Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat het van die “lewenslange betrekking” geword?

Wat het van die “lewenslange betrekking” geword?

Wat het van die “lewenslange betrekking” geword?

GRAHAM * het 37 jaar lank vir ’n groot Australiese maatskappy gewerk. In sy laat vyftigerjare het hulle skielik vir hom gesê dat hulle nie meer sy dienste nodig het nie en is hy ’n paar weke kennis gegee. Ons kan verstaan waarom hy verward, verbaas en diep bekommerd oor sy toekoms was. ‘Wat het van my “lewenslange betrekking” geword, waarvan ek gedink het ek seker was totdat ek aftree-ouderdom bereik?’ het Graham gewonder.

Dit is natuurlik niks ongewoons om jou werk te verloor nie, en dit is ook niks nuuts nie. Maar die aantal mense wat wêreldwyd hulle werk verloor, is iets nuuts vir hierdie huidige geslag van werknemers. Daar is ongetwyfeld baie redes waarom mense hulle werk verloor, maar ’n belangrike rede hiervoor is blykbaar iets wat afskaling genoem word. Wat is afskaling, en wat het daartoe aanleiding gegee?

Die veranderende werksplek

Ekonomieë het vandag al hoe meer internasionaal geword. Dit is veral in die laat 1970’s in die Verenigde State opgemerk toe maatskappye agtergekom het dat al hoe meer verbruikers motors, elektroniese ware en baie ander goedere koop wat oorsee vervaardig is.

In ’n poging om meer mededingend te word en produksiekoste te besnoei, het Amerikaanse maatskappye die aantal werkers begin verminder en hulle metodes en toerusting begin verbeter. Die tegniek wat gebruik is om die arbeidsmag te verminder, het as afskaling begin bekend staan. Die proses is al beskryf as die “vermindering van ’n organisasie se arbeidsmag, gewoonlik deur ’n kombinasie van afdankings, aansporings om vroeg af te tree, oorplasings en natuurlike uitvloei”.

Dit was jare lank hoofsaaklik bloukraagwerkers wat deur afskaling geraak is. Maar in die laat 1980’s en vroeë 1990’s het hierdie proses ’n toenemende aantal witboordjiewerkers begin insluit, veral middelvlakbestuurslui. Hierdie neigings het weldra alle nywerheidslande geraak. En aangesien finansiële druk voortgeduur het, het regerings en ander werkgewers koste deur verdere afskaling probeer besnoei.

Vir baie werknemers bestaan werksekuriteit nie meer nie. ’n Vakbondamptenaar sê: “Mense wat 10, 15, 20 jaar van lojale diens voltooi het, het gesien hoe hulle ongeskrewe kontrak as ’t ware opgeskeur word, en hulle is in die pad gesteek.” In haar boek Healing the Downsized Organization verduidelik Delorese Ambrose dat die woord “organisasieman” in 1956 geskep is om die tipiese werknemer te beskryf. Sy voeg by: “Hetsy hy ’n vakbondwerker of ’n bestuurder was, hy het sy ekonomiese welsyn, sosiale lewe en lojaliteit aan die organisasie oorgegee in ruil vir sekuriteit—’n lewenslange betrekking. Dit is duidelik dat hierdie ooreenkoms in die hedendaagse korporasie verbreek is.”

Miljoene werkers regoor die wêreld het hulle werk verloor weens afskaling, en geen groep werknemers het ongedeerd daarvan afgekom nie. In die Verenigde State alleen is ’n aansienlike aantal werknemers geraak, met miljoene wat vaste betrekkings verloor het. Soortgelyke afskaling het in talle ander lande plaasgevind. Maar hierdie onpersoonlike statistiek dra nie op sigself die menslike ellende oor wat daarmee gepaardgaan nie.

Die nadelige gevolge

Graham, wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, het gesê: “Dit laat ’n mens met sielkundige letsels.” Hy het sy afdanking met “’n siekte of ’n pynlike fisiese slag” vergelyk.

Wanneer lojaliteit nie beloon word nie, voel mense dat hulle verraai is omdat die opofferings wat hulle vir die maatskappy gemaak het, nie waardeer is nie. Vertroue word geskend, veral wanneer talle bestuurshoofde groot somme geld kry omdat hulle die maatskappy afgeskaal het. Die skielike verlies van ’n vaste inkomste belemmer ook die werklose persoon se vermoë om verbandpaaiemente, ander skuld, gesondheidsorg vir gesinslede en skoolgeld te betaal, asook om sy of haar lewenstyl, stokperdjies en persoonlike besittings in stand te hou. Dit lei tot gevoelens van wanhoop en waardeloosheid.

Aangesien stabiele, betekenisvolle werk grootliks tot gevoelens van persoonlike waarde bydra, kan jy jou die verpletterende uitwerking voorstel wat werkloosheid op gestremde, ongeskoolde en ouer persone het. ’n Opname in Australië het getoon dat mense tussen die ouderdomme van 45 en 59 die grootste gevaar loop om afgedank te word. En tog is dit die ouderdomsgroep wat dit die moeilikste vind om by die verandering aan te pas.

