Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Britte en ontspanning

In 1999 het die gemiddelde Brit vir die eerste keer meer geld aan ontspanningsitems en -dienste as aan “voedsel, behuising of enige ander enkele item van die weeklikse gesinsbegroting” bestee, berig die koerant die Times van Londen. In 1968 is slegs 9 persent van gesinne se totale uitgawes aan ontspanning bestee, in vergelyking met 17 persent vandag. Die verbruikerskonsultant Martin Hayward sê: “Omdat almal van ons nou soveel beter daaraan toe is as, kom ons sê, 30 jaar gelede, word baie ontspanningsitems wat miskien vroeër as ’n luuksheid beskou is nou deur die meeste mense as ’n basiese behoefte beskou. Om met vakansie te gaan, word nou deur die meeste mense as ’n noodsaaklikheid beskou en nie as iets wat hulle bloot graag wil doen nie. Party mense beskou dit selfs as ’n basiese behoefte om drie keer per jaar met vakansie te gaan.” Huisgesinne spandeer nou vier keer soveel aan video- en klanktoerusting, TV’s en rekenaars as in 1968. Trouens, 1 uit 10 huisgesinne is aan die Internet gekoppel, en 1 uit 3 het ’n rekenaar.

’n Dutjie wat verfris

Volgens The New York Times kan dit teenproduktief wees om op kafeïen staat te maak om deur die lomerigheid van die vroeë middagure te kom. “’n Mens sal lomerig voel nadat jy kafeïen ingeneem het”, sê dr. James Maas, ’n slaapspesialis van die Cornell-universiteit. “As jy ’n slaapagterstand het, gaan dit nie deur kunsmatige stimulante verminder word nie.” Maas stel voor dat ’n mens nie ’n koffiepouse neem nie, maar eerder dut, wat volgens hom “’n mens in staat stel om baie beter aan besonderhede aandag te skenk en kritieke besluite te neem”. ’n Kort middagslapie, van minder as 30 minute, kan ’n mens verfris sonder om dit moeilik te maak om wakker te word en sonder om ’n goeie nagrus te versteur, sê die Times. “’n Dutjie moet nie afgekeur word nie”, sê Maas. “Dit moet die status van daaglikse oefening hê.”

Katoen kom van skape?

Volgens ’n onlangse opname wat in opdrag van die Europese Raad van Jong Boere gedoen is, “weet 50 persent van die kinders in die EU [Europese Unie] nie waar suiker vandaan kom nie, driekwart . . . weet nie waar katoen vandaan kom nie en meer as ’n kwart dink dit kom van skape af”. Daarbenewens dink 25 persent van nege- en tienjariges in Brittanje en Nederland dat lemoene en olywe in hulle land verbou word. Die kinders kom hoofsaaklik in die supermark met landbouprodukte in kontak, nie op die plaas nie, en hulle leer hoofsaaklik op skool van landbou. Dit is miskien van die redes waarom baie Europese kinders nie vandag deur boerdery as ’n loopbaan aangetrek word nie. “Slegs gemiddeld 10 persent van EU-kinders”, sê die raad, “wil ‘baie graag’ in die toekoms ’n boer word.”

Vriendskap onder skoot

Langer werksdae, meer sakereise en elektroniese vermaak “wat ons met omtrent alles behalwe ander mense in kontak hou”, het ’n nadelige uitwerking op persoonlike vriendskappe, berig The Wall Street Journal. “Om tyd met vriende deur te bring, word op die agtergrond geskuif as ’n opsionele ekstra wat kosbare ure uit ’n rooster neem wat reeds oorvol is”, sê die koerant. Maar diegene wat vriendskappe verwaarloos, vind dalk dat “niemand daar is vir hulle” wanneer ’n gesinstragedie hulle tref nie, sê die sosioloog Jan Yager. Aan die ander kant lyk dit of studies toon dat diegene met goeie vriende gewoonlik minder spanning en siektes het en moontlik selfs langer lewe. “Die sleutel”, sê die dagblad, “is om te besef dat dit ekstra inspanning verg om vriendskapsbande te bewaar, net soos om ’n balans te vind tussen jou werk en jou gesin.”

Oorgewig kinders

“Vetsug is een van die ernstigste gesondheidsprobleme onder jongmense in Asië”, waarsku dr. Tsjwang Leh-tsjii, hoof van die dieetkundige vereniging van Taipei, Taiwan. Die voorkomssyfer van oorgewig kinders in baie dele van Asië is hoog, veral onder seuns en in stadsgebiede, berig Asiaweek. ’n Onlangse studie in Beijing het getoon dat meer as 20 persent van laer- en hoërskoolleerlinge daar oorgewig is. Dit lyk of Asiatiese kinders al hoe meer tyd voor die TV en aan videospeletjies bestee, sê die verslag. Wat kan daaromtrent gedoen word? Volgens Asiaweek is die oplossing van die probleem nie soseer om kinders se voedselinname te beperk nie, maar in ’n kombinasie van gereelde oefening en ’n gesonde dieet—’n dieet wat meer vrugte en groente as vetterige peuselhappies insluit. Dr. Tsjwang sê verder dat die sleutel tot sukses daarin lê om fisiese aktiwiteit genotvol te maak. Maar as oorgewig kinders nie hulle gewoontes verander nie, sê die verslag, kan hulle uiteindelik met hoë bloeddruk, lewerprobleme, suikersiekte en sielkundige probleme te kampe hê.

