappy se wins kan ook tussen die aandeelhouers as dividende verdeel word. Sommige mense koop aandele as ’n langtermynbelegging; ander verhandel aandele gereeld met die hoop om voordeel te trek uit aandeelpryse wat in ’n kort tydperk geweldig styg.

Hoewel dit gebruiklik was om aandele oor die telefoon te verhandel, het rekenaartransaksies (die koop en verkoop van aandele deur die Internet) al hoe gewilder geword. The Financial Post berig dat die aantal rekenaartransaksies in die Verenigde State “van ongeveer 100 000 per dag in 1996 tot byna 500 000 teen die einde van Junie [1999] toegeneem het; gevolglik word nagenoeg 16% van alle transaksies in die Verenigde State elektronies gedoen”. In Swede is ongeveer 20 persent van alle aandele in 1999 deur die Internet verhandel.

Belê verstandig

Die oënskynlike gemak waarmee mense aandele deur die Internet verhandel en toegang tot inligting verkry wat voorheen net vir makelaars en beroepshandelaars beskikbaar was, het talle individuele beleggers aangespoor om daghandel te dryf, dit wil sê die voltydse koop en verkoop van aandele. Party het winsgewende loopbane prysgegee om daghandelaars te word. Waarom? “Die aantrekkingskrag is voor die hand liggend”, verduidelik die tydskrif Money. “Daar is geen base nie, jy het volle beheer oor hoe en wanneer jy handeldryf en die potensiaal—of so lyk dit—om groot geld te maak.” Een 35-jarige man wat jaarliks R1,4 miljoen verdien het en uit sy werk bedank het om aandele van die huis af te verhandel, het glo gesê: “Hoe is dit andersins moontlik om geen inventaris op te stel nie en om geen werknemers te hê nie, om geen huur te betaal nie, om op ’n sleutelbord te tik-tik-tik en steeds ’n bestaan te maak?”

Deskundiges waarsku dat dit nie vir ’n nuwe belegger so maklik is om aandele te verhandel soos wat dit dalk lyk nie. Een psigiater wat spesialiseer in die spanning wat met verhandelinge gepaardgaan, sê: “Verhandelinge lyk bedrieglik maklik, maar ek wil graag sê dat dit die moeilikste manier is om maklik geld te maak.” Die eindelose stroom van finansiële nuus en advies het nie sonder newe-effekte gepaardgegaan nie. Paul Farrell, wat vroeër aangehaal is, sê: “Die onversetlike krag van inligting wat blitsvinnig na die individuele spelers aangesnel kom—beide die individuele belegger en die professionele handelaar—het ’n groot sielkundige uitwerking: senuweeagtigheid, frustrasies, stres.”

Te veel selfvertroue kan ook ’n strik wees. Die finansiële rubriekskrywer, Jane Bryant Quinn, waarsku teen gevaarlike gesindhede onder handelaars: “Wanneer jy aan die roer van sake staan—of die muis beheer—dink jy dat slegte dinge nie kan gebeur nie. Jy sal altyd betyds kan ingryp.” Sy voeg by: “Omdat ons inligting kan bekom wat deur professionele mense gebruik word, begin ons dink dat ons ook professionele mense is.” Ondanks die wydverspreide stories oor beleggers wat oornag op die aandelemark ryk geword het, is daar inherente risiko’s daaraan verbonde om aandele te verhandel. Sommige beleggers was baie suksesvol. Ander het beduidende verliese gely.

Beleggingsadviseurs spoor potensiële beleggers aan om ’n maatskappy se vorige verslae en toekomstige vooruitsigte in ag te neem, asook die aanvraag na sy produkte, mededinging van ander sakeondernemings en verskeie ander faktore voordat ’n firma se aandele gekies word. Hierdie inligting is dikwels by aandelemakelaars en ander finansiële instellings verkrygbaar. Baie beleggers raadpleeg finansiële beplanners voordat hulle aandele koop. * Deur ’n maatskappy se agtergrond in ag te neem, kan ’n belegger ook verseker dat sy geld nie gebruik sal word om ’n onetiese onderneming te ondersteun nie.—Sien die Ontwaak! van 8 Mei 1962, bladsye 20-2.

’n Korporatiewe lotery?

Weens die risiko’s wat met die aandelemark gepaardgaan, is die koop van aandele dan dieselfde as dobbelary? ’n Mate van risiko is by byna alle finansiële beleggings betrokke. Party mense koop vaste eiendom sonder om te weet of die waarde van die eiendom oor ’n tydperk sal vermeerder of verminder. Ander deponeer hulle geld in ’n bank met die vertroue dat hulle spaargeld veilig sal wees. Hoewel die aandelemark ingewikkelder is, koop iemand wat in aandele belê, om dit eenvoudig te stel, die aandele van ’n maatskappy met die hoop dat die onderneming voorspoedig sal wees en dat die aandele in waarde sal toeneem.

So ’n belegging verskil van dobbelary omdat die aandeelhouer ’n deel van die maatskappy gekoop het. Hierdie aandele kan aan ’n ander persoon verkoop word of gespaar word met die potensiaal vir toekomstige groei. Dieselfde kan nie van iemand gesê word wat geld by ’n casino of op ’n gelukspel verwed nie. Bo alle verwagtinge probeer die dobbelaar ’n onsekere uitkoms voorspel om so die verloorder of verloorders se speelgeld te wen.

Hoeveel moet ’n belegger bereid wees om op die spel te plaas? Dit berus by elke persoon om self te besluit. Dit is natuurlik nie verstandig om meer geld in ’n belegging op die spel te plaas as wat ’n mens bereid is om te verloor nie.

’n Gebalanseerde gesindheid teenoor geld

Die begeerte om in hulle onmiddellike en toekomstige behoeftes te voorsien, het party laat besluit om in die aandelemark te belê. ’n Mens se beweegrede is belangrik wanneer jy sulke finansiële besluite maak. Jane Bryant Quinn, wat vroeër aangehaal is, sê: “As ons afgunstig is op diegene wat onverdienstelik ryk word, kan dit ons slegste instinkte as beleggers na vore bring.” Hierdie woorde kom byna ooreen met die raad wat ongeveer 2 000 jaar gelede in ’n brief aan ’n jong man geskryf is: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, is party van die geloof af op ’n dwaalspoor gebring en het hulle hulleself oral met baie pyne deurboor.”—1 Timoteus 6:9, 10.

Hoe iemand besluit om sy geld te belê, is ’n persoonlike saak. As ’n belegger hom of haar deur gesonde verstand laat lei en met lewensbenodighede tevrede is, sal hy of sy verstandig handel deur finansiële sorge op hulle plek te hou en nie gesinsverantwoordelikhede en geestelike behoeftes te verwaarloos nie.

[Voetnote]

^ par. 9 Die term “Wall Street” verwys nou dikwels na die finansiële markte in die algemeen.

^ par. 17 Nie alle raad is betroubaar nie. Beleggers moet versigtig wees vir ’n finansiële beplanner of ’n aandelemakelaar wat bloot sy eie dienste aanbeveel of sy koper vir eie gewin manipuleer.