Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dit het gehelp om sy lewe te red

Dit het gehelp om sy lewe te red

Dit het gehelp om sy lewe te red

Die voorbladreeks van die “Ontwaak!” van 22 Desember 1999 het die onderwerp “Ontvoering—Waarom dit ’n wêreldwye gevaar is” bespreek. William Louis Terrell het gesê dat hierdie nommer van die “Ontwaak!” gehelp het om sy lewe te red.

KORT ná tien, Vrydagoggend, 10 Maart 2000, het Joseph C. Palczynski jr., wat gewapen was, Terrell uit sy huis ontvoer. Die Ontwaak!-artikels, waaraan Terrell gesê het hy gedurigdeur tydens hierdie wedervaring teruggedink het, het die volgende wenke van deskundiges bevat oor wat om te doen as ’n mens ontvoer word:

“Gee jou samewerking; moenie koppig wees nie. Teëstribbelrige gyselaars word meer dikwels aan wrede behandeling onderwerp, en hulle loop groter gevaar om doodgemaak of vir straf uitgesonder te word.

“Moenie paniekerig word nie. Hou in gedagte dat die meeste slagoffers die ontvoering oorleef.”

“Praat met hulle [jou ontvoerders] oor alledaagse dinge indien moontlik en probeer hulle aan die gesels kry. As die ontvoerders jou as ’n individu sien, sal hulle minder geneig wees om jou seer te maak of dood te maak.

“Stel hulle op ’n beleefde manier van jou behoeftes in kennis.”

“Interaksie was al ’n beskerming vir die ontvoerde, soos die boek Criminal Behavior verduidelik: ‘Hoe beter die slagoffer en die gevangenemer mekaar leer ken, hoe meer is hulle geneig om van mekaar te hou. Hierdie verskynsel toon dat die oortreder na verloop van tyd minder geneig sal wees om die gyselaar seer te maak.’”

William Terrell, wat 53 jaar oud en een van Jehovah se Getuies is, het sy bes gedoen om hierdie wenke te volg gedurende die byna 14 uur wat hy as gyselaar aangehou is, waartydens hy ’n groot deel van die tyd met ’n vuurwapen gedreig is. Die nagmerrie het begin kort nadat Palczynski aan Terrell se deur geklop het in ’n plattelandse gebied naby die Nasionale pad 95, waar die voertuig wat Palczynski gesteel het sonder brandstof gaan staan het.

Nadat die vreemdeling vir Terrell van sy verknorsing vertel het, wou Terrell hom graag help. Palczynski het vir ’n glas water en ’n geleentheid na Baltimore, Maryland, VSA, gevra. Terrell het gesê dat hy sou reël dat iemand hom na die stad Fredericksburg, Virginië, neem, vanwaar hy per bus na sy bestemming kon gaan. Toe Terrell terugkeer met ’n glas water vir die vreemdeling, was ’n vuurwapen op hom gerig. Palczynski het Terrell beveel om hom na sy bestemming te neem.

Hoe hy die wenke gevolg het

Terrell het gedurende die rit op die N-95 Palczynski se instruksies gevolg om by die spoedbeperking te hou en nie op ’n manier te bestuur wat aandag sou trek nie. Terrell het kalm gebly en met die 31-jarige Palczynski begin gesels en opregte belangstelling in hom as persoon getoon, asook in die omstandighede wat tot hulle ontmoeting gelei het. Palczynski het vertel dat hy drie dae vroeër na sy meisie, Tracy, gegaan het wat hulle verhouding beëindig het. Daar het hy twee van haar vriende en ’n buurman doodgeskiet wat probeer keer het dat hy Tracy saam met hom neem. Tracy het later ontsnap.

Die volgende aand, terwyl Palczynski ’n voertuig probeer kaap het, is ’n tweejarige kind deur een van sy koeëls getref, wat die kind se kakebeen vergruis het. ’n Motor wat deur Jennifer Lyn McDonel bestuur is, is ook getref. Ongelukkig is sy doodgeskiet, en ’n ander koeël het hulle eenjarige kind se leë kindersitplek getref. Jennifer en haar man, Thomas, was op pad na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies, waar hulle al twee daardie aand dele op die program gehad het. Sarah Francis, Jennifer se moeder, het verduidelik: “Dit is die enigste aand wat hulle nie hulle baba na die Koninkryksaal geneem het nie. [Anders] sou ons oor twee van hulle gerou het.”

Terwyl Terrell versigtig met sy ontvoerder gepraat het, het Palczynski gesê dat hy nooit bedoel het om enigiemand seer te maak nie en dat hy werklik lief was vir Tracy en saam met haar wou wees. Terrell het verduidelik: “Ek het vir hom gesê dat hy nie die verlede kan verander nie, maar dat hy wel die toekoms kan verander, en ek het hom aangespoor om homself oor te gee. Ek het vir hom gesê dat ek hom in die tronk sou besoek en die Bybel met hom sou studeer.” Later is daar berig dat Palczynski, nadat hy in 1987 sy skoolloopbaan voltooi het, net tien maande lank nie in die tronk of in sielsieke-inrigtings of op parool was nie.

Terrell het sy ondervinding as ’n ervare Christen- ouer man gebruik en voortgegaan om die versteurde jong man se hart te probeer bereik deur werklike voorbeelde uit die Bybel te gebruik. Hy het byvoorbeeld die ondervinding vertel van ’n goeie man, Israel se koning Dawid, wat behep geraak het met die vrou van Uria, een van die soldate in Dawid se leër. Toe Dawid die vrou swanger gemaak het, het hy toegesien dat Uria op die slagveld sterf. Toe Dawid op ’n taktvolle wyse met sy sondes gekonfronteer is, het hy opregte berou getoon en God se guns herwin.—2 Samuel 11:2–12:14.

Terrell het die voortvlugtige se vertroue gewen en sy bynaam, Joby, gebruik. Toe hulle by ’n winkel stilhou en Terrell gestuur is om kos en ’n draagbare televisie te koop, het Palczynski gesê dat hy nog mense sou doodmaak as hy enigiemand probeer waarsku. Omdat Terrell besef het hoe onstabiel die voortvlugtige was, het hy daaraan gehoor gegee. Nadat Palczynski op die 11-uur nuus ’n berig oor sy misdade gesien het, het hy Terrell omhels en in een van Baltimore se voorstede verdwyn.

Ongeveer ’n week later is Palczynski in ’n huis vasgekeer waar hy gyselaars aangehou het. Terrell, van wie die voortvlugtige gepraat het, is ontbied om met die onderhandelinge te help. Ongelukkig was dit onsuksesvol, en op 22 Maart is Palczynski deur die polisie doodgeskiet toe hulle die huis bestorm het. Niemand anders het seergekry nie.

Later het Terrell ongeveer 600 eksemplare van die nommer van die Ontwaak! gekry wat volgens hom gehelp het om sy lewe te red. Hy het honderde hiervan by mense gelaat. Terrell is dankbaar dat hy dit ’n gewoonte gemaak het om die waardevolle inligting in die Ontwaak! te lees, en ons dink dat jy ook so sal voel.

[Prent op bladsy 26]

William Terrell