Rolprente versus die kerk

“Vir tieners bied rolprente soos Terminator 2, Titanic en Star Wars betekenisvoller godsdienservarings as tradisionele kerke”, berig die Londense koerant The Independent. Dr. Lynn Clark, van die Universiteit van Colorado se sentrum vir navorsing oor die massamedia, het 200 jongmense gevra watter rolprent die naaste aan hulle godsdiensoortuiging is. Baie het Terminator 2 gekies, wat ’n stryd tussen goed en kwaad uitbeeld, met die hoofkarakter wat teruggaan in tyd om ’n kind te red wat ’n soort Messias sou word. Dr. Clark het by ’n konferensie in Edinburg, Skotland, gesê: “Jongmense wend hulle nou tot Darth Vader en die X Files as bronne om hulle te help om vrae oor die betekenis van die lewe te ontrafel. Die X Files vind byval by hulle omdat dit na die hele idee van ’n onbekende krag kyk wat die heelal beheer. Dit wys daarop dat daar dinge is wat nie deur die wetenskap verklaar kan word nie. Dit is ’n godsdienskwessie, wat egter nie goed deur godsdiens beantwoord word nie.”

Rook verkort lewe

“Elke sigaret wat ’n man rook, verkort sy lewe met 11 minute”, berig die University of California Berkeley Wellness Letter. As hy ’n pakkie sigarette rook, sal dit sy lewe dus met ’n dag en ’n half verkort, en elke jaar wat hy ’n pakkie per dag rook, sal sy lewe met byna twee maande verkort word, volgens navorsers by die Universiteit van Bristol, Engeland. Wetenskaplikes het hierdie skattings verkry deur die lewensverwagtinge van mans wat rook met dié van nierokers te vergelyk. Die navorsers het gesê: “Dit openbaar die hoë prys van rook op ’n manier wat almal kan verstaan.”

Olifante as “kunstenaars”

In Ottapalam, Indië, word olifantkalfies geleer om prente te verf deur ’n kwas met hulle slurp vas te hou. Bewaringsgesindes het die Asiatiese Olifantkuns- en Bewaringsprojek op die been gebring om geld in te samel ter beskerming van die olifante deur hulle skilderye te verkoop, berig The Indian Express. Dit lyk veral of een sesjarige olifantbul Ganesan sy werk as “kunstenaar” geniet. Wanneer hy lus is om te verf, flap hy sy ore en neem hy die kwas by sy afrigter. Wanneer Ganesan verf, hou hy nie daarvan om gesteur te word nie, selfs nie deur voëls of eekhorings nie. Nadat Ganesan ’n paar kleurvolle hale gemaak het, staan hy terug en evalueer hy skynbaar sy werk. Maar nie alle jong olifante reageer op pogings om “kunstenaars” van hulle te maak nie. Party toon hulle misnoeë deur die kwaste te breek.

Geprogrammeerde geboortes

“Kinders het geleer om gebore te word wanneer die hospitaal dit wil hê”, sê die Italiaanse koerant Corriere della Sera. By ’n konferensie oor bevalling wat onlangs in Florence, Italië, gehou is, het die Switserse ginekoloog Fred Paccaud gesê: “In die Westerse wêreld was daar sedert die 19de eeu ’n afname van 95 persent in geboortes op Saterdae en Sondae. Maar dit is nie al nie: Ons kan sê dat die meeste geboortes gedurende vakbondkorrekte ure van die dag plaasvind, met ander woorde, gedurende daardie skofte wanneer die meeste dokters en verpleegsters werk.” Die geboortes word óf deur medikasie aangebring óf met behulp van ’n keisersnee gedoen. “Ons vind onsself nou in die situasie waar geboortes deur medikasie en operasies gereguleer word”, sê Angelo Scuderi, ’n ginekoloog van Florence. “Ons sien ’n vinnige toename in keisersneë, wat nou al meer as 20 persent [van geboortes] uitmaak.” Maar professor Carlo Romanini, voorsitter van die Italiaanse Genootskap van Ginekologie en Verloskunde, sê dat “‘geprogrammeerde’ geboortes nie gedoen word omdat dit gerieflik is nie”, maar dat dit ’n veiligheidsmaatreël is om moeders en hulle babas teen onvoorsiene komplikasies te beskerm. “Dit is baie beter dat [’n baba gebore word] wanneer al die hospitaalpersoneel daar is en die bes moontlike sorg kan waarborg”, het hy gesê.