Is daar opsies beskikbaar? Deeltydse werk of laer besoldigde werk is beslis verkieslik bo werkloosheid. Maar dit kan ’n laer lewenstandaard tot gevolg hê. En daar is gevind dat slegs ongeveer ’n derde van afgedankte werkers uiteindelik werk kry wat net so goed soos hulle vorige werk betaal. Dit plaas bykomende druk op die gesinslewe.

Selfs as ’n mens werk het, verseker dit nie noodwendig gemoedsrus nie. Dit is omdat die moontlikheid dat jy jou werk kan verloor ’n subtiele dog verpletterende uitwerking het. Die boek Parting Company sê: “Om jou op afdanking voor te berei, is soos om die beste manier te kies om deur ’n vragmotor getref te word. Jy kry selde die geleentheid om selfs die beste idees te toets, want gewoonlik sien jy nie die vragmotor—of dat jy jou werk gaan verloor—voor dit te laat is nie.”

Hoe raak werkloosheid jongmense? Nadat ’n departement van opvoeding en wetenskap ’n opname gedoen het, is hierdie opmerking gemaak: “Een van die belangrikste eksterne bevestigings dat iemand volwassenheid bereik het, was wanneer hy ’n voltydse werk gekry het, wat die begin aangedui het van die ‘werklike’ volwasse lewe, in ’n volwasse wêreld en volgens volwasse standaarde, met die gepaardgaande finansiële onafhanklikheid.” As mense voel dat indiensneming die begin van die werklike volwasse lewe aandui, kan werkloosheid dus verpletterend vir jongmense wees.

Hoe om werkloosheid te oorleef

Om afdanking te hanteer, is al daarmee vergelyk om deur ’n mynveld te loop. Die boek Parting Company sê dat woede, skaamte, vrees, hartseer en selfbejammering die algemeenste emosies is wat mense ervaar. Dit is moeilik om hierdie emosies te verwerk. Die skrywer sê: “Jy is ’n moeilike taak gegee—jy moet jou toekoms bepaal. Jy het nie vir hierdie taak gevra nie, jy weet waarskynlik nie wat om volgende te doen nie, en ewe skielik voel jy dalk baie alleen.” En om hulle skielike afdanking aan hulle gesin te verduidelik, is een van die moeilikste probleme waarmee die werkloses te kampe het.

Maar daar is ’n paar praktiese maniere waarop ’n mens die uitwerking van afskaling die hoof kan bied. Die eerste stap is om jou lewenswyse onmiddellik te vereenvoudig deur ’n lewenstyl te beplan en te volg wat eenvoudiger is as waaraan jy in die verlede gewoond was.

Hier is ’n paar wenke wat jou kan help om die situasie te hanteer, al los dit nie die probleem heeltemal op nie. Eerstens moet jy besef dat onverwagse afdankings in hierdie tye ’n werklikheid is. Ongeag jou ouderdom en ondervinding, jy moet dus vir daardie moontlikheid voorberei deur die manier waarop jy jou lewe lei.

Tweedens, wees versigtig voor jy enige groot skuld aangaan vir items wat nie noodsaaklik is om in ons behoefte aan voedsel, klere en onderdak te voorsien nie. Lewe binne jou inkomste, en moenie aanneem dat jy skuld met verwagte inkomste van bevorderings of gereelde verhogings sal kan dek nie. Die boodskap van vandag se ekonomie is dat daar moontlik geen langtermyntoekoms is waarop ’n mens kan staatmaak nie.

Derdens, soek na maniere om jou lewe te vereenvoudig en huidige finansiële verpligtinge te verminder. Dit sluit in dat ’n mens van skuld ontslae raak vir items wat nie noodsaaklik is vir ’n redelik eenvoudige, heilsame lewenstyl nie.

Vierdens, hersien jou lewensdoelwitte, geestelik en sekulêr, en pas hulle aan by jou huidige omstandighede. Dan kan jy alle besluite teen jou doelwitte opweeg en die uitwerking daarvan bepaal.

Laastens, moenie met verlange na die lewenstyl van ander om jou kyk wat minder spaarsamig lewe nie, sodat jy nie hulle besittings begin begeer en in die versoeking kom om soos hulle te begin lewe nie.

Dit is ’n paar wenke wat jou en jou gesin kan help om nie die fout te maak om op onsekere rykdom in ’n baie onseker wêreld te vertrou nie en julle baie van die sorge te spaar wat met moderne lewenstyle gepaardgaan.

Die voormalige beleggingsbankier Felix Rohatyn het blykbaar gesê: “Daar is ’n fundamentele fout in ons samelewing wanneer een persoon se werkloosheid ’n ander se rykdom voortbring.” Hierdie stelsel is fundamenteel so verdorwe dat dit binnekort met ’n wêreld vervang sal word waar die woorde “lewenslange betrekking” ’n betekenis sal aanneem wat ons hoogste verwagtinge sal oortref.—Jesaja 65:17-24; 2 Petrus 3:13.

[Voetnoot]

^ par. 2 Die naam is verander.

[Lokteks op bladsy 14]

‘Daar is ’n fundamentele fout wanneer een persoon se werkloosheid ’n ander se rykdom voortbring’

[Prent op bladsy 15]

Soek na maniere om jou lewe te vereenvoudig