Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Alternatiewe terapieë—Waarom baie daarvan gebruik maak

Alternatiewe terapieë—Waarom baie daarvan gebruik maak

Alternatiewe terapieë—Waarom baie daarvan gebruik maak

ALTERNATIEWE, of aanvullende, geneeskunde sluit ’n wye reeks geneeskundige tegnieke en behandelingsmetodes in. Baie val onder die algemene beskrywing natuurgeneeskunde, wat ’n stelsel van behandeling is wat die gebruik van natuurlike middels of fisiese middele beklemtoon om die liggaam op te bou en dit toe te laat om self te genees. Heelparty van hierdie terapieë, wat eeue lank algemeen gebruik is, is lank deur die moderne geneeskunde verwerp of geïgnoreer.

Die Journal of the American Medical Association van 27 Augustus 1960 het byvoorbeeld gesê dat kouebehandeling vir brandwonde “aan die mense van die ou tyd bekend was, maar blykbaar deur geneeshere sowel as leke geïgnoreer [is]. Hoewel al die verspreide verwysings in die lektuur eenstemmig is wat hulle lof vir hierdie vorm van behandeling betref, word dit nie vandag algemeen gebruik nie. Trouens, die meeste geneeshere sê ‘dit word eenvoudig nie gedoen nie’, al weet niemand presies waarom nie.”

Maar in onlangse dekades is die aanwending van koue water of koue kompresse vir brandwonde weer eens deur konvensionele geneeskunde voorgestaan. The Journal of Trauma van September 1963 het berig: “Belangstelling in die gebruik van koue water in die vroeë behandeling van brandwonde het ontwikkel sedert die verslae van Ofeigsson en Schulman in 1959 en 1960. Ons het pasiënte die afgelope jaar met hierdie metode behandel; ons kliniese resultate was aanmoedigend.”

Die behandeling met koue water is betreklik veilig, en dit bied beslis strelende verligting. Hidroterapie, wat water op verskillende maniere inspan om kwale te behandel, word in alternatiewe geneeskunde gebruik, en nou word verskillende vorme van hierdie behandeling ook deur moderne geneeskunde erken. *

Alternatiewe terapeute gebruik ook dikwels plante om siektes te behandel. Dit is al honderde—selfs duisende—jare lank ’n gebruik in sommige wêrelddele. In Indië is die gebruik van kruie byvoorbeeld al lank ’n onontbeerlike deel van geneeskunde. Vandag word die genesingskrag van sekere plante feitlik oral deur baie gesondheidsdeskundiges erken.

’n Merkwaardige ondervinding

Ongeveer honderd jaar gelede is Richard Willstätter, wat later ’n student van die biochemie van plante geword het, beïnvloed deur wat met ’n jong vriend, die tienjarige Sepp Schwab, gebeur het. Sepp het ’n ernstige infeksie in sy been gehad, en ’n dokter het gesê dat dit afgesit moet word om sy lewe te red, maar Sepp se ouers het die operasie tot die volgende oggend uitgestel. Intussen het hulle ’n herder opgespoor wat bekend was vir sy gebruik van kruiemedisyne. Die herder het verskillende plante bymekaargemaak, dit in klein stukkies opgesny totdat dit soos ’n hoop gekookte spinasie gelyk het en dit op die wond gesit.

Teen die oggend was die wond beter, en die operasie is weer uitgestel. Die behandeling is voortgesit, en met verloop van tyd het die wond heeltemal genees. Willstätter het later chemie aan die Universiteit van München in Duitsland gestudeer en uiteindelik die Nobelprys gewen vir ontdekkings wat hy gemaak het in verband met sy studies van plantpigmente, veral chlorofil. Dit is interessant dat ongeveer 25 persent van farmaseutiese middels wat tans gebruik word deels of geheel en al van chemiese stowwe afkomstig is wat natuurlik in plante voorkom.

Balans nodig

Iets wat ’n mens egter in verband met mediese behandeling moet besef, is dat ’n behandeling wat wonders vir een persoon verrig van baie min waarde vir iemand anders kan wees. Die doeltreffendheid van enige soort terapie hang van baie faktore af, onder meer die soort siekte en hoe ernstig dit is sowel as die pasiënt se algemene gesondheid. Selfs die tydsberekening kan ’n faktor wees.

Alternatiewe metodes werk gewoonlik stadiger as ortodokse metodes, gevolglik kan ’n siekte wat moontlik genees kon word as dit vroeër gediagnoseer en behandel is dalk tot die stadium ontwikkel waar sterker geneesmiddels—miskien selfs ’n operasie—nodig is om die persoon se lewe te red. Dit kan dus onverstandig wees om aan een soort terapie vas te hou asof dit die enigste manier is om ’n gesondheidsprobleem te behandel.

Alternatiewe geneeskunde verskil van konvensionele terapieë in sy benadering tot gesondheid. Gewoonlik hou sy geneeskundige metodes meer verband met voorkoming, en dit lê die klem op ’n persoon se lewenswyse en omgewing en hoe hierdie faktore sy gesondheid raak. Met ander woorde, praktisyns van alternatiewe terapieë kyk gewoonlik na die hele persoon en nie net na ’n aangetaste orgaan of ’n siektetoestand nie.

Een rede waarom alternatiewe geneeskunde sterk byval vind, is ongetwyfeld die idee dat die gebruik van natuurlike produkte en die metodes van behandeling nie so straf op die liggaam is nie en ook minder gevaarlik is as die metodes wat deur konvensionele geneeskunde gebruik word. Weens die groeiende belangstelling in die identifisering van veilige en doeltreffende mediese behandelingsmetodes sal ’n paar voorbeelde van alternatiewe terapieë dus in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnoot]

^ par. 5 Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1988, bladsye 25-6.